Verlede week deel ek ‘n skrywe, wat sonder om te skroom, die dood van ‘n ma(of ouer dan) reguit ‘n groot fokop noem. Sommer so by die naam en te oordeel aan die entoesiastiese terugvoer op die stukkie ~ is almal dit eens. Dit is een groot fokop.
Daar is ook ‘n goue draad hier. Dis duidelik dat daar baie ma’s en dan nou pa’s ook is wat ‘n deel nalaat. Wat nie sommer net van stof tot stof gegaan het nie. Wat ‘n massiewe gat los. Ek besef toe net weer, die dooies gaan nooit regtig dood nie. Tema nommer een van my doods beheptheid die week. #deathlessons
Tema twee doen hom toe voor hier in my huis. Toe my kind my vermaan dat ek nie altyd hierdie toxic positivity soos ‘n sambreel oor ons hoef te hou nie. Of dalk ‘n swaard om al die sleg af te weer nie. Dit bring my by tema nommer twee oor die dood ~ ons(wel ek in elk geval) het die gewoonte om nie alle emosies ewe veel spasie te gun nie. Ek kategoriseer emosies in die goeies(die wat mens iets mee kan doen) en die slegtes(wat liefs die deur gewys moet word.) Ek is ook nie enig in my soort nie hoor, vra bietjie rond. Mense wil tog net nie so hartseer voel, of so alleen of so teleurgesteld nie. Ons wil eerder goed voel, opgeruimd en positief. Maar wee julle wat, dis ‘n dooie mens se begeertes daai. Om nie regtig te voel nie.
Tema I: Die dooies is nog met ons
#deathlessons
Die afgestorwenes is nog elke dag daar. Hulle dwaal daar in die stories rond wat ons mekaar vertel. ‘n Gedagtegang, in ‘n geur, ‘n les wat geleer is. Daar is al die wysheid wat hulle met ons gedeel het, vergader oor die jare, duur bekom deur ondervinding.
Die groot besef – die lewe draai nie net om ons nie. Nie net om die hier en nou nie. Ons is elke liewe een op ‘n pelgrimstog wat lank voor ons geboortes reeds ‘n begin gehad het. Ons is ‘n verlengstuk van ‘n geskiedenis draad ~ van ons voorvaders, hulle sin en so gaan ons aan tot daar by die begin. #deathlessons
Lank gelede reeds het ‘n Edmund Burke sy teorie oor die Burk and the breaking of the social contract staan gemaak. Nou meer as ooit staan ons almal by ‘n effense vurk in die pad. Die wêreld bevolking is besig om te verouder, nasies word oor die heelal gedwing weens oorlog, die kunsmatige intelligensie maak ook die wêreld ‘n al kleiner plekkie. Min plek om weg te kruip of dan nou ook net op jou eie mishoop koning te kraai. Sien Burke was van mening dat ons soort van ‘n kontrak met mekaar sluit. Daardie dag wat ons die lig sien in ‘n sekere kultuur, land of dan nou selfs dorp. Dalk was daar tog waarheid in…
Sien, ons word gebore in ‘n spesifieke land, met ‘n spesifieke politieke bestel…waarvoor mense veral in hierdie land van ons, hulle lewens op die prys gestel het. Daar is ook die geskiedenis van ons voorvaders – die Khoi, die San, die Xhosas, die Zulu’s en almal anders wat Afrika hulle huis noem van voor kolonialisme af. Daar is ook die werknemers van die VOC wat gestrand gelaat is of die walglike werksomstandighede wou ontvlug. Daar was die Britte wat agtergelaat is deur hulle Koningshuis of wat besluit het om hier te trou. Daar is mense van die Spice Routes wat geur aan ons kos kom gee het. Ons is een mengelmoes van stories, geskiedenis, oorloë, reise met skepe en oor berge heen. Dit sal dus taamlik verwaand van ons wees om te glo ons bou hierdie samelewing. Ons het dit bloot geërf. Soms dink ek ons raak so vasgevang in ons eie lewens, die korrupsie van vandag, die groot gemors waarin soveel dele van ons samelewing gedompel is a.g.v. gierigheid en haat. Dat ons vergeet, daar was goed, daar was bloed en daar was iemand soos ‘n Nelson Mandela.
Nie net is hierdie ‘n lekker ou politieke speelbal en arena nie. Nee aarde ons laaik daai te veel, maak ons soms vurig en warm onder die kraag. So kom ons los dit nou daar. Ons weet almal wat ons weet en ons het almal ons eie idees.
Laat ons eerder die net nouer trek. Hoeveel van die mooi lesse wat ons ouers ons geleer het, dra ons oor aan ons kinders? Hoeveel van die mooi stories, die uitdrukkings, die lewenslesse klaar geleer?
Daagliks hoor ek nog my Ma. Einste vandag, toe ek ‘n trui se nek so lekker rek om die hanger deur daai einste nek in te forseer ~ kom die gedagte by my op dat my ma my darem nou goed sou uittrap oor ek die ding so verrinneweer. Sien my ma het geglo mens pas jou goed op. Jy pas ander mense se goed op. Jy het respek vir die natuur. Vir ander mense. Alles het gedraai rondom respek. En dit onthou ek, dit spook by my as ek dalk die paadjie mistrap.
Natuurlik soos die generasies aanstap, soos meer van die vorige generasie net grafstene en as in die wind raak. Hoe groter is die bewussyn dat hierdie “sosiale kontrak” nie net ‘n erfenis is nie, maar dat ons nou bou aan die verhaal. Dat ons nou hierdie “geskiedenis” bou. En watter erfenis laat ons agter?
Burke het tereg geskryf:
“Society is indeed…a partnership not only between those who are living, but between those who are living, those who are dead, and those who are to be born.”
Hoe lyk die plek wat ons agter gaan laat? Is daar nog lesse wat ons geleer het wat ons kan oordra, sodat die wat na ons kom die wêreld ‘n beter plek vir almal sal maak. Of gaan ons ‘n plek vol haat en eensydigheid nalaat. Te bang om die grense so bietjie te verskuif? #deathlessons
Tema II: Is ons reeds in die kis?
#deathlessons
Die van julle wat al van my gekrap gelees het, weet ek is ‘n aards optimis. Ge-erf aan moederskant. ‘n Eienskap wat my al uit die dieptes van diepste, dieptes gered het. Wat ‘n reddingsboei was toe donkertes my wou omvou of die wêreld kakker as kak daarna uitgesien het.
Maar nou het ek hierdie vieslike gewoonte om alle ander emosies(wat moontlik ‘n sweempie van pessimisme met dit saamdra,) te verklein tot mier bollie. Ek weet ek doen dit, ek weet as ouer en vrou en vriendin, moet ek weet my plig is nie altyd om die kalf uit die put te haal met my vreeslike realistiese optimisme nie. Want sleep, sleep ek daai kalf aan die agterpote uit as dit moet. Ongelukkig het dit meestal die teenoorgestelde effek.
Want sien ek het die gewoonte om met my alewige positiwiteit die mense na aan my se gevoelens te minag. Ek sê eintlik vir hulle dat hulle nie hierdie “negatiewe” emosies mag voel nie, dat dit verkeerd is. Behoort van beter te weet! Want hierdie hele shame guilt het ‘n vieslike gewoonte om mens vreeslik selfbewus te maak. Oor al jou tekortkoming, die dinge wat verbeter kan word of waaroor jy jou kop in skaamte moet laat sak. Ek herhaal weer, as mens klomp stront aangejaag het en jy voel sleg daaroor en het spyt oor daardie daad is dit ‘n goeie ding. Maar as jy jou selfwaarde daaraan begin meet, dan tree selfverwyt in en dit het nog nooit ‘n goeie einde gehad nie. Laat ons nou maar ook eerlik wees, om skuld te beken en te berou is veel makliker as om jouself te moet verander. Wat in wese presies is wat jy moet doen as jy jou vir jouself skaam.
Ek moet my kop in skaamte laat sak en erken dat hierdie gewoonte om mense se doodgewone emosies as selfbejammering te sien, nie juis opbouend is nie. Dat ek dit misken en hulle dus ook misgun om die hele spektrum van voel te voel.
Ek weet ook ek sit nie heeltemal die pot mis deur ‘n oplossing, ‘n ander kant uit van negatiewe emosies te probeer vind nie. Dalk het ek net die vermoë om binne ‘n breukdeel van ‘n sekonde deur hulle te werk en dan oor te gaan na die …”goed so wat kan ek hieruit leer van myself en hoe kan ek dit verander?”
Maar vir my om al die “negatiewe” emosies van ander so vinnig onder die mat in te vee en die hoop soos confetti te strooi, is dalk ook nie die heel wysste manier om diè rondom my te help nie.
Ek raak beter, glo my vry. Ek luister al langer en ek maak so hier en daar die regte geluide. Maar daar lê nog werk voor!
So waar laat die dood ons?
Met die wete dat ons nie eilande is nie. Dat ons baie kan leer van die voorgeslagte, die goed behou en die res met die baba se badwater uit te werp. Verkieslik in die tuin, sodat ons die pragtige wêreld ook vir die na ons kan bewaar.
Lewe natuurlik asof jou nalatenskap van groot waarde gaan wees. Lewe in volle glorie en swang…ry al daai wipplanke, maar maak tog net seker jou voete land op die aarde wanneer dit saak maak.
Ek wonder sommer watter lewenslesse julle uit die vorige geslagte saamdra. Watter julle eerder begrawe het en hoe julle die lewe hanteer. #deathlessons
Skryf vir my en stuur aan vryheid@wynvlieg.com. Jy kan ook ‘n boodskap los op www.wynvlieg.com.