Wens ek was so wys op veertig

Vol 175: Wens ek was so wys op veertig

Goed, hierdie hele lewe ding en veral om ‘n grootmens te wees, is vir die voëls. Ek sê dit met die grootste respek vir die mense wat ‘n gevreesde siekte het, wat wens elke dag kan net nog asem bring, pyn vry wees en die gesigte en glimlagte van hulle geliefdes vir hulle skenk. En glo my vry daai vieslike siekte het kom lêplek kry heeltemal te na aan ons harte in hierdie huis. Dit lê mens heeltemal lam en daar is ‘n ongeloof. My brein wil dit net nie verwerk, glo of selfs aan die paadjie wat gestap moet word dink nie. Dis asof my brein wil sê as ons dit ignoreer gaan dit eenvoudig pad vat. Maar ek sal op ‘n ander keer daaroor skryf.

Die hele idee dat mens regtig eers die lewe op 40 begin geniet, is ook nou die grootste klomp twak op aarde. As jy ook soos ek gewonder het, wie op aarde sulke onsinnigheid uitgedink het, hier is bietjie agtergrond…. Life begins at 40. Ja in 1932, toe mense langer bly leef het, moes hulle seker ook begin dink het aan die lewe ver verby 40!

Boonop het ek toe ook nou in die 50ste arriveer en het my voorgeneem hierdie is nou my dekade. Losgemaak van die verantwoordelikheid van kinders, van werk, die begeerte om die
suksesleer te klim, van naam maak, van jouself bewys. Van hoop en glo jy gaan nog eendag daai slanke liggaam wat hier diep binne jou skuil, soos ‘n papie uit sy dop laat kruip. Nou is dit eerder vrede maak met die peer lyfie. Geluksalig, vry om te doen net wat jy wil.

Wel, wel, wel….die eerste drie maande van die jaar kom herinner my toe sommer gou…jy kan glo en hoop wat jy wil Poplappie, maar die 50’s gaan jou nie met meer genade beloon nie. Jy sal moet werk daarvoor. En boonop het my eie “werk daaraan” maar min verweer teen die aanslae van die wêreld daarbuite. #lifebeginsafterforty, met meer gevoel!


#lifebeginsafterforty
#lifebeginsafterforty

Klappe links en regs uitgedeel

Hemel mense ons kan mos nie elke jaar ‘n verstronter jaar as die vorige een beleef nie? As ek bygelowig was of een of ander sekte aangehang het, sou ek ook verklaar het die einde is in sig. Die wêreld val uitmekaar. Die kospryse is besig om deur die dak te skiet, die petrolprys kan hulle maar netsowel nou met R100 per liter opskuif, want hierdie R1.20 elke tweede maand, is ook nes die Simba pakkies….stadig maar seker word ons gewoond gemaak aan al minder en minder teen ‘n hoër prys. Eskom kan ook maar nou die krag heeltemal afsit, want hierdie blymakertjies elke nou en dan begin op my spiere werk. En my groter bekommernis is presies wat Dawie Roodt hier teen waarsku… Rising Cost of Living May Fuel Social Tensions, Economist Warns.

Nou ja, daar is natuurlik niks soos om hierdie goed aan ‘n mens se eie bas te voel nie. Kliënte droog op, almal se senuwees hang aan nerwe, want die wat nog my dienste kan bekostig, voel ook die knyp. Dis asof almal op hulle laaste van hulle laaste is. Almal soos drenkelinge in ‘n see waar hulle net uit desperaatheid hulle eie mense eerste op die reddingsbootjie kry.

Die ding wat my meer pla as enige iets anders is hierdie hoop wat ek gekoester het op ‘n rustiger, wyser, meer in beheer persoon. Soos Salomo van ouds. Die wyse een. Maar ek raak al meer soos Cruella De Vil. Al meer knorrig en kort van draad. Dalk is dit te veel druk, die ouderdom wat maak dat my lus om mooi broodjies te bak met mense, effe gekwyn het. Ek onthou so goed hoe een van my base een jaar met ‘n prestasiebeoordeling uitlig dat ek nie juis ‘n vreeslike hoë toleransie vlak vir dom mense het nie. Dom astrant nog minder! Selfs toe ek bitter klein was, kon ek eenvoudig nie vir Pinocchio kyk nie. Ek kon nie glo een houtpop kan so onnosel wees om vir al die streke van die jakkals en die slinkse kat te val nie.

