Wynvlieg Vol 84

Vol 84:Dankbaarheid ~ Die kringloop is voltooi

So in my wysheid het ek gereken Julie is mos die mooiste, mooiste maand om ‘n slag ons dankbaarheid met mekaar te deel. En dinge het flink verloop met goeie inskrywings vir die kompetisie.

Daar was die brand en geen brood situasie

Maar hel, wat ‘n maand het ek nie net gekies nie!! Intussen het die land gebrand, mense het wild en wakker allerhande ontstellende boodskappe met tranerige en bloedrooi gesiggie emoji’s op Facebook gedeel. Daar was die doemprofete, die land is in sy moer. Maar daar was soos ons hierdie nasie van ons ken, derduisende mense wat saam begin staan het. Net toe ons dink, hier gaat ons alweer, toe wys Jan Alleman vir ons wie en wat ons werklik is. Zuma se groot ou gat ook! #hopespringseternal

Toe Corona soos tant Koek se hoenderhaan weer kom

Die derde vlaag van COVID-19 trek die hele land plat, Gauteng raak soos ‘n enklave en as jy nog nie iemand geken het wat ernstig siek was of dood is nie, dan het hierdie derde vlaag nou die werklikheid goed huis toe gebring. Die wat nog met hulle vingerpunte geklou het aan ‘n mate van finansiële sekerheid, begin nou ook te wankel. Die drank word weer verban ~ ek verneem die smokkelaars(soos my een vriendin se kind sê, haar super power is om drank te smokkel vir die droë bekke😜,) trek ook maar dié slag swaar. ‘n Nasie op sy knieë. #hopespringseternal


Selfs die sport is pad af

Om sake te vererger lyk ons huidige oes van Olimpiese spele medaljes nog maar aan die yl kant. Die Blitzbokke loop staan en verloor teen Argentinië en op die krieket front slaan die Iere ons vir ‘n ses(daai eerste dag!) Rassie se Springbokke(skuus die waterdraer) val vas teen die Leeus, maar as ek so na die manne luister, het ons eintlik teen die ref verloor. 

En hier staan ek toe en wonder WAAROOR KAN ONS TOG NOG DANKBAAR WEES? #hopespringseternal

Waar daar hoop is, is daar lig

Wel, een ding staan soos ‘n paal bo water…Suid-Afrikaners het altyd HOOP en daar is altyd humor te vind in elke liewe situasie. En ons is donners veerkragtig ~ maar soos ‘n ander skrywer êrens pen(kan nie nou my vinger daarop lê nie,) hoekom moet ons as die veerkragtige nasie bekend staan? Vir wat moet ons enigsins veerkragtig wees – kan ons nie maar net soos die Nederlanders of die Dene, eerder bekend staan as die “gelukkigste” nasie op die planeet nie?

So dus, ek kies vandag om my dankbaarheid aan die twee dinge te koppel ~ HOOP en HUMOR. #hopespringseternal. PS en daar pik ek ‘n ou traantjie van trots toe onse eie Tatjana nie net ‘n goue enetjie bring inpalm nie, maar sommer ‘n rekord ook!

Dinge om voor dankbaar te wees

Ek lees hierdie definisie op ander blog…Why Is Hope So Important?

“Merriam-Webster’s definition makes “hope” seem close to “wish”: “to cherish a desire with anticipation: to want something to happen or be true.”Whatever the details, hope in general means a desire for things to change for the better, and to want that better situation very much.”

Ek vind dit helse bemoedigend. Dat daar soveel mense in hierdie land van ons is wat nog HOOP het. O hemel en is daar nie baie wat al hoop verloor het nie…gewoonlik met ‘n brandewyn en coke in die hand en ‘n verwysingsraamwerk so groot soos die TV skerm. 

Maar vir die meeste van ons, het ons hierdie oorweldigende behoefte dat dinge net moet verander en beter word vir ALMAL. 

Ek was effe geskok oor hoe min van julle op die versoeke om ‘n welsynsorganisasie wat julle dink waardig is van ‘n R500 skenking, te nomineer. Seker maar nie tyd gehad nie of dalk het Facebook julle nie gekies om my goed te lees nie. 

Wat die KZN en Gauteng gemors ons geleer het ~ as jy sooooo arm is en jy hoor daar is verniet shopping by die mall, dan sal jy maak dat jy daar kom so vinnig as moontlik. Wie de hel sal dan omgee oor waardes…wie wat hulle monde daaroor uitgespoel het was al so arm dat môre nie eers enige waarborge bring nie? Ja, ja ek weet, dis nie reg nie, dis wetteloos en so kom ons nêrens…en die ekonomie wat al reeds aan ‘n draadjie hang, bloei nou uit. Maar hierdie is nie ‘n ou en unieke SA probleem nie. 

Ek lees hier When Government Fails, Communities Take Care of Themselves, dat selfs in die magtige Amerika is daar al van die vroeg 1900’s af ‘n probleem met regerings se vermoëns om ordentlik na die burgerlikes te kyk. 

As so baie van ons HOOP op ‘n beter toekoms vir ons self en ons kinders eerstens(want laat ons nou maar eerlik wees, ons dink altyd eerste aan onsself,) dan gaan ons self ons moue moet oprol en die groot gaping moet begin oorbrug. 

En dis moontlik!!!! Ek is seker daar is ‘n kerk, ‘n organisasie of vra dalk net die vrou wat in jou kombuis werk ~ nood is daar orals en dalk kan jy ‘n kleine verskil maak. 

En dan, VRA uit, probeer verstaan, want so werk HOOP. HOOP kry kleintjies…dis soos ‘n haas, teel teen ‘n spoed aan. #hopespringseternal

Lag ‘n slag

Daar is nou al verskeie studies, selfhelp boeke en kursusse oor die genesende krag van humor, seker dié dat ons wankelende mediese stelsel nog nie heeltemal inmekaar getuimel het nie!  Want humor is te vinde van die Kaapse vlakte tot in Mamelodi en orals op die platteland. Ek verlustig my vele male op my oggend draffie deur die strate en verby taxi staanplekke aan die aansteeklike gelag en gekorswel. 

Wanneer het jy ‘n slag goed gelag? Soos in uit jou maag uit gelag? Die webblad The Healing Benefits of Humor and Laughter is geskik vir terapeute wat met oorlogsveterane in Amerika werk.  En ek dink ons kan na ‘n paar dekades se snot en koeëls ons ook al as oorlogsveterane bestempel…hel as mens al die korrupsie in hierdie land kan oorleef en nogsteeds hoop en humor in goed sien, is jy ‘n oorlogsveteraan.

Daar is ‘n lang lys van fisiese voordele om hard, uitbundig en gereeld te lag! Gaan lees maar self! Dis van hartklop verbeter tot inflammasie van die blaas tot in die maag wat mens onder beheer kan kry. Uit die aard van die saak verlaag dit depressie en angs. 

Ek los maar die paar juwele hieronder…iets om oor te lag vir die dag. #hopespringseternal

#hopespringseternal
#hopespringseternal

En voortgaan sal ons voortgaan

Mag ons aanhou om HOOP te hê en om ook ander mense HOOP te gee. Ons kan dit almal doen, ons het tonne om voor dankbaar te wees. 

En mag ons nooit, ooit ons sin vir humor verloor nie. Laat ons dan maar as die joligste nasie op aarde bekend staan.

Onthou om aan te hou skryf vir my, dis so lekker om iets in my boksie te kry wat nie van een of ander iemand kom wat iets wil afsmeer aan my nie! Rig dit aan vryheid@wynvlieg.com of gaan lees nog van my goeters op www.wynvlieg.com

2 thoughts on “Vol 84:Dankbaarheid ~ Die kringloop is voltooi”

  1. Ek is jammer, ek het nie my organisasie genoem nie, Carlen. Op daardie oomblik kon ek nie kies nie, maar ek dink ek sal dit graag aan ons plaaslike Lions groep wil gee. Hulle het ‘n opheffingsprogram wat die ‘Pink bibs’ genoem word. Die is die loslopers wat graag parkering aanwys of ander wat op straat woon. Hulle word gehelp om onder ‘n program te rehabiliteer, hulle word gehelp om ID’s te kry en ook ‘n bankrekening oop te maak. Hulle mag nie vir geld vra nie, maar vir wat hulle kry, word hulle gehelp om ‘n gedeelte te spaar. Dit is ‘n unieke program en het al uiters goeie sukses behaal.
    Mooi loop, groetnis xxx

    1. Oh my word Ronel, dis amazing! Sorry man, my terugvoer hier op die webblad was effe stadig!! Ons doen weer so iets in die toekoms en dan gaan ons definitief na hulle kyk!

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *