#keepingupwiththeJoneses

Vol 24: Jy is toe nie sò spesiaal nie!

Daar is ‘n effe paradoks waarmee ek die laaste paar jaar sit. #keepingupwiththeJoneses.

Ons is die wenners

Ek hoef seker nie vir enige iemand wat hier lees te verduidelik dat die gaping  tussen ryk en arm in hierdie land van ons, so groot en wyd soos die Blyde Rivier Canyon is nie. In der waarheid is ons in die onbenydenswaardige NOMMER EEN posisie op die wêreldranglys. (https://www.google.com/amp/s/amp.cnn.com/cnn/2019/05/07/africa/south-africa-elections-inequality-intl/index.html)

Die paradoks

So, die paradoks dus…hoekom wil dit voorkom of hoe meer geld ons het, hoe groter ons huise raak en hoër ons op die suksesleer staan– hoe meer teel die angssteurnisse, die depressie en ander geestessiektes aan en lê die mensdom lam. En aan die anderkant wil dit voorkom of die mense wat onder die broodlyn leef, baie keer gelukkiger blyk te wees. Hou maar net die vriendelike, glimlaggende geskerts van ‘n klomp taxi-gangers na ‘n lang dag dop – die vriendelike geselsies wat aangeknoop raak deur die karwag en die uitbundige gespeel van die klein kindertjies in ‘n poel water langs die snelweg. Die geluk blyk orals te wees. (*ek wil dit net duidelik maak, hierdie is my ervaring van wat ek rondom my sien en hoor en ervaar. Dis bloot my perspektief en glad nie gegrond op enige navorsing nie…bloot ‘n waarneming.)

Maar ek blyk weer verkeerd te wees – volgens regte, egte navorsing is mense met baie minder aardse rykdom, nie noodwendig gelukkiger nie, hulle is bloot net minder gestres en angstig oor “keeping up with the Jones.” Hulle voel ‘n veer vir hoeveel vriende hulle het, hoeveel likes en tags en derglike oppervlakkighede op sosial media bestaan of watter woonbuurt hulle in bly en of hulle die kinders na die naaste, nuutste privaatskool kan stuur. 


Hoe meer status, hoe groter die angs

Alain de Botton skryf in sy boek, Status Anxiety dat eeue, der eeue gelede het jy nie ‘n keuse gehad oor watter klas of stand jy in gebore is nie…jy was of ‘n koning of ‘n pleb en daar was niks op aarde wat jy daaraan kon doen nie. Maar in die hedendaagse lewe is daar geleenthede en kanse om dit “te maak”…veral as jy ‘n meer bevoorregte lewe as miljoene mense rondom jou gehad het. Dis nie goed genoeg om net ‘n bestaan te maak nie, nee alla wêreld jy moet ‘n sukses wees. Wie swot nou ‘n gewone Bcom…dit moet darem ten minste ‘n geoktrooieerde rekenmeester wees waarvoor jy mik. As jy ‘n entrepreneur wil wees, soek ons Elon Musk materiaal en nie net ‘n tuindienste nie. #keepingupwiththeJoneses

En bereik jy nie die hoogste sport so gou as moontlik nie, dan is jy bloot ‘n groot FLOP. Dis dan alles net mooi JOU SKULD. Want hoe groter die kans op sukses, hoe groter ook die kans om dit goed op te fok.

Die weegskaal

En al is ons sosiaal wakker genoeg om te weet ons moet voorgee asof ons onsself nie met ander mense vergelyk nie….ag, kom ons wees nou maar eerlik nè,  ons doen dit almal, orals, die heeldag lank. En sosiale media is soos die heks in Hansie en Grietjie…sy voer vir jou almal se perfekte vakansiefotos, op eksotiese plekke, met glimlagende mense(wat lyk of hulle skielik 10kg oornag verloor het) en glasies in die hand…en waar sit jy, met Jan Tuisbly se karretjie in die agterplaas, want diè jaar moet die universiteitsfooie nog betaal raak…en jy voel soos ‘n weeskind op die platteland. Of Sara(skuilnaam) plaas haar voor-en-na foto’s na sy duisende rande gewaag het by daai gym waar jy jou geld terugkry as jy 20kg binne twee dae afskud, solank jy hulle elke dag tot vervelens tag en op water leef…en Sara het dit wragtag reggekry en hier sit jy met jou boude wat soos uitgerysde brode lyk. 

Wat is die doel van hierdie gepronkery op sosiale media nou eintlik vra ek jou…ek sal jou sê wat dit is – dis ‘n poging om vir almal daarbuite te wys jy is meer spesiaal, jy het dit gemaak en hulle is geweeg en te lig bevind. #keepingupwiththe oneses en jy het gefaal

Gaan kyk maar mooi op enige sosiale netwerk, selfs die tydskrifte op die rak wat nog Covid oorleef het en luister na selfhelp video, na selfhelp video. Die plekke wemel van die “I’m so special. I’m unique. I’m doing something different. Follow your passion” stront. 

The struggle is real

Vra enige iemand wat regtig uitsonderlik talent op die sportveld of ‘n verhoog toon, wat ‘n reuse sukses van ‘n besigheidskonsep gemaak het of wat meer tyd aan hulle korporatiewe werk as hulle familie bestee…daardie tipe sukses en rykdom kom net deur harde werk en met baie stres en angs op die koop toe. #keepingupwiththeJoneses is nie vir sissies nie.

Kom ons gee dit ‘n go

So kom ons stop hierdie gejaag na wind. Wat van ons vind ‘n slag geluk en vreugde in die super klein dingetjies in die lewe. Die gelag van ‘n kind, die lekker vars krakerige appel, die getjirp van die voëls vroegoggend of bloot net dat jy ‘n dak oor jou kop het.

Kom ons vergeet van die Jones, want daar is mense wat op die oomblik sukkel om net asem te haal en glo my, hulle dink nie nou aan al daardie geld wat hulle nog kan maak of hoe besonders hulle lyk op Facebook nie of wanneer hulle weer ‘n glas wyn kan skink nie.

Wees dankbaar vir dit wat jy het.

Praat saam: As jy enige ander wyshede wil kwytraak, skryf aan my by vryheid@wynvlieg.com of sê jou sê op Facebook by @wynvliegoorit 

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *