Wynvlieg Vol 80

Vol 80: Dankbaarheid ~ Nuwe Boks ‘n Brief uit die pen van Anoniem

Nog ‘n brief daag in my epos-boksie op ~ die keer van ‘n engel van ‘n mens wat ek so deur die @wynvliegoorit blad leer ken het.

Pittige vrou diè, wakker en op haar kop. Maar die ding wat my na haar aantrek, is sekerlik haar blatante eerlikheid. Die vermoë om die duiwels en die drêk reguit in die oë te kyk. #icanbreatheagain

Waarom moet ons anoniem bly?

Ek het al voorheen hieroor geskryf en ek sal dit weer sê…alkohol het die murg en been van ons sosiale interaksies geword. Later spoel dit oor van ‘n drankie hier en daar met vriende en om sosiaal te wees, of pret te hê, na iets om alleenheid uit te dryf en verveling weg te hou van die voordeur. 

Orals om ons heen word drank op hierdie troontjie geplaas, dit word verromantiseer, dit los alle probleme op, dit maak die einde van ‘n lang dag die moeite werd. Maar dit is ongelukkig ook ‘n dwelm wat jou senustelsel aantas en wat ons ongelukkig nie in oormaat kan goedpraat nie. 

En ek gaan my nek hier VÊR UITSTEEK, die probleem is nie noodwendig by die nektar van die gode nie. ‘n Glas hier en daar sal niemand en niks skade doen nie. Ek wil niemand die skrik op die lyf jaag nie, maar as jy soos ek nou ook nie meer ‘n battery kuiken is nie, dan is hierdie artikel dalk net iets om ag op te slaan What’s a Healthy Number of Drinks to Have Per Day, Per Week #icanbreatheagain

So hier is die brief

En toe daag hierdie op by vryheid@wynvlieg.com


Beste Wynvlieg @oorit

Ek word vanoggend vroeg wakker en soos my gewoonte is, skakel ek my radio aan. Opstaan is nog nie ʼn opsie nie – dit is immers Julie en dit is heeltemal te koud. So dommel ek in en uit sonder om regtig te slaap. Die omroeper kondig aan dat later in die program ʼn onderhoud gevoer word met André Schwartz. Hy het pas ʼn nuwe enkelsnit opgeneem na sy herstel van covid-19. Hy was 8 weke gehospitaliseer. My nuuskierigheid is nie vreeslik geprikkel nie, want hy was nog nooit een van my Top 10 sangers nie. 

Hy vertel egter hoe dit gekom het dat hy ‘Ek haal asem’ geskryf het. En die besef kom lê in my oor hoe baie ek het en daagliks ontvang om voor dankbaar te wees. 

Dankbaarheid, het ek ook besef, is iets wat ons kan uitdeel, dit is nie staties nie, dit is vloeibaar en tasbaar en maklik om weg te gee. My gedagtes staan stil by die jongste groot geleentheid wat ek ontvang het en my oë begin brand – ek is uitgesonder, ek is gekies en die geleentheid kom ongetwyfeld van die Here, al het Hy ʼn mens gebruik – Hy het dit voorsien. Ek kyk terug en ek sien al die klein stappies waardeur Hy my gevat het, die baie wat hy met my gepraat het. Die glase wyn wat ek omstamp, die bloukolle as gevolg van in die deurkosyne vasloop, die rooiwynvlekke wat nie uitwas nie. Daar was die hardste val in my lewe toe ek teen my beterwete weer gaan wyn koop en ek oor ‘n klip struikel – nog doodnugter op daardie tydstip – en met my volle lengte neerslaan met my ken op die teer. Maar ek het hardkoppig nog daardie 3 liter Shiraz gedrink as troos …

Toe het die Here my laat spook met myself, maar Wynvlieg, wat al ‘n rukkie op my fb-voer is, gee my die geleentheid om meer te leer van verantwoordelikheid, meer te leer van die chemiese aspek van alkohol en die brein, dat ʼn mens net die eerste glas wyn proe. Wynvlieg het die gerieflike verskoning dat alkoholisme geneties is, net daar in die vat versuip. Sy het my omarm en vir my gesê ek sal oukei wees. 

#icanbreatheagain
#icanbreatheagain

Ek sukkel nog met die afskeid neem en ek voel nog jammerder omdat ek nou die wynbedryf in die steek gaan laat, maar ek is ook vir die eerste keer dankbaar vir die sluit van die wynwinkel, dit help. My dankbaarheid is groot vir Wynvlieg wat my die kans gun om meer uit die lewe te ontvang, sodat ek ook meer kan teruggee. Dankbaar omdat die Here self haar oor my pad voorsien het. 

Dit gaan nie gebeur dat ek ook ‘n lied skryf nie, maar ek sal saamsing ‘Ek haal asem’, want dit is vir my spesiaal gegee. ‘n Nuwe asem. Een wat nie na ou wyn ruik nie. Ek is dankbaar!

Groete

Nuwe Boks

 #icanbreatheagain


Weereens ‘n uitnodig

Praat met ‘n vriendin die naweek, sy en haar man was by ‘n geneesheer – een van daardie met een voet in die harde wetenskap(en die graad agter haar naam) en ‘n ander voet in die meer holistiese wêreld. Die hele lotjie van hulle is nou getoets(bloede ingestuur, resultate gekry!) Almal summier op ‘n spesiale dieet gesit. Geen meer gluten en of melk produkte vir hulle nie. En op die koop toe natuurlik die lieflike glas wyn hier en daar ook pad af. En na ‘n week, kan hulle die drastiese verskil nie net fisies nie, maar ook emosioneel bespeur. 

 Daar is ‘n magdom menigte voordele om so ‘n bietjie van ‘n breek te vat of om die lewe,  alkohol, melk en wat ookal vry aan te pak. Op die alkohol vrye front, kan jy maar hier gaan lees What Happens to Your Body When You Quit Drinking.

Die geleentheid waarvoor hierdie pelgrim so dankbaar is, was ‘n werkswinkel die naweek met Tribe Sober

Ek “check” net gou vinnig in Saterdagaand na die werkswinkel en hier is wat sy antwoord: 


Hallo Wynvlieg

Dankie vir jou belangstelling, ek waardeer dit uit my hart. Ek moes net eers ‘n werkstuk afhandel en eet.

Die werkswinkel was baie besonders en ek het so baie wys geword, maar baie dinge beter verstaan en veral het ek besef dat alkohol ‘n ‘brain changer’ is. Dit is ook waar die grootste deel van die verslawing en hunkering en comfort lê. Ek is reeds by dag 19 en voel alreeds soveel beter in die fisiese opsig. Ek het het nie die gedurige dink aan wyn nie, ek is gelukkig by grootste onttrekking verby en my gemoed is baie ligter as 14 dae gelede. 

My hart het regtig uitgegaan na sommige van vandag se deelnemers – wel eintlik almal, maar party het vir my uitgestaan en ek sou baie graag vir hulle ‘n druk wou gee. 

Ek wil op die stadium eers selfsugtig wees en net aandag aan myself gee, voordat ek ander ondersteun. My persoonlikheid/geaardheid veroorsaak dat ek altyd inspring om ander te help en myself dan vergeet. Vir een keer is dit eers nodig dat ek aan myself dink. 

Ek dink jy sal begryp wat ek bedoel.

Ek sal jou op hoogte hou en nog weer een keer MOERSE DANKIE!!!

Slaap diep en droom lig
#icanbreatheagain


Nog ‘n pelgrim wat besluit het, GENOEG IS GENOEG, ek verdien meer en beter. 

Elkeen van ons het ons eie storie, ons eie keuses in die lewe en soos ons nou al tot vervelens toe gehoor het….DAAR IS MIN TYD MENSE!

En om uit diepe dankbaarhied te kan leef vir die pad waarop ons is, is ‘n bedekte seën. Dankie jy ~ jy weet mos darem wie jy is! #icanbreatheagain

Jy kan ook deelneem!!

Net soos hierdie pelgrim dankbaarheid put uit ‘n lewenskeuse wat sy gemaak het. ‘n Keuse om haarself eerste te stel, so weet ek daar is nog van julle daarbuite wat dankbaar vandag staan teenoor keuses of mense. 

Maak jou rekenaar oop, begin tik…en stuur aan my by vryheid@wynvlieg.com. En wie weet, dalk gaan daardie bietjie dankbaarheid jou ‘n hupstootjie gee. Onthou die wen brief kry ‘n R500 geskenkbewys by hulle gunsteling klein handelaar. 

Hou die Facebook blad dop, ek sal sommer baie ander dankbaarheid’ s boodskappe ook laat.  As jy ‘n paar blogs agter is, gaan na www.wynvlieg.com en begin lees.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *