Ek vermoed die idee van ‘n bietjie afstand sit tussen jou en daardie glas is genoeg om jou na die berge te wil laat vlug!
Maar as jou verhouding met die inhoud van daardie glas, blikkie of beker jou effe ongemaklik laat voel en jy voel dis tyd vir ‘n bietjie afstand of selfs ‘n “dear Johnnie” brief, is dit tyd om die groot sprong te maak. #take a break darling, take a break!
Wie, ek ‘n verslaafde? Nooit!
Ha – makliker gesê as gedoen nè?! Vir jare kon ek myself troos dat ek darem ten minste vir 4 dae sonder alkohol kon gaan. Duidelik ‘n teken dat ek nie ‘n verslawende geaardheid het nie.(By the way, daar is geen wetenskaplike bewyse nog gevind dat daar so ‘n geen is nie!) Toe wonder ek hoekom kry ek so ‘n beklemming op die bors kry bloot aan die gedagte dat ek dalk vir ewig en altyd die voggies van Bacchus vaarwel gaan moet toe roep? #not so easy keep on taking a break!
Die onderbewussyn is ‘n magtige ding!
Ek bewapen my toe so ‘n bietjie meer met kennis oor die onderbewussyn en die identiteit wat ons oor jare opbou. (https://www.georgiebeames.com/?s=subconscious+identify) Ek glo byvoorbeeld al van my tienerjare af ek is vet. En die feitelike waarheid is, ek is nie vet nie. Maar bloot omdat ek myself wysgemaak het ek is en my liggaam nie supermodel status sal bereik nie, het ek doelbewustelik sekergemaak ek eet nie ‘n 100% gesonde dieet nie; ek drink heelwat meer as die toelaatbare hoeveelheid alkoholeenhede per week. En ek het myself ook goed wysgemaak ek is ‘n wyndrinker…en ‘n wynsnob daarby! So daar is my identiteit: Ek is ‘n vet vrou van 47 jaar oud, met gee wilskrag nie en dus het ek geen beheer oor wat ek eet en drink nie. En boonop werk ek hard, so ek verdien darem so ‘n bietjie bederf ook! Wham thank you madame!
Die slagoffer mentaliteit
Ek het my mag weggegee. Lees mooi, ek het ‘n slagoffer van wyn en kos geraak! Ek het my mag weggegee, ek het hulpeloos geraak. En ek doen nie slagoffer nie! #take a break.
So hoekom is ek so vreesbevange om dit op te gee – ek weet tog wat my hoekoms is, dis klinkklaar. Maar toe dog ek dalk moet ek die saak ‘n bietjie van naderby bekyk. Wat presies ek dink ek gaan verloor as ek wyn verwaarwel toeroep.
Waarvoor is ek so skrikkerig?
Hier is my lys – in geen spesifiek orde nie!
- Werk stres my uit – om te ontspan skink ek met die intrapslag by die huis ‘n lekker groot glas Chardonnay. Sjoe wat ‘n verligting en ek verdien dit mos. (Hallo Rebel!)
- Ek moet van ratte verander – hier so teen 5nm voel dit ek het net ietsie nodig om die dag van ‘n dolle gejaag na ‘n stadiger pas af te gear. Die wyn, die wyn vir die pyn. (Hallo angs!)
- Dit laat my meer sexy voel – maak my bietjie meer gewillig in die bed. (Ek vermoed dis iets wat baie vrouens glo)
- Dit maak my meer kreatief – as ek aan daardie voorlegging moet werk, skink ‘n glas en die woorde vloei sommer.
- Dit maak enige geleentheid net fun – ek kan werklik die geleenthede op my een hand tel wat ons nie rondom wyn of eet beplan nie. (Ons is baie trots op die feit dat ons food&wine travellers is. https://worldfoodtravel.org/what-is-food-tourism)
- Ek is absoluut mal oor die smaak van wyn. Ek is bekend daarvoor dat die volgende wysheid al by my mond uitgekom het: “As wyn maar net nie ‘n mens dronk gemaak het nie, sou ek dit soos water drink” (Bekentenis …ek doen dit in elk geval!)
- Ek is ‘n snob, ek drink nie sommer enige alkohol nie, ek drink nie vir die effek nie…ek drink want dis gesofistikeerd. (Ha…ha…might as well be the snobbish drunk then!)
- Wat op aarde gaan ek met al my tyd doen? Hoe gaan ek my tyd verwyl oor naweke? Ek kan tog net nie so vervelig wees nie!
- Wat gaan ek doen as ons saam met vriende uitgaan? Of na ‘n braai genooi raak en ek moet aan ‘n glas water teug, terwyl almal anders heerlike, heerlike wyn drink?
- Wat gaan van my sosiale lewe word??
Die Patroon
Slaat die klompie punte toe bymekaar en sien ‘n effens patroon – ek is bang ek mis uit en ek vermy verveelheid soos die duiwel die slypsteen!
Wat is jou lys? Ek sal graag wil hoor!
As jy dalk ‘n breek(#take a break) wil vat en ‘n plan nodig het, daar is ‘n legio programme daarbuite wat kan help. En hou die spasie dop – ek gaan vir ons ‘n 30 dae #wynvlieg – hoe-om-die-dop-onder-sy-gat-te-skop plan bymekaar te sit.
Praat saam: As jy my wil kontak stuur ‘n epos aan vryheid@wynvlieg.co.za of volg my op Facebook by @wynvliegoorit