Wynvlieg | Vandag Sing My Hart

Vol 3: Vandag sing my hart#Dis heerlike lente

So ek is grootgemaak met die wete dat daar altyd mense is wat slegter af as ek is – in ons huis was daar nie kans vir kla nie.


Jy is of in die werk gesteek of baie mooi vertel dat “daar mense is met wie dit baie erger gaan as met jou” Maw die silwerrandjie is vir ons mooi ingekleur en uitgewys as ons net gelyk het of ons in ‘n put van selfbejammering wil verval.

Partydae wou ek ten hemele skree – “hoor tog net my hart bloei, ek soek ‘n bietjie simpatie” – maar vandag besef ek om dankbaar te wees, elke liewe dag is diè ding wat my deur soveel opdraandes al gedra het. En o wee – ons mensdom hou van kla hoor. En boonop het hierdie nuwe era ons dalkies net so ‘n klein bietjie te vêr langs die pad van “pak almal met handskoentjies aan” pad gelei. Kyk, moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is die wêreld se grootste voorstander van kognitiewe terapie – van praat as dinge moeilik is en almal het seer – maak nie saak hoe groot of klein jou trauma mag wees nie! Maar ek dink ons het ‘n mensdom geraak wat vergeet het om net bloot DANKBAAR te wees.


Om Dankbaar Te Wees

Dankbaar vir die feit dat jy op amper 50 darem nog jou blaas kan beheer.

Dankbaar vir Covid-19 wat vir jou ‘n bonus jaar gegee het met jou jong volwasse kind – wat nou voltyds by die huis moet wees en ‘n ordentlike grootmens geraak het. Een wat kan gesels en die rollende tieneroë agtergelaat het.

Wynvlieg

Dankbaar dat jy vir die eerste keer ooit deur die middel van die week met jou mense kan middagete eet om ‘n tafel.
Dankbaar vir werk en mense wat jou waarde kan sien. Waarde vir jou kreatiewe probleemoplossing; lag vir jou reguit en eerlike manier van dinge sê…mense wat weet jy wil help.

Dankbaar vir die engel van ‘n vrou wat nie net jou huishouding vir jou beheer nie, maar wat opdaag want jou ma is dood. Wat vir jou sms’e stuur om te vra of jy geëet het vandag – “because you have to be strong now.”

Dankbaar dat ek vir die grootmense in my huis koffie kan aandra en hulle vuil wasgoed van die grond af kan optel.
Dankbaar vir susters wat ondersteun – ongeag van wie of wat ek is; wat ek aangevang het en nog gaan doen. Want ons deel ‘n liefde en agtergrond wat niemand anders doen nie.

Wat is jy dankbaar voor vandag?

Ek is dankbaar vandag omdat dit heerlike lente is – die winter is verby. Ek kan hoor, ek kan sien en ek kan nog tik.

Dankbaarheid

Net 3 dinge elke dag – sal die silwerrandjies laat verskyn. En onthou “daar is altyd iemand met wie dit slegter gaan”

Voorwaarts!

Praat saam: As jy my wil kontak stuur ‘n epos aan vryheid@wynvlieg.com of volg my op Facebook

2 thoughts on “Vol 3: Vandag sing my hart#Dis heerlike lente”

  1. Weereens die ooreenstemming…Elsabé sê ek is ‘n skryfster van formaat. Ek het 18 hoofstukke klaar geskryf. My vraag is, wie sal belangstel om dit te lees?

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *