Wynvlieg | Die ewige Stryd

Vol 15: Die ewige Stryd

Ek is al so ‘n pessimis as dit kom by my vermoë om enigsins matigheid voor oë te hou! So moeg en dis donnerswil altyd ‘n opdraande gesukkel.

Ek verstaan tè goed hoe versukkeld, alleen en hartseer ‘n lewe in hierdie gewoontesiklus is. En mag ek net noem – menopouse(seker ‘n man wat met “pouse” opgekom het, dis alles behalwe ‘n pouse!) bring sommer sy eie klomp trane en frustrasies mee. #thediet of all diets.

As jy hierdie lees en lus voel vir huil, wees gerus, jy is nie alleen nie! Wat ookal jou omstandighede, jou gewig, jou lewensstyl, jou beroep, jou sukses of mislukkings in die lewe. GLO MY VRY…as jy ‘n vrou is, is ons almal in dieselfde bootjie. Of soos in my geval, wil ek net met minder blase op die gemoed my pelgrimstog loop. Ek wil my las ligter maak(en sommer die lyf ook, dankie!) en die tog meer geniet. #thediet that will end all diets

Langs die pad het ek diè geleer: 

Enige gewoonte kan afgeleer word. Maak nie saak hoe oud jy is, hoeveel jare die gewoonte al houvas het nie. World Without Wine  verwys na navorsing wat bewys dat dit ‘n volle 66 dae vat om van ‘n gewoonte ontslae te raak en glo 21 om ‘n gewoonte te vorm. Ons breine is basies soos klein hondjies, as ons lank genoeg vasbyt kan ons dit leer om nie spreekwoordelik in ons voorkamer te pee nie!

Ongewensde eet of drink gewoontes is ‘n gedragsprobleem, nie noodwending ‘n inligtingsprobleem nie. Maw dit help nie ons het tonne en tonne inligting, maar ons verander nie ons gewoontes nie. Om eerlik wees, in my reis om van die wynvlieg ontslae te raak het inligting my ongelooflik baie gehelp; want snaaks genoeg was ek al ‘n kenner op die gebied van kos en diëte, maar nie op die newe-effekte van wyn nie. 


Die ongeloof!

FOKKENONGELOOFLIKE gegewe die feit dat letterlik my hele lewe rondom wyn draai. So kry die inligting, lees op – wees seker jy het die feite. Maar dit help nie jy lees jou moeg en maak lysies en lysies van goeie intensies, maar jy daag net nooit op om die gewoontes te verander nie. Dis soos om die gymklere te koop, die kontrak uit te neem, maar nooit by die gym op te daag nie! #thediet that will get you nowhere

Rebel without a course

Beperkings – of sal ons sê: “Jy mag nie/jy moet,” het nog altyd die rebel in my losgemaak. Boots and all. En die meeste diëte en pogings tot matigheid of om beheersd lewe, doen eenvoudig net die teenoorgestelde vir my. Ek byt vas, hou uit en dan kom daai “fok-dit” houding uit en al daai reëls vlieg by die voordeur uit en ek prop sommer nog ‘n pak Lay’s in of sluk nog ‘n glas wyn af. Want ek is mos darem my eie mens – vat so! En ons arme liggame en siele is al goed in hulle anderdinges in, emosioneel en metabolies. Goed opgef%^&%&k.

Maar o, daardie nuutste dieet wat ‘n wonderkuur vir die rolletjies is – sommer so binne ‘n maand sal mens glo gaan van mollige-dollie tot langbeenpop. Ja right, as dit tè goed klink om waar te wees, is dit gewoonlik nè. En wat my mond HEELTEMAL laat oophang is dat ons hierdie twak glo! Genade ons het mos darem breine en is ook al oud genoeg, met genoeg vreesaanjaende diëte op die kerfstok, om te weet dit WERK NIE!

En hier is nou ‘n interessante feit – ons is almal anders(elke liewe selfhelpboek verkondig dit, sosiale media is vol pragtige boodskappies wat dit uitbasuin en ons met oorgawe deel.) Ons is almal individueë met verskillende persoonlikhede, verskillende liggaamsbou, verskillende vingerafdrukke. Maar ons glo onvoorwaardelik dat as ons almal brood uitsny, of dalk die nuutste banting/keto volg, net walglike groen sappe drink of aspersies en tuna eet vir weke aaneen of nog erger, onderbroke vas, dan, dalkies net dan gaan ons wonderbaarlik die rolletjies vir ewig afskud. 

#thediet

Tyd om te maak soos ‘n koei

So kom ons herkou ‘n bietjie aan die saak…dalk is is ons liggame, ons metabolismes en dus die voedingswaardes wat ons benodig, anders vir elkeen van ons? En dalk, net dalk as ons net na ons liggame luister, weet hulle dalk van oertyd af al wat ons nodig het. En glo my, dis nie vragte suiker en bottels wyn nie. Om die waarheid te sê, ek het geleer dis niks in vragte vol daarvan nie! #thediet se moer

So hier is die stukkie goud – KLIM AF VAN DIE MALLEMEULE. Jy is nie ‘n rot nie, jy het keuses. En hou op om al die drêk te glo wat die wêreld ons voer – mense maak geld daaruit. Glo my vry, bemarkers is ongelooflike slim en kreatiewe mense. Hulle(en my) werk is basies om goedgelowige mense om die bos te lei en hulle te maak glo hulle kort iets om hulle saai lewens beter te maak. #wynvliegoorit! 

My advies vir die dag: Begin dalk vandag net deur te luister na jou liggaam. Begin dalk om bewus te raak van wat dit so luidkeels vir jou probeer sê. Wat het jy nodig…die antwoord, so kom ek agter is 99.9% NIE KOS of drank nie. Dis meermale ‘n versugting na rus, na water, na beweging, na asemhaal, na stilword, na bewustheid.

Ek hoop jy het bietjie hoop gekry vandag. Soveel jare het ek net eenvoudig hopeloos gevoel. Maar nou het ek hoop en bàie daarvan. #thediet ek is so oorit.

Is jy hoopvol of hopeloos?

Praat saam: As jy my wil kontak stuur ‘n epos aan vryheid@wynvlieg.com of volg my op Facebook by @wynvliegoorit 

2 thoughts on “Vol 15: Die ewige Stryd”

    1. Ah Mariska, baie dankie en my hart song sommer Hallelujah as iemand erns dit darem geniet!

      ‘n Gedeelde storie en ‘n kopknik daar is wat die lewe en ons eie pogings tot sinmaak soveel meer draaglik maak.

      Ons is op die ou einde almal maar so effe dieselfde ne!

      #wynvliegoorit

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *