Wees nou maar eerlik – hoeveel van julle was al effe bekommerd oor julle drinkgewoontes? Hoeveel het al na ‘n vreeslike jolige naweek of een van daardie lekker Vrydagaande saam met pêlle – die volgende oggend Google nadergehark en skelm(soos een wat stoute foto’s op die internet soek) die volgende, of iets derglik, ingetik: “Am I an alcoholic?“
Dis amper soos om jou BMI uit te werk – ek weet nie, maar ek bly ondanks my gesonde eetgewoontes en my streng oefenprogram altyd amper oppad vetsug toe. Netso met die ou toetsie op die internet, wat mens se drankgewoontes van naderbeskou. Maak nie saak hoeveel verskillende platforms mens besoek nie, die antwoord bly altyd dieselfde.
“Wees gewaarsku, jy is afhanklik – kyk na jou drank inname!”
Is drank ‘n probleem?
Vra jy jouself gereeld die volgende vrae af, of stem jy saam met die stellings?
- “Ek drink gereeld terwyl ek alleen is”
- “Ek drink om te ontspan”
- “Ek geniet daardie ligte buzz wat ek kry as ek drink – so asof al my sorge verdwyn”
- “Dis net makliker om te sosialiseer met ‘n glas wyn in die hand”
- “Ek vind ek drink nou meer as ’n paar jaar gelede”
- “Ek is wel vertroud met ‘n daaglikse of naweek babelaas”
- “As ons sosialiseer het ons ‘n glasie in die hand”
- “Ek vind as ek drink, kom die agressie in my uit en die mense naaste aan my het al goed deurgeloop onder my tong”
- “Daar gaan selde ‘n dag verby wat ek nie drink nie”
- “So teen vieruur begin ek al met groot genot uitsien na daai glas wyn na werk”
- “My drinkgewoonte maak ‘n goeie duik in my begroting”
Vir diè wat nog nie daar was nie, maar nou ‘n skuldgevoel soos groot soos die heelal het – hier is een van daai! Vul dit in – en hulle stuur vir jou die resultate.
Gatvol verby!!
So, op die 14de Junie 2020 sit ek toe met die uitslae, die babelas en die skuldgevoel en ‘n goeie skoot GATVOLGEIT. #I am an alcoholic (of goed oppad!)
Die hoekom’s en waarom’s
En ek besluit om te begin skryf – net skryf soos dit uit die pen uitrol. My gatvolgeit te verwoord en die waaroms op papier te kry – sodat hulle my in die gesig kan staar. Waarhede soos hoekom ek wil ophou drink, hoekom ek uit hierdie giftige verhouding wil uit!
Die lys lyk toe so!
- Ek wou die konstante geredekawel in my kop stilkry! Die, “dis amper 12 uur, wonder of dit te vroeg is om my eerste glas wyn te skink;” “drink stadiger – almal anders kan hulleself beheer;” “ag f^$^%k tog, alweer te veel gedrink – wat het ek alles kwytgeraak gisteraand?;” “wat dink die mense van my;” “ hoekom kan jy nie net soos ‘n gewone mens drink nie;” “hoekom is jy so ‘n swakkeling?” Die geleerdes noem hierdie kognitiewe dissonnasies – maar meer hieroor later. Ek is seker jy het jou eie lysie – myne is langer, maar ek dink die boodskap is duidelik. #Gatvol vir jou wynvlieg
- Ek wou ‘n beter verhouding met my man hê. Beide van ons is vurig van geaardheid en as die voggies eers trek is daar geen keer aan ons “redenasie” vermoëns nie. En om eerlik te wees, ek wou nie weer eenkeer in my lewe hoor: “Weet jy ooit wat jy gisteraand gesê het” nie. Ek hou nie van verloor nie….
- Hier is ‘n baie, baie hartseer bekentenis – ek het verskeie kere tevore al gehoop ek ontwikkel een of ander gevreeste siekte wat my sou verplig om op te hou drink. Hartverskeurend nè? So, om te sê ek wou gesonder wees is seker nie ‘n verrassing nie…ek is nie oorgewig nie, ek oefen ses dae ‘n week – so ongesond is ek nie. Maar ek het geweet my hipertensie-intesiewe-eenheid besoek vier jaar terug was nie net agv stres nie.
- Ek wou beter slaap. Ek was my hele lewe lank nog ‘n liefhebber van slaap – maar met menopouse en die lekker glas(e) Chardonnay of Cabernet in die aand, het ek teen 2vm wakker geword met ‘n goeie nagsweet. En die siklus van skuld-skaamte-spyt wat lekker oor-en-oor in my kop rondmaal! Was gerieflik om menopouse die skuld te gee – maar laat ek julle vertel, spyt kom altyd te laat!
- Ek wou gewig verloor – wie wil dan nou nie?! Dit kan ek met alle eerlikheid sê was ‘n groot wortel wat ek voor my eie neus rondgeswaai het – dan kon mense darem ten minste my GROOT OPOFFERING gade slaan en genoegsame koergeluide maak! Ook maar mens!
- En ek wou net vir ‘n slag – net opdaag vir my lewe….soos in heeltemal net dáár wees. Nie in ‘n waas van wyn nie.
‘n Verhouding wat suur geraak het
Die harde werklikheid was – wyn het ek so verromantiseer, dat ek soos ‘n vrou in ‘n giftige verhouding maar net die bloukolle, die verbrokkelende vertroue, die selfhaat misgekyk het. En dag na dag net weer teruggekeer het na daai èèn glas…wat ‘n bottel geraak het. ‘n Dief in die nag!
#I am a gatvol nearly there alcoholic
Voorwaarts!
Praat saam: As jy my wil kontak stuur ‘n epos aan vryheid@wynvlieg.com of volg my op Facebook by @wynvliegoorit