Gister myself goed in die spieël bestudeer
– het ‘n sessie met een van daai lewensafrigteringsgurus gehad. En eie aan my, een gekies wat vêr oor die waters is en mens in die tye net met ZOOM kan ontmoet. Maar hierdie een, sy was reguit hoor…nie sommer so ligtelike met my omgegaan nie.
En wragtag vertel sy my ek is ‘n perfeksionis. My lewe lank het ek gedink ek is darem nou nie so eng nie, sien myself einlik as die vryegees soort – kreatief, water van ‘n eend se rug af….en MEER belangrik, ek het wyd en syd verkondig dat ek ‘n baie realistiese mens is, geen melodrama hier nie. Ha-fokken-ha-ha!!!! Lekker lag sy vir my in my gesig!
Daar staan ek toe, spreekwoordelik in my geboortepakkie voor ‘n vreemdeling wat reg deur my kan sien.
Hier is die lys van dinge wat ek oor angstig is(my kind het gelag toe ek sê ek is angstig oor goed, en kind behoort te weet, want kind het ‘n diagnose en die uwe was nog altyd die een wat hom daardeur gesleep het.) So ek is bang ek verloor beheer, ek is angstig om verveeld te wees, ek moet produktief wees…en hoe dieper ek begin delwe, hoe meer kom ek agter hierdie perfeksionisme het sy kloue lelik ingeslaan.
Panodora se boks
Panodora se boks, as jy die donnerse ding eers oopgemaak het, kan die goed nie terug nie. Amper soos ‘n tas wat jy vir vakansie gepak het, koop so ‘n dingetjie hier en daar en dan as jy moet pak vir die terugtog, wil die tas nie toe nie. Jy sit op dit, druk hier, druk daar….maar orals peul daar goed uit. Nou ja, daar sit ek toe met my lewenstassie en die goed peul orals uit!
Hier kom die sielkunde!
Wie en wat ons is, het ‘n beginpunt, en ek praat nie van geboorte nie. Ons almal ervaar dinge elke dag, maar die gedeelte wat ons ervaar is net ‘n klein deeltjie van die groter prentjie. Maar ons realiteit, is presies dit, ONS REALITEIT. Ons het ‘n emosionele reaksie wat met daardie ervaring hand-aan-hand gaan. En dan soos die lewe aanstap gebeur daar goed wat bevestig dat dit wat ons glo, waar en reg is en boonop die enigste waarheid is wat daar bestaan. So bou ons ons waardestelsel, die dinge wat ons vas glo die absolute waarheid omtrent onsself is en die wêreld waarin ons leef.
Myne is dit
Ek is op 6 jarige ouderdom by ‘n skoolkoshuis afgelaai, deur die persoon wat ek die liefste in my hele lewe gehad het. Ek kon op 6 nie verstaan dat sy my daar sou aflaai nie. In my realiteit was ek nie goed genoeg om lief genoeg gehê te word om vanuit die huis skool te gaan nie. In my kop is ek afgelaai by ‘n vreemde, alleen plek. Dus het ek op 6 jarige ouderdom besef, ek is nie goed genoeg nie en daar begin my strewe om altyd “perfek” te wees, want dit sou my goed genoeg maak en waardevol in die oë van mense. Dit het gemaak dat ek elke liefdesteleurstelling gesien het as ‘n bevestiging van die feit dat ek nie goed genoeg is nie, dit het my verkeerde besluite laat maak oor ‘n huwelik, met verkeerde mans deurmekaar geraak – die soort wat NOOIT VAN PLAN was om te commit nie, net om aan myself te bewys – sien jy is nie goed genoeg nie.
Ek aanbid onafhanklikheid soos ‘n goeie afgod – want dit hou my veilig, dit maak my sterk en ek is in beheer.
Beheer, beheer, beheer! En toe ironies genoeg vind ek die ding wat my aanvaar nes ek is, die lover wat my invat, my streel, my goeie tye bied…sy naam is wyn.
Wynvlieg#oorit
Praat saam: As jy my wil kontak stuur ‘n epos aan vryheid@wynvlieg.com of volg my op Facebook
Ek het myself ook gevind deur die geskrewe woord. My stories is kru, bar, rou. Sal gesien word as dit uit lek. Maar ek het so ‘n groot behoefte om leeg te maak, ligter te maak.
Hello Wynvlieg
Thank you, this is very insightful
I’m glad you enjoyed it!