As jy vir mense wat saam met my op skool was, doer in die tagtigs, enigsins sou noem dat ek 15km wedlope sou hardloop en heeltemal verslaaf sou raak aan die gym, sou hulle uit hullese magere gelag het.
Kyk dinge werk mos sò op skool – as mens nie ten minste in die eerste of tweede span is of hol soos ‘n springhaas nie – dan is jy eintlik net daar om die spanne vol te maak. Deesdae het hulle darem die ordentlikeid of sal ons sê skynheiligheid om die marteling vir die niè so sportiewes onder die dekmantel van “deelname” weg te steek. #thetruthhurts
En die liewe Vader het my nie ‘n springhaas of ‘n vlinder of ‘n trompoppie gemaak nie. (Duidelik nog diepe emosionele skade op die front!🤪)
So gesond soos dit kan kom!
Maar nou suster, nou is daar geen keer aan my nie. Dis Fitbox, dis Yoga, dis perdry en hardloop. As ek eendag oorslaan is ek gek soos ‘n gans! Al gedreig as die wind te erg buite waai, sal ek myself aan ‘n boom vasmaak en soos ‘n hond wat “op draad gesteek” is al in die rondte hardloop.
Nou bly die groot vraag – hoekom is ons so gesondheidsbewus, maar ons is so skyt bang om ons gewoontes met wyn of ‘n ander voggie te bevraagteken?
Vitamiene by dosyne
Ons is super bewus van wat ons in ons monde druk en die gevolge daarvan. Die dieetbedryf maak ‘n killing onder ons. Ek lag soms lekker in my mou as ek hoor hoe mense op weke se walglike sappe gaan om te detox, hoe hulle brood uitsny, ‘n bok in ‘n blaarslaailandery ‘n go sal gee, of soos ‘n grotman net vleis eet, heeldag en aldag. Want deur die dag is ons tog so gesondheidsbewus, maar kom die #wynvlieguur, dan pop daai prop of die skroefdop skroef en ons sluk.
Maar kom aan – ‘n glas of twee per aand is is mos darem nie so erg nie. Ek was al by verskeie medici wat sterk aanbeveel het ek drink ‘n glas of twee per dag. Vaderalleen weet hoekom, seker om te ontspan of iets!?

Hier kom die lelike waarheid nou!
Die UK Chief Medical Officers(dis nou die grootste van grootkoppe daar op die eilandjie) het so vêr terug soos 2016 ongelukkig reeds bevind dat enige inname van alkohol ons kanse om verskeie vorms van kanker te kry, vergroot. #thetruthhurts my vriendin. New Alcolohol Guidelines Show Increase Risk Of Cancer
Nou as jy ek is, is jy bang vir die GROOT K.
Kyk ons almal sal graag eerder net dood wil neerslaan of deur ‘n trein getrap raak as om Alzheimer se siekte of kanker te kry. Maar ek, ek persoonlik vrees kanker die meeste. En ironies genoeg het ek maar blindelings voort gedrink, want wyn is mos darem gesond indien matigheid(met die klem natuurlik op MATIGHEID) voor oë gehou kan word.
Wat is matigheid volgens hulle nou eintlik – wel dames en here, dit kom neer op ‘n asemrowende 1 en ‘n halwe bottel wyn per week.
Ek het mense al goed dopgehou as ek die ou brokkie nuus met hulle deel. Ek sien sommer hoe die verligting oor hulle spoel, want niemand drink duidelik sò baie nie. Tot ek so bietjie begin uitwys dat dit letterlik slegs 7 glase vir een hele week is.
Hier in my geweste gaan mense sommer so direk na werk gou by ‘n wynplaas inval vir ‘n glas of twee(oeps, 2 glase gone en die braaivleisvure brand nog nie eers nie); dan so tweetjies of drietjies tuis. Saterdag(lees voor PANDEMIE) drink die dames ‘n bubbles by die klubhuis na die kinders se krieketgame, of ‘n lekker ou koue G&T’tjie en dan vanaand vat ons vas by die vrinne se braai. Sondag het ons so ‘n effens van ‘n naarte oor ons, so net so twee glasies koue Sauvignon Blanc saam met die Sondagmaal, dankie liefie.
Klink bekend nè – so voor jy jou oë uitvee het jy 3 bottels in!
#thetruthhurts – dis sommer varkerig
Die goue randjie het sy gat gesien
Die een ou ligpuntjie is darem dat navorsing bewys het dat daar ‘n moontlikheid bestaan dat hartvatsiektes onder vroue verminder as hulle matig drink. Maar hiers dié ding – jy moet die klok oor die 55 slaan en dan mag jy net twee glase PER WEEK drink. WIE DOEN SO IETS in elk geval – wat is die punt!?
Ek was uiters goed met die “drink-niks-deur-die-week-nie” reël – wel meeste van die tyd. Maar toe kom pee hulle lekker op my parade met die nuus dat om al daai wyn te los vir die naweek ‘n mens se kans om lego gevreesde siektes op te doen, wragtag verhoog!
Die drol in die drinkwater
Nou hoor ek julle al luidkeels skree: “#wynvlieg hori, daar is dan bewyse dat rooiwyn goed is vir ‘n mens?” Ja die goeie nuus is julle is reg, om rooiwyn te drink het sy voordele. (Oe, oe hoe fladder daar nou so ‘n ligte opwinding in die maag nè!) Verskeie studies het bewys dat resveratrol (Dugs.Com) , ‘n antioksidant wat ook in rooiwyn voorkom, die mens se hart kan beskerm.
Maar hier is die drol in die drinkwater – resveratrol kom voor in die druif se dop(dus die rede hoekom rooiwyn en nie witwyn die goeie reputasie gekry het; want rooiwyn kry diè kleur van die doppe af.) Maw, mens kan dus eerder ‘n druiwekorrel pop – want rooiwyn bevat ongelukkig alkohol, en alkohol = ethanol.
In 2018, het The Lancet(‘n hoogsaangeskrewe mediese joernaal) ook bevind rooiwyn mag gesondheidsvoordele inhou, maar dat die nadele en kanse om kanker en ander gevreesde siektes te ontwikkel veel groter is.
Dis maar eintlik so bietjie soos om te sê ons eet ‘n appel wat met jik afgewas is, want ‘n appel ‘n dag doen mos daai wonderlike ding – maar ons ignoreer die skade wat die jik aan die liggaam kan aanrig.(Klink super belaglik om dit net te lees!)
#thetruthhurts want niemand hou daarvan nie
Eva is nie na die beeld van Adam geskape nie
En laaste maar nie die minste nie – al gehoor ‘n vrou se liggaam breek alkohol anders af as ‘n man sin? Eerste stront is dat vrouens kleiner hoeveelhede van die ensiem ADH (You And Your Hormones) in ons liggame het. Die rol van ADH is om alkohol af te breek en daarvan ontslae te raak. Tweedens het vrouens ‘n hoër persentasie vet as water in hulle liggame(enige iemand verras hierdeur?😆) en dus metaboliseer ons alkohol anders. Alkohol gaan dryf op die water en ons watermassa is te min. Ons poel is te klein!
Oor en uit, klaar gepreek (#thetruthhurts) – maar shit het die bietjie navorsing die wind uit my seile gevat! Dammit man, ek is dan so oppit as dit by gesondlewe kom. By day a dietitian and by night I self-destruct!
Ek is net hier – so praat met my. Vra my vrae, gebruik my as jou penvriend…ek luister graag! vryheid@wynvlieg.com of gaan verkondig die waarheid@wynvliegoorit