#lifebeginsafterforty

So wat het die lewe my geleer

Toe ek nou die dag by die gym vir my vriende daar vertel ek raak 50, val hulle amper op hulle ruggens. Seker oor ek so dêm fantasties lyk op 50 natuurlik🤪 ! Maar vergeet nou maar van die uiterlike, dit slaan my toe soos ‘n nat snoek reg i tussen die oë…50 jaar op hierdie aardbol. Natuurlik voel ek nie 50 nie, weet ieg nie hoe dit veronderstel is om te voel nie, maar wat ek wel weet is dat 50 jaar ‘n lang tyd is. Dat daar bitter baie in 50 jaar gebeur het. Sommige wat ek eerder sou wou vergeet, maar dan ook so baie om oneindig dankbaar oor te wees. #lifebeginsafterforty maar almal by die gym is vol skete.🤪

Ek tel my as een van die geseëndes daarbuite. Nie omdat my pad so seepglad was nie, nee, verseker nie! Maar omdat my lewe so kleurvol was. So vol dinge om van te leer en te groei, te geniet en te verwens.

Soos julle my ken, moes ek toe eers loop stilsit en wonder, wat het hierdie 50 jaar my geleer. Wat sou ek vir ‘n jonger ek gesê het…wat sou ek anders doen.  Vir die van julle wat nog nat agter die ore is, lees, leer en pas toe. Vir die wat saam met my ander kant die halflyn kuier, laat hoor van julle. Ek is seker julle het óf dieselfde of ander ervarings/lesse om te deel. #lifebeginsafterforty of wat sê julle?

Hier gaat ons…my wyshede dus.

