Vol 173: Hoekom is ons tog so fyn gevat?

Verlede week betrap ek myself, dat ek darem nou ‘n lekker ou suurgat is hoor. Danig voor op die wa met my alewige voorgee. Boonop hou ek daarvan om wyd te verkondig dat ek nogal voor in die ry gestaan het toe die emosionele intelligensie uitgedeel is.

Wel, wel, wel. Toe makliker om die gewer te wees. Minder aangenaam om die ontvanger te wees. Of te wel dan die een wat in die posisie gesit word, waar dit toe nie so maklik is om die emosionele intelligente een te wees nie. 

Toe wonder ek sommer so by myself, Why Am I So Sensitive? Kan myself natuurlik na die artikel op die skouer klop, dat ek een van dies is wat dieper voel, wat as’t ware so met die helmet en sulks gebore is dat arme ek, foeitog eintlik in sagte ou doekies toegedraai moet word. #whyarewesosensitive


So wat is nou eintlik my probleem?

Verlede jaar teem ek vir maande aan een oor die GROOT TREK. Wat toe in elk geval nie gebeur het nie. Toe dit deur die mat val, is ek eintlik al klaar oor die drumpel. Besef ek hoe belaglik baie tyd ek aan iets spandeer het, wat toe nou nie so ‘n groot opoffering sou wees nie. Want waar daar ‘n punt is, is daar mos altyd weer ‘n begin, dan nie? (Meer hieroor op ‘n latere stadium!)

 #whyarewesosensitive

Terug by verlede week ~ daar vertrek die jong man toe na die groot stad. Nou gaan hy daar studeer, gaan hy vir die eerste keer sedert die egskeiding by sy pa aan huis bly. My kop sê vir my, dis ‘n goeie ding. My hart en die groen monster loer-loer so oor my skouer. Hoe belaglik is dit nie. My hart juig, want ek wil graag hierdie voorreg gun aan beide van hulle! Maar sien toe staan die saak so, daar is ek nou die een wat ‘n paar kortaf woorde aan die einde van die dag kry. Ek is die een wat nie die weelde van gedeelde aandete het nie, waar die woorde en stories vloei. Ek is nou die een wat na die krummels moet smag. #whyarewesosensitive

Daar besef ek toe, die groen monster het niks met die nuwe verblyf reëlings te doen nie. Nee, nee ek lei aan die volgende ~  When Parents Envy Their Adolescents.

Hoe durf die klein donnertjie my sommer net so afskryf? Hoe durf hy nou ‘n lewe van sy eie te wil lei. Dit terwyl ek vir jare my alles opgeoffer het vir hom. Daar was om die stukke op te tel en altyd tussenbeide getree? (Soos ek dit tik, so belaglik klink dit nè?) 

Goeie hemel, ek skaam my vir myself. Verkondig ek dan nie vir enige een met ore, dat mens jou kinders vlerke moet gee nie? Vreeslik braaf ja, tot die vryheid hier aan my eie voordeur kom klop het. 

Na die lees van verskeie artikels, want ek glo mos vas ….👇🏼

 #whyarewesosensitive
#whyarewesosensitive

….besef ek net weer. Ek kan maar sê wat ek wil, ek is jaloers(of dalk net effe suur) dat hierdie jong man, kan ontvang en ontvang(van my geld en my energie en my tyd) en nie eers die telefoon wil optel om net van sy dag te vertel nie. Ja mense, julle hoef my nie te preek nie, ek weet ~ ek het mos gegee, hy het ontvang. En hy is nie ‘n sleg kind nie, hy is net ‘n jong volwassene wat sy lewe moet lei. Hy is nie meer mamma se baba nie. #whyarewesosensitive

Ingehok, bring die jammerlappie

Tweede rede vir my suur gat houding, is dat ek nou gras weduwee speel. Die afgelope vyf jaar was ek en Mnr G gereeld vir ‘n week op ‘n slag uitmekaar. Daar was ‘n werk die kant vir my, ‘n plaas aan die ander kant vir hom. Met stampe en stote het ons die saak bemeester. Wel, ek kan nie juis beweer ons was super suksesvol nie😳, maar ons is daardeur. 

So vra jy my nou, wat is nou my probleem? Ek hoef nie te ver en diep te soek nie. Was ooglopend….die isolasie was my probleem Social Isolation and Mental Health. 

Wel, probleem nommer een in die geval. Ek wou mos die mal perd opsaal om ‘n nuwe hondjie te kry. Dis amper soos kraam, mens vergeet van die pyn en die daaropvolgende isolasie, min slaap…die aanhoudendheid van die nuweling. So vertrek Mnr G op sy eerste besigheid besoek oorsee in vyf jaar. ‘n Lekker laaaaaaaaaang een. Boeta is Kaap toe. Mamma is by die huis…met ‘n hond wat moet leer waar die toilet is. Wat nie alleen gelaat kan word vir te lank nie. Wat nie sy kos wil eet nie. So mamma sit in die huis vas! Mamma is besig om mal te raak. 

My probleem is nie so groot nie, die katgriep hoef ons na nog ‘n maand nie meer te vrees nie. Dan vat ons die pad. So dis vasbyt vir nou. Dis tydelik. 

Maar ek besef te goed daar is verskeie mense wat elke liewe dag stoksielalleen moet sit in huise. Want niemand verdien om alleen te sit nie. Daar is soveel navorsing wat verduidelik ~ In good company: Why we need other people to be happy

‘n Mens se brein wil dit voorkom, werk net beter wanneer daar sosiale interaksie is. My oomblik van helderheid en insig in my huidige situasie het gekom toe ek besef, Social Baseline Theory: The Social Regulation of Risk and Effort. In hierdie ongekompliseerde oomblik van druk, sou ek veiliger gevoel het as daar nog mense was wat kon help. Die eentonigheid maak my gek. Die feit dat daar nie ander mense is wat net kan help en sê alles is oraait nie. Wat ook so bietjie die toilet diens kan oorneem nie. #whyarewesosensitive

Maar in alle eerlikheid, is daar ook so ‘n ligte sweempie van DEAL WITH YOUR TRAVEL ENVY IN HEALTHY WAYS. Hier kry daai man van my die geleentheid om weer die groot yster voël te bestyg. Hy gaan oor die waters, hy eet vreemde kosse, hy sien ander dele van die wêreld. En ek moet met Jan Tuisbly se karretjie ry. Jannie Jammerbal op sy beste! #whyarewesosensitive

Vir die van julle, wat soos ek nie binnekort oor die aardbol gaan rol nie. Die vrou het wel ‘n ding of twee beet. Wat van in ons eie agterplaas bietjie rondtoer. Gaan klim ‘n koppie vroegoggend, gaan dalk vir ‘n naweek in ‘n tent( as dit dan nou moet🤪) of verken die naaste stad se geskiedkundige plekke. Herroep weer  ‘n trippie van lank gelede. Kyk na daai video’s uit toentertyd, skiet die springmielies…droom weer ‘n bietjie. Of spaar dalk elke maand ‘n paar rande(i.p.v. om daai drankie te koop, of die rok of die stuk koek) en beplan iets groots.

Ek is lekker grootbek, want as die son reg opkom en alles loop glad, gaan ek die groot 50 saam met hartsmense vier doer ver oor die waters.  #whyarewesosensitive

Nie net ek nie

Soos die heelal dit wil hê, is ek toe nie die enigste een wat so bietjie van ‘n hobbel slaan nie. Ter agtergrond, daar is by die stalle(daar waar ek die perd hou) heelwat “ouer” vrouens. Lekker klompie vroue wat lankal al hulle stronte agtergelaat het. 

Dinge is mos maar soos ‘n rivier – daar vloei altyd nuwe bloed in. Dis die lewe en so leer ons ook ‘n bietjie meer van onsself en ook van ander. Altyd lekker gemaklik om net so met jou eie kudde uit te hang, mense wat dieselfde as jy is en dink. Maar almal is nie dieselfde nie en dit hoort ook so. 

Daar was ‘n ongelukkigheid by ‘n nuweling. Iemand wat uitgesluit gevoel het. Seergemaak oor sy nie in die “binnekring’ welkom gevoel het nie. #whyarewesosensitive

By nadere ondersoek, blyk dit toe, daar is ‘n mate van onsekerheid. ‘n Gevoel van in die pad wees, nie behoort nie. Wat is tog hierdie  What Is the Sense of Belonging? 

Wel in die geval lê die wortel van al die onsekerheid by die nuweling toe die heeltyd  in Self-esteem Declines Sharply Among Older Adults While Middle-Aged Are Most Confident. Dit wil blyk, hier na die sestigs is ons nou nie meer so haan van die mishoop nie. Begin ons twyfel in ons waarde.

Hier was ‘n les te leer vir ons ander almal. Partymaal kyk mens verby ander, verby hulle begeerte om ook net te behoort. En soos gewoonlik is dit baie makliker om deel van die “in-groepie” te wees, as daardie een wat so op die rand moet rondhang. 

Vir die wat nog nie daarvan gehoor het nie, daar was ‘n man. Die man se van was Maslow. Hy het ‘n teorie gehad😜 ~ A Guide to the 5 Levels of Maslow’s Hierarchy of Needs. Derde in die ry, is die mens se begeerte om te behoort. 

Hier doen ‘n geleentheid hom toe voor vir ons almal om uit ons lekker ou kringetjie te uit. Ons vermakerigheid te laat staan en ‘n gevoel van behoort te skep. Want om daardie samehorigheid te bewerkstelling, beteken ons kan almal veilig voel om te groei. Ons kan ‘n ander ‘n hand uitreik en laat voel hulle is nie stoksielalleen nie. 

Slotsom is ~ dis ‘n geleentheid vir ons almal om empaties te wees. In plaas daarvan om te maak of ons onaantasbaar is. 

#whyarewesosensitive

Want ons is eintlik maar almal goeie mense. Ons is almal mense met ‘n behoefte om te behoort. En dalk was ons lotjie net gelukkig. 

Daar sy, ek voel sommer minder suur

Altyd so ‘n verligting. As ek dinge net eers op papier begin neerpen. Begin oplees en verwerk. 

Altyd bereid om meer uit te vind, beter te verstaan en hopelik minder van ‘n ou suurknol, Jannie-jammer-bollie te wees. #whyarewesosensitive

Mag dit goed gaan met julle die week. Mag julle pad stroopsoet wees!

Soos gewoonlik staan ek gereed om van julle te hoor. Skryf sommer vir my en stuur aan vryheid@wynvlieg.com. Jy kan ook ‘n boodskap los op www.wynvlieg.com.

2 thoughts on “<strong>Vol 173: Hoekom is ons tog so fyn gevat?</strong>”

  1. Awesome. Voel sommer nou beter oor my self. Ek bly alleen, met ‘n huis vol mense. Vier kinders tussen 14 en 5 jr.. Erf vol honde. Maar ek verkies die alleen wees nog steeds eder, Om ‘n enkel mens te wees. Eks selfsugtig?

    1. Hallo Genvieve (wat ‘n prachtige naam!) Ek is baie bly iemand voel nes ek! Ek dink dis ok hoor, ons hoef mos nie almal kuddediere te wees nie. Verder sukkel ek maar baie met verkleurmannetjie speel. Nie goed so om almal se diere rond te trap nie!

      Ek bewonder jou vir daai vier kinders en die erf vol honde. Wonder net – waar kry jy tyd vir stilwees? Net jy wees? Ek hoop regtig daar is erens waar jy heen kan ontvlug en net weer die batterye laai!

      As dit te dol raak – laat my weet, ek kom jou haal! 🤪

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *