Wynvlieg Dankbaarheid

Vol 83:Dankbaarheid ~ ‘n Vriendekring soos min ‘n Brief uit die pen van Yvette Laubscher

Die sêding gaan so ~ jy kan jou vriende kies maar nie jou familie nie! Ander wil beweer, bloed is dikker as water…maar ek weet nie so mooi nie.

Ek het darem al vele vrotsige familie verhoudings gade geslaan. Mense wat in dieselfde moederskoot geweef is, wat onder dieselfde dak grootgeword het, maar mekaar eenvoudig nie kan verdra nie. Natuurlik ‘n sielkundige se droom…die familie dramas en wie sal dan nou ooit die famlie intriges van Dallas (1978 TV series) vergeet. #friendsforlife

Dit is bloot net veiliger vir sommiges om eerder hulle vriende noukeurig te kies en hulle genoegsame aandag en liefde te gee. 

Ek reken ek het nogal my vriende en vriendinne goed gekies, al moet ek nou self so sê! Nog so ‘n dankbare, gelukkig siel is ons mede-pelgrim, Yvette Laubscher. 

Hier volg haar brief van dankbaarheid, oor goeie keuses en ‘n witwarm vriendekring! #friendsforlife

#friendsforlife

Liewe Wynvlieg

Jy het my diep en lank laat dink oor die woordjie dankbaarheid … ek vermoed dit is dalk een van die grootste geheime van die lewe, eintlik so eenvoudig en maklik, maar tog bly dit ons ontwyk, want dankbaarheid is ‘n keuse wat ons elke dag moet maak, om die mooi en goed raak te sien. 

Ek weet, ek weet …. dit is beslis nie so maklik soos wat dit klink nie! Dit verg daaglikse oefening, bewustelik lewe, elke liewe dag, al voel jy glad nie daarna nie en wil jy eerder net die kombers oor jou kop trek, maar ek belowe as jy die geheim ontdek van hoe maklik dit is om dankbaar te lewe en dit bemeester, sal die lewe vir jou ‘n lied wees!

Ek is bevoorreg om in die pragtige Wellington te bly, dit is maklik om dankbaar te wees met soveel skoonheid om jou, hier waar mense omgee en daagliks op verskillende maniere ‘n verskil probeer maak.  

Ek is dankbaar dat ek nog albei my ouers het, die pragtige voorbeeld van menswees wat hulle daagliks stel, hulle onvoorwaardelike liefde vir my en my kinders.  

Ek wil egter my grootste bron tot dankbaarheid uitsonder en dit is die vreugde wat vriendskap daagliks vir my bring, die pragtige sirkel van kosbare vriendinne waarmee my menswees daagliks voltooi word.  

Ek dink heimlik was ek bietjie van die witbroodjie toe true lifelong friends uitgedeel is, want ek is diep en oorvloedig uit my sokkies uit bederf!  Soveel so dat ek geseënd is met 2 gewaarborgde lewenslange vriendinne, naamlik my 2 pragtige dogters (jammer girls you are stuck with me 😊 ) 

#friendsforlife
#friendsforlife

Ek sou graag iets oor elke vriendin wou skryf, maar waar begin ek en hoe gaan ek ophou as ek begin.  Die spektrum is groot en die plek van ontmoeting interessant, ek het selfs ‘n lewenslange vriendskapsband gesmee in ‘n werkloosheidsversekeringsry! Elkeen is so uniek en voeg soveel waarde toe in my lewe.  

Een ding staan soos ‘n paal bo water – ek is geseënd met ‘n skatkis vol kosbare vriendinne en my hart is diep dankbaar vir elkeen, ek wil so ver gaan om te sê ek sou waarskynlik nie meer hier gewees het as dit nie was vir vriendinne wat my vlerke gegee het in die tyd toe my eie vlerke vergeet het van vlieg nie.  

Aan elkeen wat my gehelp het om my arms hoog te hou, in my geglo het toe ek self nie kon nie, hul vlaggies vir my gewapper het, my grootste “cheerleaders” – my hart is diep dankbaar van jou! #friendsforlife

Dit is lekker om ‘n mens te wees, wees net ‘n lekker mens met ‘n daaglikse hart van dankbaarheid!

Groetnis

Yvette


Yvette het ‘n ding beet met haar brief. 

Ek sal nou nie lieg as ek sê dit was ‘n groot uitdaging om vriendskappe in hierdie afgelope jaar en amper half die nodige aandag te gee nie. Eers was ons koorsagtig aan die hande was, het ons in ons tuine rondgehol. Ons het baie tyd gehad, soos in vragte, maar tussen die vragte wasgoed en die duisend brode wat ons gebak het om saam met ons “tuis gevangenes” te verorber…waar moes ons die tyd vind om die vriendskap vure hoog te laat brand? Sommige was selfs so desperaat, dat hulle ZOOM drink sessies gehad het. 

Stadig maar seker het ons dit gemasker weer buite gewaag, in vriesende weer in mekaar se tuine begin kuier en skelm wyn gesmokkel. #friends for life het wyn of sigarette

Ek weet nie van julle nie, maar die vriendskappe wil-wil net vlamvat, die kuiers raak net weer meer gereeld ~ dan “BAM” ~ MY FELLOW SOUTH AFRICANS.

Die wetenskap joernalis, Lydia Denworth, maan in haar boek, Friendship: The Evolution, Biology, and Extraordinary Power of Life’s Fundamental Bond, dat vriendskappe, eerste aan die pen ry as die druk van die alledaagse lewe toeneem. 

Gesonde vriendskappe is net eenvoudig onvervangbaar ~ ek weet Yvette wou nie uitsonder nie, maar hier is hoe vriendskappe my deur die lewe dra. Put my koers uit die artikel, Why Your Friends Are More Important Than You Think.

~ Vriendskappe het my al van die grootste, leegste alleen dae gered. Dit was ‘n vasgestelde ete afspraak op ‘n Woensdagaand met ‘n vriendin. Dit was ‘n oornooi vir Chardonnay en kaas. 

~ Vriendskappe het my goeie gewoontes aangeleer. Van vroegoggend saam kreun en sweet en swets(soms) by die gym. Tot die onderlangse grappe, maar saam bly ons fiks en raak ons sommer van die kwade so vroeg oggend al ontslae.

~ Om nie te praat van die emosionele ondersteuning nie. Die goeie ou “rant” wat ek kan hê op ‘n middag stappie, die kers by die dood van ‘n Ma. Die luister en nooit, ooit veroordeel nie. 

~ Hulle gee jou daai hupstoot voor ‘n groot onderhoud. Help jou met die klerekas voor ‘n date. Hulle herinner jou telke male hoe spesiaal en besonders jy is. 

~ Vriendskappe help jou ook om jou “bullshit” maar te los. Hulle skroom nie om jou aan te moedig, maar ook mooi te laat verstaan as jy besig is om kak aan te jaag nie. 

~ As die stres jou opvreet, dan is hulle daar om jou te laat lag, ‘n ander perspektief te gee of sommer net ‘n blom te kom aflewer. 

Mag ons almal vriendskappe hê wat ons lewens ligter maak. As jou vriende nie bogenoemde doen nie, beweeg aan. Onthou dis net jou skuld as jy met bloedsuiers opgeskeep sit🤪. #friendsforlife

Jou laaste kans!

Kyk ek wil nou nie snaaks wees nie, maar daar is darem sekerlik nog van julle wat weet hoe om ‘n brief te skryf. Of daar is net meer as ‘n 1000 van julle wat geen stof tot dankbaarheid kon vind nie🙈, of dalk het julle net nie daai R500 geskenkbewys nodig nie.

Maar as dit nou nie jy is nie, dan skryf daai brief en epos na vryheid@wynvlieg.com.

Onthou alle blogs is op www.wynvlieg.com en die Facebook blad is @wynvliegoorit as jy daar wou gaan loer. 

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *