#sisterhood | Jy kan jou vriende kies, maar nie jou familie nie! | Wynvlieg

Vol 21: Jy kan jou vriende kies, maar nie jou familie nie!

Dankbaarheid is mos nou my ding vir 2021 en hoe dankbaar is ek nie vir die familie wat my geboortereg is en natuurlik my besondere vermoë om net die beste vriende te kies nie! 😝#sisterhood friendship.

My cougar crush, Mark Manson het ‘n teorie oor die vyf vlakke van vriendskap wat nogal vir interessante leesstof maak.

Dankbaarheid is my leuse en my keuse! (kyk ek kan rym!)

Dus, hierdie stuk, uit my diepe begeerte en met die commitment van ‘n elite atleet, word gewy uit dankbaarheid vir my vriende by choice, en diè by geboortereg, wat in verskillende geure kom en my lewe elke dag die moeite werd maak. #sisterhood by choice


Die vlakke van vergelyking 

Vlak een van vriendskap – by definisie is dit daardie persoon wat jy herken vir een of ander rede, maar nie by naam nie en julle het nog nie enige diep gesprek gehad nie. Die petroljoggies hier onder op die pompe kom by my op – ek sweer dis die vriendelikste, gelukkigste spesie op aarde. Altyd ‘n glimlag, altyd ‘n grappie en flinke diens. Dankie manne, baie oggende sit ek so en dink: “Ja nee, net toe jou dag effe blou lyk, word die engele gestuur om ‘n glimlag op jou gesig te sit.” Ek salueer julle! #friendship for a day

Vlak twee is daardie mense wat jy mee ligsinnige geselsies aanknoop en gemaklie glimlagte mee deel. Bloot omdat julle êrens deur die heelal verbind word aan gemeenskaplike vriende of  werkskollegas, of die buurvrou aan die linkerkant is. Julle is aangenaam genoeg met mekaar, want dit maak net almal se lewe makliker. Ek dink bv. aan ‘n kliënt wat uit die diepte van sy hart my nooi vir ‘n ete, omdat dit die regte ding is om te doen en ‘n gebaar van dankbaarheid. En al waaraan ek kan dink is dat ek eintlik my tyd met ‘n goeie boek sou verwyl. Maar ons doen dit, want is ons ordentlike mense. (En teen my beswil in, geniet ek dit toe eintlik, desondanks die vooraf gemor) #friendship is kindness

Vlak drie vriendskappe is daardie mense met wie jy èèn belangrike ding in gemeen het. Myne kom in die vorm van ‘n nuwe kosbare vriendskap, wat gebôre is uit my pelgrimstog om die #wynvlieg onder sy gat te skop. Ons het ‘n gedeelde doel en belangstelling – ons voel ons ken mekaar so ‘n bietjie, want ons het ‘n verspesting oorkom en nou kan ons die pad vorentoe saamstap, want daardie een ding bind ons aan mekaar. Nou word daar gekoffie en geWhatsApp dat die biesies bewe, maar die topic bly dieselfde. #friendship shares

Nog vlak drie vriendskappe wat ek onder die belt het, is al die ma’s wat saam met my hulle skreeunde, klouende kindertjies by die skool afgelaai het, dae en jare hulle naels saam staan en afkou het langs ‘n hokkieveld, wat aangeklamde jongmanne rondkarwei het en “mishaps” weggesteek het. Vele van diè het tot die volgende vlak gevorder, maar vele het ook gesneuwel soos daai deelwêreld verdwyn het.

#sisterhood
#sisterhood

Vlak vier: “Ons is een en dieselfde, ek en jy”

Dis die tipe vriendskap wat met sy fancy toga gradueer van ‘n gedeelde ondervinding of belangstelling tot iets waar dit jou soos ‘n weerligstraat slaan – shit, ek en jy, ons kan ‘n paadjie saam stap. Hier’s iets hier wat die moeite werd is om aan vas te klou. 

Die lag kom maklik, die grappe vloei, daar is gedeelde oomblikke en lekker kuiers.

Ek het èèn so ‘n besonderling  – sy is die eerste een wat met ‘n stomende bak kos of ‘n suurlemoenboom sal opdaag as sy weet jou hart is besig om te skeur. Sy is altyd game vir ‘n party en sal ook die lewe in een blaas as sy sien dinge lyk effe tam. Haar hart en huis staan oop soos ‘n waenhuisdeur vir ieder en elk. Sy weet goed van mense, maar sy judge nie. En sy is die enigste mens wat die woord F*k meer liberaal as ek gebruik. Sy is net gemaklik en maak die lewe maklik. Mind you ek dink sy is eintlik ‘n level 5 al! #sisterhood comes easy

Sister from another mister

Vlak vyf vriende is daardie “sisters from another mister.” 

Ek is diep dankbaar dat ek vele van die “susters” het – my eie uit die stamboom, asook enes wat ek aangeneem het.

My eie drie aan moederskoot sal my aanvaar en beskerm ongeag die k*k wat ek aanjaag. Wat my grootste ondersteuners is en wat net my ritme verstaan. Ons dink dieselfde, ons praat dieselfde, ons is dieselfde. Here bewaar hulle net asb.

Daar is die “suster” wat altyd bly sal wees vir my kind, al word myne bo hare gekies vir ‘n span. Wat altyd sal bel of ‘n boodskap stuur as sy weet die nood druk of my sal nooi om, om hulle tafel te kom sit as ek alleen tuis is. Wat vir my lief is en dit sonder skroom sal sê. En wat veilig voel om al haar diepste bekommernisse met my te deel…al is haar hart effens dun geskuur en sy nie so seker van haar oortuigings nie.

En diè een wat alles van my weet, en ek bedoel alles wat in my grootmenslewe al met my gebeur het. En daar was the good, the bad and the ugly. Ek sluit van hulle mooi, vêr weg toe vir die res van die wêreld– maar sy weet alles, net mooi alles. Sy is net daar, sy blameer nie, sy het nie ‘n opinie nie, sy gee nie raad nie….sy was al ver weg, sy was weer baie naby…ons hoef mekaar nie elke dag te sien of te praat nie. Maar èk weet, sy weet en dis genoeg. Sy is my persoon.

#sisterhood is a blessing

My ma het gesê: “Vriendelikheid kos niks my kind” 

Hierdie is nie ‘n popularity contest nie. Vul jou lewe met allerhande vriendskappe en wees dankbaar mense ag jou die moeite werd om hulle kosbare tyd daarvoor prys te gee/

*Edit: Die twee vreeslike vriendelike Rasta’s wat by die verkeerslig staan, sê nou die dag vir my: “Lovely lady, jy het altyd so ‘n mooi smile. Of jy nou verby hardloop of ry, jy’t altyd ‘n smile. Mevrou moet hom so hou!” 

Praat saam: As jy my wil kontak stuur ‘n epos aan vryheid@wynvlieg.com of volg my op Facebook by @wynvliegoorit 

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *