Ek het kopgekrap, sielsondersoek gedoen, diep gegrawe – maar die aanbreek van 2021 het my nou nie juis met vlinders op die maag gelaat nie. Dis so asof die jaar se fut al klaar uit is en die gordyn het nog nie eers behoorlik gelig nie. #happynewyear
So wat is jou 2021 voornemens my maat?
Diè ou mensdom hou mos maar van ‘n voorneme of twee – jy weet, dit laat mens vir so ‘n dag of twee met ‘n vreeslike natuurlike high. Jy is sommer reg om dinge aan te pak, die gym se drumpel deur te trap, ‘n nuwe taal of iets dergliks aan te leer, al die slegte gewoontes plotselings op te gee, betrokke te raak by die naaste welsynsprojek en boonop nog die 5vm beweging ook te join. Net om 4 dae later effe soos die opblaasbootjie na ‘n Desember vakansie op die swembad te lyk – vrot en moeg en afgeblaas. #happynewyear voornemes is ‘n klug
‘n Lewe van dankbaarheid
Maar 2021 kry ek toe net nie opgeblaas nie – tot dit my soos ‘n hammer tussen die oë tref. Die èèn ding wat ek my wel kan voorneem is om ‘n lewe van dankbaarheid te leef. Net bloot dankbaar. Geen onmoontlike doelwitte(wie de hel flous ek nou eintlik – teen einde 2021 gaan ek nogsteeds te veel van roomys en brood hou en die skaal se wyster gaan nog op PRESIES dieselfde plek halt roep) – net ‘n lewe van dankbaarheid.
En dankbaarheid het ‘n tweeling, haar naam is betekenisvol.
#happynewyear 2021
So hier gaat hy!
- Ek gaan die jaar geniet – elke liewe oomlik van nog een jaar om die son wentel. Ek gaan wyser word en meer volbring. Ek gaan dankbaar wees vir die voorreg om MY lewe te mag lewe.
- Ek gaan nog liewer raak vir die persoon wie ek is. Ongeag van my ouderdom, die rinkels en kinkels – the shape that I’m in. Ek gaan hierdie rondings vat en hierdie boudspiere wat wragtag nou nog nie wil saamwerk nie en ek gaan hulle al die liefde in die wêreld gee. Want hulle is myne en dit is goed.
- Ek gaan besluit wie en wat ek my tyd aan en mee gaan spandeer. Daar is ook eerbied daarin om jou kosbare tyd op hierdie aarde nie op mense te vermors wat net jou keel laat toetrek en jou hare laat rys nie. Ek is klaar daarmee. As jy nie met opregtheid en uit liefde en respek na my toe wil kom nie, gaan ek jou soos die pes vermy.
- Ek gaan kinderlik bly glo aan ‘n beter toekoms, ongeag al die negatiewe retoriek wat ek soms, onder die vaandel van realisme moet aanhoor. Ek glo aan die silwerrandjie, ek glo dat alle mense inherent goed is. En as iemand my bang wil praat, gaan ek uit volle bors saam met Carike Keuzenkamp se “Dis ‘n land” sing, want ek kies om dit te doen.
- Ek gaan nog meer van ‘n nuuskierige agie wees en ek gaan my horisonne bly verbreed. Ek is so gemaak en so gelaat staan.
- Ek sal my bes doen om nuwe herinnerige te skep. En ek gaan hulle neerpen hier en julle bly verveel of dalk inspireer.
- Ek gaan aanhou werk aan die hier en nou – om hier te wees, in die oomblik van elke liewe dag. Nie alewig te beplan aan die môres of die gisters te dissekteer nie, net hier, net nou. After all, in die woorde van Anthony Hopkins: “Today is the tomorrow I was worried about yesterday!”
- Ek gaan met entoesiasme bly skryf oor al die meulsteune om ons nekke, veral ons ou Afrikaner nasietjie sin en dit hier uitbasuin. Want ek glo ons moet praat en om saam ons laste te dra en ons pelgrimgstogte te stap, gaan ons almal effe ligter vir die tog vorentoe maak.
- Ek gaan my dam se eende doelbewus opsoek – ek gaan tyd maak, ons gaan goed doen en ek gaan hulle uit dankbaarheid dien nes ek kan.
- Ek gaan onthou dis ok om flops te maak, dis ok om soms in te lê, dis ok om ‘n powernap te vat en te huil oor ek mense mis wat ek nog nie ontmoet het nie, maar moes.
En natuurlik is ek so dankbaar vir elke liewe een van julle wat wraggies julle kosbare tyd spandeer om my blogs te lees. Dankje wel!
Voorspoedige Nuwejaar!
Mag 2021 iets besonders wees vir jou en joune.
#happynewyear
Praat saam: As jy my wil kontak stuur ‘n epos aan vryheid@wynvlieg.com of volg my op Facebook by @wynvliegoorit