Die lange lys van voornemens vir 2023 staan nou einde se kant toe! As jy vandag een van die’s is wat hierdie storie die eerste keer onder oë kry, doen jouself gerus ‘n guns en gaan lees die vorige twee. Wie weet, dalk is daar iets wat jy nog op jou lysie kan sit.😝.
As jy effe belemmerd is met die tegnologie, of bloot net te lui. Hier is vorige aflewerings…Vol 170: 2023 Hier Gaat Ons…(Weer!)….Vol 171: Vat Hom Flaffie!
‘n Spesiale woord van dank aan die mense wat die moeite gedoen het om lekker lang boodskappe te los of selfs vir my te skryf. Dit word nou opreg waardeer hoor!
Sonder enige verder fanfare sal ons dan sommer met die deur in die huis val en die die laaste drie opdis. #thefinalcountdown
Nommer sewe ~ as die donker jou oorval
As dinge donker begin raak in jou lewe of jy voel die 7 maer jare het jou beetgepak, vermy maar eerder die groot besluite. En vermy ook die haarsalon, veral as jy ek is. Geneigdheid om my uit ‘n dowwe plek te wil uit knip! Of kleur(dit was die ding in die jonger dae.)
Eintlik geld dit vir as jy sommer net eenvoudig vreeslik emosioneel voel. Wie van ons het nie al deur ‘n hele string emosies gegaan nie. Veral as jy een van die gelukkiges onder ons is om die menopouse onlangs te kon betree. Menopause vir die van julle wat dink julle is besig om die kluts kwyt te raak, loop lees hier! Vir wat ons ook so gestraf moet word, weet niemand nie!
Daar is verskeie maniere wat jou weghol emosies jou lewe goed kan opdonner. Of sal ons sê jou besluitneming heel van spoor af dwing. Al ooit terug gekyk so oor jou lewens landskap en gewonder…”Wat de donner het ek gedink?”
4 Strange Ways Your Emotions Influence The Risks You Take het bietjie lig op die onderwerp geskyn vir my.
So het die “opwinding” my darem ook al ‘n paar aankope laat doen wat heeltemal onnodig en buite die begroting geval het. Want as daai groot mallemeule van die opwinding jou so vat, dan los hy nie sommer gou nie. Mens is glo geneig om groter risiko’s te vat as jy doer op die kruin rondboer.
So het navorsing, worry propensity and the perception of risk ook al bewys dat angstigheid oor iets weer oorspoel na ander fasette van jou lewe. Dit is nie juis nuwe nuus nie, want wie het nie al angstig gevoel oor iets by die werk of in ‘n persoonlike verhouding en dan haal jy dit behoorlik teenoor ‘n ander arme sot uit nie? Soms maak die angs dat mens se gesonde verstand heeltemal gaan stilstaan en net mooi geen besluite van enige aard geneem kan word nie.
Boonop blyk dit dat hartseer ‘n mens sal laat skik vir minder. So al asof die hartseer alle waagmoed uit mens kom suig en jou so weerloos laat dat jy net mooi vir niks kans sien nie. Asof mens net nog meer in die grond in getrap wil word. Ek weet daar is vandag mense wat hier lees, wat onlangs iemand aan die dood moes afstaan en verpletter, oorweldig voel. En nou moet daar groot besluite oor die toekoms gemaak word, maar die lamte wil nie wyk nie.
Nog ‘n stukkie navorsing, Why do bad moods increase self-defeating behavior? Emotion, risk taking, and self-regulation het weer bewys dat woede en daai groot uitbarstings tot heeltemal irrasionele gedrag lei. Snaaks genoeg laat hierdie woede buie mense vreeslike goed doen of sê. Net om daarna soos ‘n groot papaja te voel en eerder ‘n mens se kop in die naaste bynes te wil loop insteek. Want jy het jouself soos ‘n boks gedra.
Die antwoord is natuurlik in balans. Ha.ha.ha. Hoe lekker lag ek nou! Darem mos een van my top prestasies. Ek gaan seker nog tot my dood dag soek na die sogenaamde balans! Meer belangrik nog dink ek moet ons maar eerder ‘n paar lesse in Emotional self-regulation gaan leer. Hieroor kan ek ‘n hele tesis skryf reken ek. Staan soms verstom dat grootmense(en nou bedoel ek mense wat al lank in die tand is,) wragtig nie oor die vermoë beskik om hulle eie emosies te reguleer nie. Ongelooflik maar dis ‘n ding! Sou sê ‘n groot siekte van ons tyd!
Dus, vir 2023 gaan daar ‘n poging wees om nie soos ‘n masjiengeweer los te trek en op die golf van emosies my besluite te maak nie. Ek gaan my beste, este probeer om eers te sit en dink waar die muishond stink!
(Ek sien sommer hoe duik die een in die pomp voor ek nog begin het🤪) #thefinalcountdown
Nommer ag ~ kies jou kritikusse sorgvuldig
Ek wonder soms hoekom ons so gretig is om kritiek van mense te vat wat ons soos in glad nie vir raad sou nader nie. Daai kritiek is soos ‘n snydende swaard en laat ons nagte wakker lê, oor-en-oor in ons koppe ronddwaal en soos wurm bollie voel. #thefinalcountdown
Nou kom ons begin sommer by die begin ~ What’s Wrong with Criticism, stel dit dêm goed. Die kritiek sê meer van die kritikus se karakter en ego as wat dit van die ontvanger daarvan sê. Eina!
Die skrywer wil beweer daar is g’n niks soos positiewe kritiek nie. Kritiek is daai ding waar die een die ander wil onderdruk ~ noem my iemand wat ‘n onderdrukte wil wees. Boonop het dit die hoofdoel om die ander persoon minderwaardig te laat voel…so dalk nie juis iets positiefs daaraan nie?
