So waar het hierdie epiese liefdesverhaal met #wynvlieg begin wonder julle seker. Ons almal het ‘n storie…glo my. #love affair with wine in wording.
Grootword in die 80’s
Ek het in ‘n goeie, Christelike, algemene, heilige huis grootgeword. Die NGK se banke elke Sondag besoek, hardwerkende ouers – mense wat die smalle weg bewandel het. Die meeste drank wat ek my familie sien drink het was EEN glasie bier uit ‘n quart wat my pa toegelaat is na ‘n warm dag in die boorde en dan die nagmaalglasie wat in so ‘n silwer skinkbordjie, ewe gewyd aangestuur is in die kerk. Garage partydjies met skottelbraai’s was aan die orde van die dag – maar niemand wat ordentlik was het ooit hulle lippe aan enige alkohol gesit nie. Diè wat wel het, was van die onderdorp en geen mens weet watter sondes als daar geskuil het nie.
Matieland…Spier uitstappies…Belofte
En toe gaan ek universiteit toe. Kan nie sê ek was desperaat vir vryheid en het my na die eerste, beste bottelstoor gehaas om gepleister te raak nie. Dit was maar net die ding om te doen – Vrydagmiddae het al die BA studente in karre geklim om op Spier se grasperk te gaan wyndrink. Dit het belofte ingehou van ewige liefde vind, pure, sorgvrye genot. En ek het. Maar myne het in ‘n bottel gekom, met wonderlike, romatiese, komplekse geure en stories. Ek kon in my lover se arms ontspan, ek het lig gevoel, ek het ingepas en was geliefd en sexy en deel van die groep. #love affair with wine het begin!
Rewind na my tienerjare, ek was altyd op die rand van die “in” groepie. Ek was net eenvoudig anders as die res – het nie die trompoppies gemaak nie, die eerstespan or for that matter geen rugbyspan se kaptein het my êrens heen gevra nie. Ek kon sing, ek kon drama doen, ek kon skryf – maar nie een van hierdie eienskappe en veral nie my “ou siel” het vir aantreklike dating materiaal gemaak nie. Ek het net nooit, regtig lekker in die legkaart van tienerwees en gewildwees gepas nie. So, my verweer was om perfek in ander opsigte te wees. Ek was goed, ek was op die leerlingraad, ‘n hoogdogter êrens, die koerant se redakteur, akademies goed. Maar wat ek eintlik wou wees was sexy, sportief, gewild…ek wou êrens hoort – iemand se goed genoeg wees. #someones love affair
Goeie ou Tassies!
En toe daag daai lieflike bottels Tas op – die romantiese wêreld van wynplase en naweke gevul met goeie tye en die lojale bottels wyn was ewig trou. Om eerlik te wees – ek kan nie juis die wyn onthou nie en quite frankly het ek toe ook nie ingepas nie. Maar daar was ‘n ligtheid wat dit alles minder pynlik laat voel het. En toe, toe raak en ‘n wynvlieg. #love affair with wine is gesement!
Die love affair het erenstig momentum opgetel toe ek so 25 was en my eerste werk in die advertensiewêreld gekry het. Tot vandag voel my hart lig as ek aan daardie dae dink. Ek het tuisgekom, vir die eerste keer in my hele lewe het ek gevoel ek behoort. Ek was goed genoeg – in fact ek was briljant. Diè mense was my mense, ek het net ingepas. Maar advertensiewese in die 90ste was gekenmerk deur harde werk, maar hard drink ook. ‘n Kroeg in elke agentskap, deadlines en daardie verpligtende drinks na werk saam met kliënte.

En ek het gevoel of ek sweef – alles was eenvoudig net goed en lekker en onvergeetlik. As ek nou terugdink aan hoeveel keer ek dronk op die hoofweg huis toe gery het, hoe ek opgegooi het op my skoot een middag oppad huis toe, my kar in die parkeergarage geskraap het in ‘n ligte waas van 5 glase wyn – sidder ek. Maar almal het dit gedoen, almal kon net wees en niemand het regter gespeel nie. Ek was vry!
Vandaar het dit net lekkerder gegaan – ek het my lang en wonderlike beroepslewe voortgesit en by my eertydse wynkliënt aangesluit as ‘n permanente lid van die span. En om te sê ek het ‘n droom loopbaan gehad, die mees wonderlike ervarings, die beste plekke in die wêreld gesien en uiteindelik so suksesvol geraak dat ek in die gesig van my voormalige gewilde tienervriendinne kon lag…is ‘n understatement. En hierdie lewe dames en here, was moontlik gemaak deur wyn, wonderlike wyn! #love affair with wine was forever after.
Maar toe op die 14de Junie 2020 raak ek wakker, met die nou reeds welbekende babbelas en ek weet net, hierdie lover het in my vyand ontaard. Hy het my lewe begin steel en dat ek agter sy rokspante geskuil het vir tè lank. Hy gaan my en al my verhoudings uitwis.
#dear wynvlieg, ons moet praat
#love affair with wine is op die randjie van uitwissing!
Voorwaarts!
Praat saam: As jy my wil kontak stuur ‘n epos aan vryheid@wynvlieg.com of volg my op Facebook by @wynvliegoorit
Dankie vir deel
Hi Pam, baie vir die lees! Ek hoop daar is nog goed in die toekoms waarby jy kan aanklank vind of met jou vriendinne kan deel. Dis tyd dat ons van ons bagasie ontslae raak. Lekker dag verder!
Love love love jou storie. Voel of dit my storie kon wees. Baie dankie. Ek sien uit na nog.
Baie dankie Erika. Ek gaan so voortdoen. Dink ons klompie Afrikaanse vrouens het ons eie unieke ervarings en geskiedenis. Ek hoop mense vind dit ook ‘n platform waarop hulle, hulle stories kan deel. Lekker dag verder en asb versprei die woord op sosiale media. The more the merrier!
Pingback: #thisisit | Wynvlieg Blog | Vol 73: Om Vry Te Wees
Pingback: #growingpains | Vol 135: Uiteindelik Groot?