Om te sê ek is judgy is dalk om te pleit vir versagtende omstandighede
As die mense rondom my kon weet hoeveel keer ‘n dag ek myself weeg en te lig bevind, sal hulle seker dink ek is een of ander sadis of masogis. #weighing in
Sien, dis die geneuk met die perfeksionisme-storie, die alewige gestrewe na beter, beste, botter! En natuurlik is die backseat driver daai stemmetjie wat heeltyd fluister – not good enough, not good enough. #weighin in en te lig bevind
Vir die wat nog nie Brené Brown se TedTalk gesien het oor kwesbaarheid
nie, doen jouself ‘n guns. Iets wat sy gesê het êrens, was ‘n allesoorheersende AHA oomblik vir my: “When perfectionism is in the driving seat, shame is riding shotgun and fear is in the left back seat”
Kon die titel van my lewensverhaal gewees het!
Hier’s hoe die selfkritikus in my kop aangaan – dalk kan een van julle daar buite ook hiermee identifiseer:
Bewysstuk A
Gymsessie in die oggend – nou dat ek aandag gee, hoor ek myself met die sweepie slaan – “is jy seker jy werk hard genoeg – was die sessie lank genoeg – kyk net al die lemoenskil – hoekom is jou gewigte so lig…gaan ook nooit fikser of maerder kom nie.”
Jy weet ipv dalk myself bedank vir die vars lug wat ek deur my are laat bruis en vir die feit dat ek vir myself opgedaag het. En dalk, net dalk gedoen het wat my liggaam daardie dag nodig het. Hoe’s daai vir ‘n nuwe verfrissend idee!? #weighing in en te lig bevind!
Bewysstuk B
Kom ons bly by die oefening – beserings, ha…watse beserings, ons oefen reg deur hom! Die vrees dat ek gaan uitmis, minder fiks as my mede gymbuddies gaan wees; dalk 100g meer gaan optel oor die twee dae wat ek uitmis, is verlammend en maak dat ek elke keer opstaan, aanhou en my liggaam goed deur my gat trek.
Ek weet – julle kan maar jullese koppies knik – ek sien julle daarbuite saam met my sweet en kreun en steun! Wonder soms, wat as ek dalk daai twee dae rus – sal ek regtig nooit, ooit weer daai fiksheid behaal nie? Maar ek het iets wat hulle ‘n vrees vir “tekortkom” noem. Dis die basis van FOMO verstaan ek. Ek vrees ek gaan uitmis; te min kry; agtergelaat word…hoekom? Want dan is ek òf my lewe nie perfek nie, nie goed genoeg nie.
BASTA sê ek!
Bewysstuk C
Wyn en en kos – kyk dames en here, as julle nou kognitiewe dissonansie op sy stukke wil sien – kom leef hier in my kop! Fokkit ek het dit bemeester ek sweer!
“Word wakker – tog nie te vroeg iets eet nie, want wat as jy weer honger word te gou en dan eet jy weer en word net dikker by die dag. Sien ou vettie – jy het geen wilskrag nie, jy is net vet en ongedissiplineerd en verdien om nooit, ooit gemaklik in jou lyf te voel nie.” Klink dit dalk bekend? “Druk sommer nog ‘n ou Romany Creampie in die keelgat af – jy is ieg useless. Sal ook nooit lean and mean wees nie. Jy is net dik gebore en so gelaat staan!” #weighin in en te swaar bevind
Wilskrag het toe geen krag!
Ek hoor by die geleerdes – wilskrag is soos petrol in jou kar. Dit raak op – dis nie soos die weduwee se kruik nie en net ter inligting, party mense het nie groter tenks as ander nie. Ons het “meer” wilskrag vir dinge waarvan ons eintlik hou – maw, ons gebruik minder wilskrag om diè dinge waarvan ons hou te doen. So bv is ‘n gym sessie 6 uur in die oggend vir my maklik en vir Mnr G absoluut die grootste straf denkbaar. Ek roem my natuurlik op wilskrag en dissipline – maar dis ‘n bol anderdinges…dis net omdat dit vir my “makliker” is. #weighing in on willpower het sy gat gesien
Vergifnis is ‘n wonderlike ding
So nou wonder ek, as ek dalk net meer vergewensgesind kan raak – meer lief vir myself en dalk elke liewe dag dink aan wat goed is vir my lyf en my gees op daardie spesifiek dag. Wonder of ek dan minder moeg baklei sal wees in my kop – minder ander mense sal verwens en terregstel, omdat ek sommer net gatvol is dat hulle almal klaarblyklik so maklik deur die lewe sweef.
In die woorde van Auntjie Stienie: “Weet ook nie hoekom ek dan nou so moet suffer nie!”
#weighin in is vir die voëls
Voorwaarts mars!
As jy wil saampraat of met my korrespondeer, stuur ‘n epos na vryheid@wynvlieg.com of gaan na my webblad by www.wynvlieg.com. Facebook liefde kan gedeel word op @wynvliegoorit