  1. Familie, vriende(wat soos familie raak), wandelinge in ‘n park of in ‘n vreemde stad, bring meer geluk as karre, huise en mooi skoene. Mooi skoene het my al menige maal uit ‘n donkerte gesleep ja, maar die dinge wat mens bybly is nie die kar of die huis nie. Dis die herinneringe wat mens skep. 
  2. Oefening is nie daar om jou maerder te kry nie. Dis daar vir jou kop. Ja mens se liggaam raak sterker, ja ‘n mens blaas minder teen ‘n trap uit en ja dis natuurlik goed vir jou gesondheid. Maar kan ek nou maar vir julle ‘n geheim vertel, in AL DIE JARE WAT EK OEFEN en slaafs oggende opstaan om die gym sessies by te woon, het my lyf nie ‘n jota of tittel verander nie. So ‘n sentimeter hier en een meer spier wat uitstaan daar ja, maar kyk ek na foto’s van my in my vroeë 30’s ~ lyk ek nogsteeds beter as nou! Maar oefening hou my kop skoon, dit sit my in ‘n beter bui, dit maak my baie meer kreatief en ook sommer produktief op die koop toe.  As jy my nie wil glo nie, gaan lees dan iets meer geleerd 😜 ~ Exercise Has Benefits for Mind, Body and Spirit.
  3. Jou lewensmaat, bedmaat, vriend-met-voordele ~ noem hom of haar wat jy wil. Maar daardie persoon met wie jy kies om hierdie lewe te deel het een moewies impak op jou eie sukses(of mislukkings); jou geluk(of ellende) en jou vrede(of bekommernis.) Mens dink jy is so ‘n eiland, onafhanklik en kan alles op jou eie regkry. Maak geen fout nie, baie van my sukses het ek op eie houtjie reggekry. Vir ‘n lang ruk was dit net ek en ek alleen. Dis ook waar dat sonder ‘n lewensmaat daar meer tyd is om op werk te fokus. Maar iemand wat in jou glo, iemand wat ‘n ander perspektief kan gee, iemand wat ‘n sagte landingsplek bied, wat ‘n lekker bord kos of lag aan die einde van die dag bring ~ dis die een wat jou moed gee en wind in jou seile sit.
  4. My beste werk, die meeste kreatiwiteit het ek nie bemeester agter ‘n lessenaar in ‘n kantoor nie. Nee dit was tydens interaksies met ander mense, dit was daar waar ons idees kom saamgooi.( 3 Ways Human Interaction Increases Creativity .) Die mens is nie ‘n eiland nie, ons het almal ander talente. Hoe vinniger ons dit erken en ophou voorgee ons het self alles in pag, hoe beter vir onsself. Dit is so bevrydende om te erken mens het swakpunte, maar ook om ‘n diepe wete te hê ons is wel uitstekend in ‘n ander!
  5. Goeie vriendskappe is goud werd. Ek was bevoorreg my lewe lank. Moet erken ek kan nie sê ek het op skool ooit gevoel ek was iemand se “gekose” een nie. Ek was maar so in die bondel. Nou met die ouderdom en wysheid, reken ek my sterk opinies en my “vati-stront-nie” houding was nou nie juis die tipe vriende met wie hoërskool kinders opgeskeep wou sit nie. Die lewe moes nog maklik en ongekompliseerd gewees het daai tye. Maar ek het darem so in my vriende ingegroei en kan nou met die grootste vrymoedigheid sê ek het ‘n leërskare om my nou! Hulle noem my die gom, die een wat avonture op hulle afdwing en my heel gunsteling: ”die een wat sonskyn oral met haar saamdra.” Ek laaik nogal daai laaste een!
  6. Vra as jy hulp nodig het. Dis nie ‘n sonde nie en ons het almal hulp op ‘n stadium nodig. Ek het mos maar die kwesbaarheid storie eers so ‘n jaar of wat gelede begin omarm. My generasie se vrouens is nie goed met kwesbaarheid wys nie. Hardegat lot wat hulle eie potjie kan krap, huishoudings aan die gang hou, kinders deur die skool sleep, vrou wees en boonop sommer nog ‘n paar ander ysters ook in die vuur kan hê! Maar ai tog, om kwesbaar te wees is toe meer van ‘n super krag as wat dit ‘n swakheid is. Ek doen goed deesdae…ek vra sommer links en regs hulp en dit werk net alte goed vir my. Maak die lewe veel makliker!
  7. Die meeste mense veroordeel, spring op hulle perdjies en kraak ander mense voor of agter hulle rûe af, oor die einste dinge wat hulle hulleself oor veroordeel, afkraak en minderwaardig oor voel. Soos gewoonlik is hierdie ‘n wysheid wat niemand kan betwis nie, slaat mens so tussen die oë as dit sin maak. Soos gewoonlik het Mark Manson ‘n wonderlike stuk daaroor geskryf ~ How We Judge Others Is How We Judge Ourselves .
  8. Dis daardie klein gewoontjies(die goeie soort) wat mens elke dag, oor-en-oor doen, wat die grootste resultate op die ou einde lewer. Konsekwentheid is die sleutel tot alles wat goed uitdraai. Ek is maar van die impulsiewe soort, maar as dit by goeie gewoontes kom, moet daar maar konsekwent, bietjie-vir-bietjie aan gewerk word. Ons kan tog so gou gemotiveer word – enige kwak kan ons laat glo in groot sukses met een of ander wonderkuur of program, maar daar is ‘n rede. The Power of Consistency: Why Consistency is Better than Motivation Alone.
  9. In die 50 jaar was daar vele wense, desperate gesmeek by die Here of wie dan ook wou luister daar buite in die heelal, vir ‘n sukses of ‘n lewensmaat of geluk van een of ander aard. Iets of iemand wat ek met my hele hart begeer het. Ai en dan die groot teleurstelling as dinge nie volgens MY WIL uitwerk nie. Dan jare later, as hindsight sy opwagting maak, besef mens net weer ~ die heelal het veel beter in die mou gevoer. Jou wildste drome oortref. Of die meetsnoere laat val presies waar hulle moes val.
  10. Sit alles op die spel vir die liefde. Ek volg elke jaar vir “Boer Soek ‘n Vrou.” Dan luister ek na die jonge dames en here wat vertel hoe hulle maar hulle harte beskerm teen die liefde. Tog so bang om seer te kry. Nou as iemand wat al die liefde uit al sy hoeka aanskou en uitprobeer het, kan ek met die grootste vertroue sê…die liefde is gemaak om met oorgawe aangepak te word! Groot bewondering vir mense wat vasbyt ongeag, want dis mos darem nou nie maanskyn en rose nie. Maar moet asb. nie bang wees om die liefde ‘n kans te gee nie.
#lifebeginsafterforty

En nou vir die volgende 50!

Dis seker een van die groot ontnugteringe van 50 word. Daar is verseker nie nog 50 vir my oor op die aarde nie. Niks in my DNS dui daarop dat ek daai mylpaal gaan bereik nie.

Maar intussen wil ek meer doen van dit wat my op koers hou. Ek raak darem so met die jare sekerder oor die koers waarop ek wil wees. Dis ‘n bonus en verligting!

Mag jy, watter ouderdom jy ook ál vandag is, net vry wees. Vry van al jou eie verwagtinge, vry van alles wat jou gevange hou.  #lifebeginsafterforty is pure bog!

Skryf vir my en stuur aan vryheid@wynvlieg.com. Jy kan ook ‘n boodskap los op www.wynvlieg.com.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *