Ek is gatvol gedink aan drink. Daar het jy dit nou – moeg, siek-en-sat, moer toe! Ek het nie FOMO nie ek het VWT(vrees vir wyn te kort).
Die nugtere waarheid
Volgens die woordeboekdefinisie is NUGTER: bedaard, besadig, droog, sober..laat ons nou maar eerlik wees klink effe vaal Sannie! Dis glad nie hoe ek myself sien nie – ek is ‘n warm, kreatiewe, spontane , opgewekte mens…’n alles-of-niks persoon! Ek doen NIE dinge halfpad nie. En wyn, wyn lyk net soos ek! Wyn is my pasmaat!
Hoekom kan ek nie soos ‘n gewone mens drink nie?
Maar ek is so moeg-gedink-aan-drink. Soos ek voorheen genoem het, ek is een van die gelukkiges. Ek het nie in ‘n bodemlose put verval nie, ek het nie arms gebreek, steke ooit gehad of in die hospitaal opgeeindig agv van my wynliefde nie – ek ag myself gelukkig. Maar hoe dit ookal sy, my geliefde wyn het my eenvoudig net nie goed gedoen nie. Ek het so ‘n diepe begeerte gehad om tog net soos ander “normale” mense te kan drink – die gelukkige middeweg sou wees om gematigd te kan drink. Ai, net deur dit swart op wit te sien laat my lekker lag. Ek is nie ‘n gematigde persoon nie – hel ek sou graag wou wees, maar ek is nou maar eenmaal net nie so aanmekaargesit nie. #tiredofthinkingaboutdrinking is eintlik ligtelik gestel!

Realiteite
Ek het die gematigde drinkding al probeer om eerlik te wees…die gedetaileerde beplanning in my kop sou die FBI en CIA ewe beindruk het….
- Maandag tot Vrydag geen wyn(Realiteit…kners omtrent my tande deur elke dag; dink sporadies aan wyn; droom oor ‘n glas; verwens die mense wat wel vanaand ‘n glasie gaan skink; wonder hoekom ek so swaar moet kry…teen Donderdag is die wilskrag op en skink ek daardie welverdiende glas!)
- Word om 2vm wakker: Skuldgevoel-skaamte-verwens myself, neem ‘n besluit dat vandag diè dag is wat ek nie weer gaan swig nie. (Realiteit: teen 4nm begin daai wynvlieg sy rondtes doen…zoem-zoem-zoem….vlieg in die salf, skink daai glas!)
- Bied aan om die aangewese bestuurder te wees….(Realiteit…ek raak so geiriteerd dat ek wil gil, vies vir Mnr G omdat hy mag drink en ek soos ‘n droëbek daar moet sit. Wens die aand om, want al waaraan ek kan dink is hoe ek uitmis en ingedoen is. Arm ek!)
- Ek sal meer water drink….my vriende ken my as die een wat altyd ‘n bottel duur borrelwater saambring of sommer ‘n groot bottel vir myself bestel(Realiteit…hulle besef nie dat dit een van my strategieë is om myself minder te laat drink nie…waarin ek heeltemal faal, want ek drink sommer die hele bottel wyn en ‘n bottel water stil-stil op my eie uit in rekordtyd!)
Ek raak sommer moeg net om die goed te lees – so moeg vir daardie wynvlieg wat heeldag, aldag in my kop rondzoem. Die gezoem van die bye gaan die liedjie mos…wel in my geval is dit een van daai irriterende donnerse vet, blou wynvlieë wat die hele dag in my kop rondvlieg. So moeggedinkaandrink#tiredofthinkingaboutdrinking
Waar is die vlieëplak!!!
#wynvlieg wees gewaarsku! I’m tired of thinking about drinking
Interessante artikel: https://www.theguardian.com/society/commentisfree/2020/oct/28/well-done-on-your-sober-october-but-youll-need-a-plan-to-remember-for-november
Maak kontak – as jy wil praat, jou pittigehede of grillerighede wil deel, ek luister graag! Dalk is jy ook moeggedinkaandrink! #tiredofthinkingaboutdrinking.
As jy my wil kontak stuur ‘n epos aan vryheid@wynvlieg.com of volg my op Facebook by @wynvliegoorit