Erens gedurende April 2020, midde in die grendeltyd, toe ek en die bure al meer brode en koeke en bottels wyn vir mekaar aangedra het – vermoedelik om ‘n bietjie “vryheid” te smaak, die bene te rek en verder te vorder as die sirkels wat ons in die agterplaas, soos ‘n fox terrier, gehol het. Erns in daai tyd, wel daar was baie ure te vul, begin ek wonder – wie is ek nou eintlik? #yourworthismeasured
Branding is everything!
Mens sou natuurlik hoop dat ‘n vrou met my geleerdheid, ‘n egskeiding, koliek baba(ja nee daai een los jou nooit!), weer getroud, berese en belese…..teen 47 darem al sou weet wie sy nou eintlik is. Branding is everything – so waarvoor staan hierdie brand genaamd “die uwe ek” nou eintlik?
Ek is ook al lank genoeg in die tand om te weet dat elke keuse wat ‘n mens maak, jou soos ‘n kettie in ‘n rigting in skiet. Die vraag is natuurlik watter rigting wil jy in geskiet word en is jy enigsins oppad in daai rigting? #yourworthismeasured
Ek grawe toe rond na ‘n bietjie leiding en daar in hoofstuk 8 van Rebecca Scritchfield se Body Kindness boek noem sy hom by die naam. Vind uit wat jou waardes is en skoei jou doelwitte daarop en dit sal jou nader bring aan die persoon wie jy diep binne in jou hart nogal altyd was. Alle stront wat jy jouself al wysgemaak het langs die pad, al die onnodige bagasie wat jy saamsleep of wegsteek moet padaf, wegspoel.
Verskil tussen waardes en riglyne
Ek weet vele van julle wat hier lees is darem nou ewe skielik diep dankbaar dat julle waardes reg is. Julle is lojaal, julle is nederig, julle is betroubaar, julle jok nie en praat nie lelik nie. En julle lieg vir julleself. Daai is nie julle waardes nie, die nie wat waardevol is vir julle nie, dis nie waarop julle julle lewens skoei nie en dis verseker nie wat julle ‘n lewe van waarde gaan laat lewe nie. Dis mooi en dis goed en dis rein – maar dis aangeleer en dis net goeie gewoontes. Dit maak jou net ‘n ordentlik mens…maar dis geen waarborg tot geluk nie.
Waardes is daardie dinge wat jy waardevol genoeg ag om die sekondes, minute en ure van jou dag mee te vul. Jy weet daai sekondes, minute, ure en dae wat jy nooit weer gaan terugkry nie. #yourworthismeasured
Wat was jou bydrae?
Stel jou voor jy kry ‘n toekenning vir jou “lewenslange bydrae” by een of ander gala geleentheid. Jy is daar op die verhoog, iemand wat jy baie respekteer is besig om jou lof te besing…wat sal jy graag wil hê moet die persoon oor jou sê. Wat sal daar te sê wees oor jou karakter, oor die tipe mens wat jy was en waarmee jy jou besig gehou het?
‘n Goeie plek om te begin om jou huidige waardes te bepaal, is om so ‘n bietjie voorrraadopname te maak van die dinge waarop jy daagliks jou tyd spandeer en wat jou motivering agter dit is. #yourworthismeasured
- Spandeer jy jou tyd om betekenisvolle gesprekke met die mense naby aan jou te hê, of spandeer jy dit op jou telefoon besig om na spookasem te kyk?
- Kry jy vars lug deur jou longe en suurstof deur jou are, of verafgod jy die rusbank en raak wyshede kwyt soos: “ek hardloop nie, want niemand jaag my nie?”
- Of spandeer jy ure der ure in die gym om tog net soos ‘n wafferse Adonis te lyk…en bewaar jou siel as jy ‘n dag mis?
- Sit jy ‘n bottel gevriesde water op die swartdrom uit vir die vullisverwyderaars, sodat hulle nie verswelg van die hitte nie, of glo jy dis hulle werk en iemand anders kan na hulle kyk?
- Skenk jy jou 10de by die kerk of dra mildelik finansieël by tot die sopkombuis, sodat dominee spesiale vermelding van jou kan maak van die preekstoel af? Maar ongelukkig sal jy nie van jou tyd kan afstaan nie, want die lewe is net te besig.
- Lê jy soos ‘n zombie voor die TV of speel jy met jou kind en soos ‘n kind?
- Daag jy op by die Graad 1 sportdag waar jy kind stone last kom in die 50m, of is jy te besig om die leër by die werk te klim?
- Lag jy nog uit jou maag of is jy so besig om ‘n intellektuele snob te wees wat vergeet het hoe om te skaterlag?
- Jaag jy doelloos rond van een haarafspraak, fake naels en lashes na die ander of vind jy tyd om in die natuur te gaan stap, onder ‘n boom te lê en na die wolke te kyk?
- Luister jy regtig na ander mense, vra jy uit en stel jy belang…of is jy te besig om jou eie ego to poets?
- Vind jy tyd om jou liggaam en siel te voed, of jy is besig om rond te jaag om die man en kroos en wie-weet-wie gelukkig te hou? Want dit maak jou ‘n goeie ma, die ewige Martha?
- Jaag jy jou onafhanklikheid so vreesloos na dat jy vergeet het wat liefde en ondersteuning beteken?
Dit was ‘n ontnugterende oefening om die minste te sê. Dit waaraan ek my tyd spandeer het tot op hede, het ingesluit:
Ek wou as sterk en onafhanklik gesien word. ‘n Vrou wat die lewe nie kon onderkry nie.
Vertaling…ek het geglo onafhanklikheid sal my vryheid gee, dat dit my sal vrywaar van seerkry en lyding. Maar, die teendeel is ook waar, dit maak my hard en weerhou my van ‘n lewe vol rou en mooi emosie. Dit ontneem my van alles wat ander mense my lewe mee kan vul.
Ek wou ‘n sterk en lenige liggaam hê, laat ons nou maar eerlik wees…maer is wat ek wou wees.
Vertaling….ek wil eintlik daai wonde van tiernerskap toesmeer en gewild en aantreklik en die verkose een wees. Vry van worry oor kalorieë en dieëte.
Ek het baie tyd aan wyn gespandeer. Werk was wyn, 5nm was wyn, gedink aan wyn, beplan rondom wyn.
Vertaling…wyn het handig te pas gekom as ‘n beloning na ‘n harde dag by die werk, dit het die verveelde ure gevul, dit het my laat inpas, dit het my laat ontvlug, my geluk gebring…maar dit het my liggaam sleg laat voel, dit het my sleg laat slaap, dit het my 2vm wakker laat skrik met ‘n nadors vir dood, dit het my bakleirig gemaak. Dit was nie meer my lover nie.
Ek wou ‘n goeie ma wees, ‘n goeie rolmodel, iemand wat mense kon sê: “sjoe sy is wys.”
Vertaling….ek wou voel ek is die moeite werd.
Nou hier is die ding….so baie van wat ek toe wou hê, het net so oppervlakkig gelyk te midde van ‘n pandemie. En so tè veel gegaan oor wat ander mense dink en sê en bloot na ‘n weghollery gelyk.
Ek weet nou dat om DAAR TE WEES vir elke oomblik van my lewe, om na my liggaam te kyk en te oefen – want dit is bloot net lekker en goed. Om my siel te voed en om op te staan vir dit wat myne is, net myne…dis kosbaar en goed. En dan om iemand te wees op wie mense kan staatmaak, maar nie omdat ek iets probeer bewys nie, bloot net omdat dit is wie ek is – dis my waardes, dis wat my lewe waardevol en vol en gelukkig maak.
Jy besluit self wat jou kosbare tyd op aarde opneem, jy skryf jou getuigskrif…jy besluit wat jou waarde is. #yourworthismeasured
Praat saam: Onthou as jy iets op skrif wil sit, skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com. of volg my op Facebook by @wynvliegoorit
Sjoe dis so waar eks 61 het tonne trauma beleef voel nog steeds ek is nie goed genoeg nie kon meer doen om my kinders perfek te kry. Nou getroud met n 100% narsis. My lewe is verby te laat om n verskil te maak.
Dis NOOIT te laat nie, NOOIT! Wens ook baie maal ek kon oor begin, maar nou is ek hier en met hier moet ek nou n plan maak!