Ek is een van die dikvellige soort. Ek vou nie sommer onder kritiek nie. Seker my “jou gat man, ek sal jou wys” houding wat my net aan por. Maar al hou ek my so grootbek, het ons maar almal ‘n Sensitivity to Criticism. Raai, raai Riepa…vele van ons nerwe spruit uit ons kinderdae. Aangesien ek my so roem op die dikvel, laat ek maar bieg. Ek het vir jare, der jare ‘n sensitiwiteit oor my lyf gehad. Die rondings was te veel. Dit het nooit in daai boksie ingepas nie. Hierdie was ‘n blog wat ek daaroor neergepen het, dink party van julle mag dalk aanklank vind.. Vol 27: The Shape That I’m In.
Nommer nege…skuld bly skuld
Daar kom ‘n tyd in ‘n mens se lewe wat jy in die skuld is. Of dit nou die soort van die note is, of by iemand anders of sommer by jouself. Êrens sal jy daaraan moet begin delg. So te sê jou probleme oplos. En van probleme hoef ek niemand net mooi niks te vertel nie.
Hulle sê mos nie verniet 👇🏼
Skuld soos ons weet verdwyn nie soos mis voor die son nie. #thefinalcountdown
Ek laaik nogal hierdie “Angry Therapist” mannetjie se uitkyk. What do you owe yourself ~ ons is male sonder tal geneig om dit wat ons onsself “skuld” maar eerder daar in ‘n laai te los. Want verdien ons dan om ook onsself te vergewe vir sekere misstappe? Of mag ons ook onsself die luuksheid gun om net eenvoudig op te gee, oor te begin? As jy vandag in skuld teenoor jouself staan, as jy jouself meer moet gun ~ betaal daai skuld af. Want een of ander tyd in jou lewe gaan dit moet gebeur. En skuld het ‘n gewoonte om meer te raak as jy nog nie agter gekom het nie.
Kyk ‘n bietjie rond in die wêreld. Daar is oorloë, daar is onskuldig mense, nes ek en jy wat hulle vaderland moes verlaat. Nie omdat hulle so sleg is nie, maar omdat die mense wat hulle vertrou het om vir hulle ‘n land van stabiliteit te gee alles opgeslurp het. Of die gierige buurland het besluit hulle mags bedonnerde heerser kort nog grond. Of binne die landsgrense het mense se vrese vir die vreemde en misplaaste lojaliteite hulle op mekaar laat begin skiet.
Dan word ‘n mens… What We Owe Each Other Elkeen van ons in hierdie wêreld, jou land, jou dorp, jou straat het soort van ‘n sosiale kontrak. Dis een waar ons ‘n ongeskrewe ooreenkoms onderteken om saam te lewe in vrede. Waar een na ‘n ander moet kyk as dit moet. Waar ons mekaar se kulture nie net hoef te respekteer nie, maar dit omarm.
Hier is ‘n gewigtige stukkie om daaroor te lees ~ What Do We Owe Each Other?
Hemele hoor vir my, dis nie aldag vir ons maklik nie. Dit voel of daar net meer en meer mense staatmaak op ‘n handjie vol wat die koffers moet vol hou.
Maar waarheen anders? Wat as dit ek of jy was? Sou ons nie dan dalk wou hê ons mede genote moet ‘n sagte hart, sagte hand en woord vir ons hê nie?
En nou is dit verby
Ek het nou ‘n lys wat skrik vir niks. As daar dalk net een of twee is waarmee jy saamstem, laat hoor van jou. Moontlik is daar nog iets wat ons by ons lysie kan voeg. #thefinalcountdown
Ek sê weer…kom ons wees net lekker mense. Goed vir onsself, die omgewing en ander mense. Dan is ons mos al halfpad daar, dan nie?
Laat van jou hoor asb., vordering daar aan jou kant? Skryf sommer vir my en stuur aan vryheid@wynvlieg.com. Jy kan ook ‘n boodskap los op www.wynvlieg.com.
Jy slaan die spyker op die kop, self care is seker een van die belangrikste dinge. Ek vee myself ook maklik af aan kritiek….maar dit ontsteld my tog. Veral die manier wat sommige mense dit doen, met venyn. En ja die alewige lyf, al sê my slim foon ek stap 7000 tree meer as die gemiddeld van my ouderdom haha ….die lyf is maar daar en ek kies !!! maar flip dit is soos dit is. Eks gelukkig darem gesond en happy. Dis vir my goed om te droom en voornemens te he…..en ek werk dam hart daaraan. Maar ek lief dit om te werk, dis vir my ‘n seën dat ek kan.
Hi Charlotte, ja nee jong, ek is ook heeltemal te veel aan myself verskuldig. Moet tog se nou dat die huis leeg begin loop het, kan ek meer tyd aan myself gun. Maar my skuld le maar by wat in die mond ingaan en dat ek nie altyd die beste keuses vir ‘n lang, gesonde lewe maak nie. Maar soos my man altyd so vol bravade kwytraak – aan iets moet mens dood. (Dis nou tot daar een of ander vetterige lewer by hom gediagnoseer word, dan is hy ook nie meer so braaf nie!) Iedergeval, solank ons elke dag darem iets probeer fix, ‘n beter mens vir onsself en die rondom ons probeer wees, dan reken ek doen ons 80% meer as ander!
Hoop jy het ‘n wonderlike dag – ek moet nog Blomme by jou kom kry weer! Nou vrek alles so vinnig hier in die blooming hitte!