My ma sou sê mens stel jou eers ordentlik voor…
maar hier’s die ding, ek gaan onder die skuilnaam #wynvlieg skryf. Hier is te veel persoonlike goed en ek het òf myself nog nie vergewe nie of ek is nog nie dapper genoeg om al my vuilwasgoed sommer so op die draad te hang vir bure en wie-weet-wie om te sien nie.
Dus, ek is 47 jaar oud – op die oogaf heel gebalanseerd, suksesvol, wonderlike beroepslewe, ‘n familie om voor dankbaar te wees, fiks en gesond genoeg en darem nie te onaardig op die oog nie. Maar hier is die ding, dis alles oë verblindery en hulle sê mos hier na 40 en so nader aan die 50 begin mens so bietjie vrae vra, rondkrap in jou binneste en begin die naderende “goue jare” so bietjie aan mens vreet !
Vandaar die pelgrimstog – en glo my, hoe meer ek grawe in die verlede, hoe meer ek stil is in die hede, hoe meer berge moet ek oòr, maar oor gaan ek oor.
Hier is die ding, ek het medepelgrims nodig, want êrens moet ek voel iemand hóór my, iemand gee om, iemand help die las dra. Al is dit mense wat ek nooit gaan ontmoet nie, soos skimme in die nag, sommer net daar. En dis waar die dapperes onder julle, wat dit gaan waag om te lees en dalk ook julle stories met my te deel die pad korter gaan maak, die pas stadiger en dalk soms my help dra aan al hierdie bagasie.

So, hoe het ek hierdie “Camino de Curiousity” gekies? Ek was/is moeg, moer-toe-moeg! Moeg vir die alewige “geredekawel” in my kop – dit raak nooit stil daar nie. Dit praat en praat en praat en hoe meer ek dit stil probeer kry hoe meer raak die gepraat. (Moet nie nou paniekerig raak nie, ek is nie ‘n kandidaat vir permanente inwoning by ‘n psigiatriese eenheid nie!)
Stap, Stap, Stap
Die gepraat gaan gewoonlik oor twee goed….eet(“hoeveel kalorieë vandag al in – te veel koolhidrate – vaderland het jy dan geen wilkrags nie – eier of pap vir ontbyt” )en dan die nimmereindige #wynvlieg – die donner is vasbeslote….glip net vinnig in en dan zoem-zoem hy heeltyd rond…”dis 5 uur, waar’s daai Chardonnay, skink ‘n glas, wat ‘n dag! – oh, die opwinding, ons gaan vanaand uiteet, wonder watter wyne is op daai lys – drink stadiger, almal anders kan bietjies-bietjies drink, jy suip weer te vinnig – fokkit ek alweer in ‘n bloedige argument met Mnr G(manlief) gehad, haat myself en kan nie eers onthou wat ek gesê nie.”
Na die hoeveelste babbelas wakker word, die wonder hoekom ek nie brieke het nie, die wete dat wyn, my geliefde wyn nie my beste vriend is nie….dus in ‘n poging om van die gezoem in my kop weg te kom, het ek die wandelstok opgeneem en dreunsing….STAP, STAP, STAP….bly net aan die beweeg!
Praat saam: As jy my wil kontak stuur ‘n epos aan vryheid@wynvlieg.com of volg my op Facebook
Dit voel of ek myself hier belees. Is jy seker ons is nie ‘n tweeling nie? My demons us well anders as joune maar daar is so baie wat ooreenstem.
Brawe vrou – oor en uit!
Pingback: #thisisit | Wynvlieg Blog | Vol 73: Om Vry Te Wees
Vir party van ons begin die gepraat eers later, in ons 50s. Dan wonder jy by jouself, waar de hel het dit alles begin? En dan kom daardie gepraat praat praat in jou kop wat maar net nie wil ophou nie terwyl die swart hond jou bekruip en dan is jy in jou m@$r. Nee wat, dis nie so erg as jy jouself met ander omring wat soos jy praat en soos jy voel en dapper genoeg is om ook hulle stories te deel nie. Dan lees jy, en jy luister, en jy kry moed vir die dag van more
Hallo Miena! Ai jammer man, ek sien nou eers hierdie wonderlike inskrywing van jou! Moet met die Manne praat – die algoritme ding werk nie lekker nie!
Anyhow! Jy is so reg, mens bly lees en lees en ek is so dankbaar vir elke liewe mens wat vir my terugskryf. Elkeen wat sê – ek sien jou, ek hoor jou, ek IS jy. Dit maak alles die moeite werd.
Binnekort stap ons almal lekker saam!
ASB skryf vir my by vryheid@wynvlieg.co.za. Ek laaik ‘n penvriend!
vryheid@wynvlieg.com
Pingback: #celebrating100isathing | Vol 100: “Eeufees” Vieringe