Wynvlieg | #everythingisf*cked

Vol 14 : Wat is jy bereid om die stryd voor te voer?

As Leonard Cohen my eerste groot crush was, dan is Mark Manson, skrywer van die boek, #everythingisf*cked my cougar crush

Die man sê ‘n ding nes hy is, niks heuning smeer en derglike onbenullige bol nie. Hy praat sommer net padlangs en hy maak sin. #everythingisf*cked

Soos Honde Op Hitte 

In een van sy mees onlangse blogs raak hy aan ‘n ou teerpuntjie oor die mensdom en veral die era waarin ons leef – waarin alles en almal wat leef en beef, en sommiges ek sweer net-net genoeg energie bymekaar kan skraap om asem te haal – met die druk van ‘n knoppie, die pop van ‘n pil, met vals wimpers en fake naels geluk najaag soos ‘n klomp honde op hitte! 

“Everybody wants what feels good. Everyone wants to live a carefree life, to fall in love and have amazing sex and relationships, to look perfect and to make money, and be popular and well-respected and admired and a total baller to the point that people part like the Red Sea when you walk into the room. 

Everyone would like that – it’s easy to like that”  Mark Manson


Maar dit klink heeltemal te goed om waar te wees en as jy ‘n Mark Manson aanhanger is, sal jy weet, daar is ‘n kinkel in hierdie kabel. Die meer pertinente vraag volgens hom èn MY natuurlik(soos dit ‘n ordentlike groepsaanhanger betaam,) is waarvoor is jy bereid om te suffer? Watter pyn en ongemak is jy bereid om te verduur en watter geswoeg sodat jy ‘n beter lewe kan lei? Een wat jou elke dag met verwondering en opwinding vul, ONGEAG die pyn. #everythingisf*cked verseker

Draai sy nek om, gooi hom in die sloot!

Ek het ‘n kleintjie dood aan luiheid. Kom ek herhaal, EK HET ‘N KLEINTJIE DOOD AAN LUIHEID. Sal selfs so ver gaan as om te sê dat ek van mening is dat mense wat kies om ‘n mediocre(middelmatig klink net te papperig…amper soos “F*k dit” net meer houding het as “F*ck it”) lewe te lei, regtig bloot net ander mense se suurstof steel. As ek iemand vra hoe dit gaan en die antwoord is “fine,” voel ek lus om derglike persoon aan die strot te gryp en so ligweg rond te pluk – dit gaan of kak of goed, hierdie tussen-in Jannie-jammer-kak ding werk net nie vir my nie.

Rant oor!

Lemoenskilvry

Dink so ‘n bietjie daaraan,  gin mens kan verwag om  ‘n gespierde, lemoenskilvrye wilgerlatlyfie te hê as jy nie bereid is om groente soos ‘n afgod te aanbid, geen suiker of alkoholisie verwersings oor jou lippe te laat gaan en ure per dag sweet te deponeer by die gym nie. 

Maar nèè die dieetbedryf slaan ‘n slag met elke dom donner wat glo dat om appelasyn te sluk en op tuna en asperies te leef jou  lewenslange droom om Barbie(niè die advokaat een nie) te raak.

Geld groei mos aan bome

En die hedendaagse droom is mos om VIR JOUSELF te werk, die Elon Musk of Kim K sindroom noem ek dit(hang maar net af wat jou ambisies is – of Mars en intelligensie staan jou aan, of ‘n wulpse agterstewe en duisende aanhangers.) Klink my al wat dit verg – volgens die wat “weet”,  is om famous op die interweb te raak of êrens in Silicone Valley ‘n IT maatskappy te begin. Sommer net so – ek sê vir jou dis maklik glo. 

Maar ek het nog nie een van hierdie dromers teëgekom wat bereid om al hulle geld te verloor(gewoonlik leef diè lotte nog op iemand anders se begroting); of besit enige talent waaraan hulle bereid is om te werk of voor gekritiseer te word nie.

#everythingisf*cked

Seksgod of godin – Barbie en Ken se moer

Almal wil asemrowende seks hê, in verhoudings wees met ‘n perfekte man of vrou, wat al hulle belangstellings deel, wat dink hulle loop op water en poep lafentel. Wat hulle oorval met komplimente en wat bereid is om naweek, vir naweek Supersport tot vervelens te kyk,  of die Malls se gange deur te trap, met ‘n “liefie” hier en ‘n “bokkie” daar. 

Maar min mense is bereid om die wonde van die verlede oop te grawe, om die moeilike gesprekke te hê, om die “eie ek” op te offer en die ander persoon se kant te sien. 

Want almal glo mos HULLE IS REG en die ander een is ‘n doos. 

Drome van op die grootdoek skitter

Toe ek ‘n tiener was, het ek groot drome gedroom. Ek is ‘n Vis – ons het maar die gewoonte om alles so ‘n bietjie te verromantiseer.  Daai jare het ek nog die luuksheid gehad van drome droom oor ‘n mooi, blink toekoms sonder enige opdraandes(op die rype ouderdom van 17 het ek natuurlik gedink ek het genoeg gesuffer! #everythingisf*cked) Ek het gedroom van roem, van skryf en boeke publiseer, van sing voor groot skares en van ‘n lewe op die klein skermpie of die grootdoek. 

Maar ek was nie bereid om die dissipline aan die dag te lê om elke dag te sit en skryf nie. Ek was nie bereid om in ‘n klein woonstelletjie te sit wat ek hoogswaarskynlik sou moes huur vir die res van my lewe nie.  Ek was nie bereid om gekritiseer te word of om my af te sloof vir iets wat ek gedink het ek maar gewoon net “ok” in was nie. Ek was nie bereid om swaar te kry daarvoor nie, ek was nie bereid om te suffer nie.

Swaarkry is deel van die pakket

So, hier op my rype ouerdom blyk dit my die groot lewensvraag is nie: “Wat gaan mens gelukkig maak” nie, want ons wil maar almal dieselfde ding hê. Die vraag is dus eerder:  “Waarvoor is ons bereid om damn hard te werk en pyn te verduur?”  Waarvoor is ons bereid om die groot opofferings te maak. En voor jy jouself op die skouer klop vir jou ongelooflike, super wonderlike lewe – gaan grawe maar so ‘n bietjie rond in die keuses wat jy elke dag maak, die lewe wat jy aktief elke liewe dag kies, dan praat ons weer!

Ek weet ek droom ook groot drome, het al die jare nog.  Drome bring hoop en hoop kry kleintjies! Maar ek weet ook nou #everythingisf*cked

Bewys jouself verkeerd so af en toe, dis goeie medisyne vir jou ego

Maar nou vir die eerste keer is ek bereid om my ego vas te spyker aan die kruis en te luister na my man, om nie my eie wil en beterweterigheid na te jaag altyd nie. Maar ‘n pushover sal ek nooit wees nie. Ek het ook geleer om my grense te stel, om my soms(of meermale) eerste te stel, sonder om ‘n doos daaroor te wees.

Ek weet dat alkohol toe nie my beste vriend is nie, meer soos daai tipe ouens wat jou net gebruik vir wanneer dit hulle pas…maar as daar ‘n hot date gesoek raak, word jy nie eerste gebel nie.

Ek weet dat ek kreatief genoeg is, maar dat dit tyd vat. Dat ek moet bereid wees om tyd te maak, musiek aan te sit en net my gat op die stoel moet kry en moet skryf. En dat niemand dalk die goed eers lees nie, maar wat maak dit saak. Dis vir my.

Ek weet dat ek na my liggaam moet luister. Dat ek moet ophou DOEN en net ‘n slag wees. Dat verveeldheid my nie gaan doodmaak nie. Dat produktiwiteit nie altyd ‘n bonus of ‘n moet is nie.

Maar ek weet om te groei, om die moed te hê, om nuuskierig te wees en elke dag vorentoe te beweeg, my dalk so ‘n bietjie nader sal bring aan ‘N LEWE WAT GOED GELEEF IS.  En #everythingisf*cked in elk geval, so live with it!

Iets geleer vandag? Praat met my. Vra my vrae, gebruik my as jou penvriend…ek luister graag. Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of volg my op @wynvliegoorit

3 thoughts on “Vol 14 : Wat is jy bereid om die stryd voor te voer?”

  1. Pingback: #growingpains | Vol 135: Uiteindelik Groot?

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *