Wynvlieg Blog

Vol 81: Dankbaarheid ~Liewe Lulu ‘n Brief uit die pen van Merleen von Caues

Die briewe kom in en dit maak my hart so bly. So baie mense, wat sulke mooi goed vir ander doen en beteken.

#simplenoteasy

#simplenoteasy

Liewe Lulu

Vandag sit ek uiteindelik pen op papier en skryf vir jou ‘n briefie wat ek al baie jare gelede moes gedoen het. 

Vandag wil ek vir jou BAIE DANKIE sê…dankie vir elke lessie wat jy deur die jare vir my so getrou geleer het.  

Maar laat ek eers bietjie “rewind”….

Die ou mense het mos altyd gesê: “Moenie doen wat ek doen nie, doen wat ek sê!”  Nou dink ek só by myself, dít is mos pure bog?  Ek is ook vandag ‘n ou-ouer en ek besef daagliks watse “fake news” hierdie stelling werklik is! Net verlede week, haal ‘n baie wyse vriendin van my die volgende aan: “The life you live, is the lessons you teach” 

Eina!!! Ouch! 

En toe lees ek jou weeklikse blog @Wynvlieg en besluit toe sommer net daar en dan, nóú is die tyd om vir jou, Lulu ‘n hartlik dankie te sê! 

So, kom ek probeer my mees innerlike gedagtes van dankbaarheid in woorde omsit:

  • Dankie dat jy my geleer het dat daar net een ontsnaproete uit jou bitterheid en pyn kan wees en dit is deur ware opregte vergifnis. Nie die “ek vergewe maar ek sal noot vergeet nie”-tipe nie, nee die onvoorwaardelike “ek vergewe, al is ek stukkend van seer maar ek weet ek verdien ware vryheid en vrede”-tipe vergifnis. 
  • Dankie dat jy my geleer het, deur baie dekades van herhaling, van weer-en-weer en oor-en-oor dieselfde doen en sê, dat dit eintlik ‘n mens se patrone is wat jou definieer en nie jou potensiaal of wat jy aan die wêreld verkondig wie of wat jy is nie!!  Ek onthou die persoon wat ons aan mekaar verbind het, het eenmaal gesê: “ek trek solank die sirkeltjies op my kalender want hierdie gesprek is soos maandstonde: dit sal net weer en weer opkom…” en sowaar, hy en Siener sou goeie vrinne gewees het! 

So, uit die diepte van my hart, sê ek dankie dat jy my geleer het om nie my eie-ek- ego of my geskepte storie te glo nie maar eerder diep binne te gaan delf en my “default” gewoontes te identifiseer en dan werk te maak om dit elke dag net ‘n klein bietjie te verander, sodat oor tyd en met oefening, ek werklik kan word wat ek só graag om die braaivleisvuur en in geselskap en op FB só luidkeels verkondig wie en wat ek is! 

  • Dankie dat jy my geleer het dat my kinders anders is en ook uniek!  En dat my liefde vir elkeen is ook anders en uniek.  Dankie dat jy my oë oopgemaak het dat ek nooit, ooit my een kind bo die ander kan ag, ter wille van my eie ego en storie nie.  
  • Dankie dat jy my gewys het dat daar nie een ondankbare kind op hierdie aarde wandel nie.  O nee, net “stupid” ouers wat dink hul kinders behoort dankbaar te wees! Eina!! Ouch!  Lulu, hierdie waarheid het my so vrygemaak en my verhouding met my kinders het skielik maklik en gemaklik geraak! (#simplenoteasy)
  • Dankie dat jy my gewys het dat geen kind of man óóit die oorsaak van my pyn óf geluk kan wees nie.  Die bron van my ewige geluk kan ek net binne myself vind!! 

As daar een mens is wat my hierdie waarheid so getrou geleer het, is dit jy!! 

Ek moet klaarmaak al is daar nog soveel dankbaarheid in my hart. Laat my dan eindig met die woorde van Ho’oponopono, ’n eenvoudige Hawaiese gebed:

Liewe Lulu,

“Ek is jammer, vergewe my 

Ek sê vir jou dankie

Ek is lief vir jou!”

Altyd dankbaar,

Merla


Om gaaf te wees 

Liewe Lulu, wie jy ookal is, baie dankie dat jy vir hierdie pelgrim ‘n skouer was om op te leun, nie geskroom het om die waarheid te ontbloot nie, maar met ongelooflike sagtheid en deernis ook vir haar gelei het. 

Deernis is een van daardie vreemde goed.  Hoe meer mens daarvan uitgee, hoe gelukkiger maak dit jou. Of soos ons in goeie Afrikaans sal sê ~ wat jy saai sal jy maai! #simplenoteasy

  • Ons kan almal ‘n les of twee oor How Do We Gain From Being Kind leer by Liewe Lulu. Om gaaf te wees, deernis te betoon teenoor ander, ‘n glimlag, ‘n koppie warm sop…dit alles laat ‘n mens ontspan en net beter voel oor jouself.  
  • En op die koop toe sal dit ook die negatiewe emosies in ruil hok slaan. Want wie kan goed doen teenoor iemand anders, uit die diepte van jou hart(en nie met allerhande bybedoelings nie) en nogsteeds vol negatiewe gedagtes rondloop?
  • Boonop verbeter dit immuniteit ~ en dis iets waarmee ons almal nou kan doen!
  • Dit maak natuurlik vir beter verhoudings. Deernisvolle mense trek ander aan. Dis ‘n sagte, aanvaarbare plek om te land. 
  • Deernis steek aan ~ om gaaf te wees is soos ‘n glimlag of ‘n gaap ~ dit steek aan! En so raak die kringetjie groter en jou klein impak net meer en meer.

As jy vandag ‘n hand wil uitsteek na iemand, ‘n gebaar van diensbaarheid en deernis wil betoon ~ maak die deur vir iemand oop, glimlag vir ‘n kassiere, komplimenteer iemand op hulle mooi uitrusting, sê vir jou geliefdes hoe baie hulle vir jou beteken. Bedank die vrou wat elke dag jou huis kom skoonmaak, dat sy opdaag en sonder om te mor of kla haar werk doen. 

Of skryf vir jou vriendin ‘n brief van dankbaarheid. 

Dankie Merleen vir jou brief, dankie dat jy ons herinner het om deernis te bewys, ‘n hand uit te reik en wat dit vir iemand anders kan beteken.

Jy kan ook deelneem!!

Nog ‘n storie van dankbaarhied. Van ‘n hand wat onbaatsugtig uitgereik is en wat met ‘n goeie hart wou help. Die lewe is verseker nie maklik nie, maar as ons juwele vind, kom ons wys ons dankbaarheid. En betyds mense, betyds!  #simplenoteasy

Ek weet jy brand om ook jou brief te skryf. Moenie die bootjie mis nie, tel daai pen op, slaan daai sleutelbord en stuur in. Die adres is vryheid@wynvlieg.com. En wie weet, dalk verdien jou brief op die koop toe vir jou ‘n  R500 geskenkbewys by jou gunsteling klein handelaar.  Nie te versmaai in dié tye nie! #simplenoteasy    

Hou die Facebook blad dop, ek sal sommer baie ander dankbaarheid’ s boodskappe ook laat.  As jy ‘n paar blogs agter is, gaan na www.wynvlieg.com en begin lees.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *