“Ek’s ‘n peerboom, ek’s ‘n appelboom en ons is gelukkig om hier saam te woon.”
Diè is ‘n refrein wat ek herroep van ‘n TV advertensie, vir ‘n bekende saphandelsmerk, gedurende die 80tigs of 90tigs…die jaartal is irrelevant. Maar my liggaamstipe of vorm is wel relevant. #theshapethati’min
Google is jou beste vriend
Google bietjie…”body types woman” en dit wemel van die inligting ….van definisies tot watter tipe dieetplan gevolg moet word of klere wat gedra moet word om daai vorm van jou op sy beste te laat lyk.
As jy uiters verveeld is, gaan lees gerus hierdie studie en vind meer uit oor hoe ons liggame soos meetkundige voorwerpe geklasifiseer word. Maar vir vermaaklikheidswaarde, hier is die top 8 #theshapethatwe’rein:
Nommer 1 – die piesang (dis nou as jy geseënd is met reguit of reghoekige (afmetings)
Nommer 2 – die peer (jy lyk soos ‘n driehoek, ‘n goeie stewige basis)
Nommer 3 – die lepel (jou onderstel herinner aan die peer, maar die (boonste verdieping is kleiner as die onderstel)
Nommer 4 – die uurglas (jy is eintlik perfek en Barbie is op jou geskoei)
Nommer 5 – die appel (of die omgekeerde driehoek, stewige skouers en (goeie voorborste)
Nommer 6 – die bal (blyk hier kan jy of ‘n sokkerbal of ‘n rugbybalvorm hê, hang net af waar die ewewig val)
Nommer 7 – die diamant (klein bo en onder, met die middel effe uitgepof)
Nommer 8 – die atleet (alles hier is in proporsie van meet af)
Die probleem wat ek met hierdie kategorieë het, is nie soveel met die korrektheid van die beskrywings nie, maar eerder met die stereotipering wat daarmee saamgaan. Boonop is ons so gebreinspoel dat ons meermale die “ideaal” van die atleet of die uurglas meëdoonloos nastrewe.
“n Peer is ‘n lekker, sappige ding
Ek is ‘n peer – wel dalk meer van ‘n lepel…laasgenoemde dalk meer gepas, want ek kan ‘n lepel handig hanteer as dit by die kospotte of die roomysbak kom. #theshapethatI’min
Ek beskou my agterstewe so in die spieël vandag en dink by my selwers, ja nee suster, klein en opgewip sal hulle ook nooit kom nie! En Kim Kardashian en haar generasie het tè laat verbygekom om stewige agterstewe in my ouderdomsgroep begeerlik te kry. Mind you, so vind ek toe jare der jare later uit, daar is regtig, egtig boudemanne…lê glo lekker lepel ook!
Met die pelgrimstog het ek toe my lyf ook raakgestap en besluit: basta met dit…’n peer gebore, ‘n peer gelaatstaan. (Wel tot vandag, toe ek sien ek kan ‘n lepel ook wees as ek wou🤣) #theshapethatI’min
Ek het my vorm gevind!
So nou is ek ‘n trotse lepel-peer en gedra my soos ‘n wafferse, aangewese president wat op ‘n landswye veldtog is, om my vorm te vier en juigende skares ondersteuners te werf.
Hierdie peer het ek ge-erf, by ‘n formidabele vrou. Een wat geglo het plooie pyn nie…en solank jy gesond is, is die Kaap Hollands. Ek onthou so goed hoe sy in die bad gesit en behendig en met drif al die voue van haar lyf gewas het. Dit was haar lyf en dit het gewerk…dit was al wat belangrik was in haar oë.
Hierdie peer het ‘n middellyf wat ‘n perdeby kan begeer om te hê en ‘n paar “lepel” bo-arms wat vleisig is en goed kan broodknie…as mens nou ‘n nut daarvoor het eendag byvoorbeeld. Daar is ‘n doel vir elke ding!
Hierdie peer hou van oefen, sy doen dit vir haar gees en siel en sodat sy vir jare nog ‘n gesonde peer kan bly. Die koeël is deur die kerk, nooit gaan sy soos ‘n atleet lyk nie, al doen daai boude ‘n miljoen repetisies hurke gaan hulle nooit, ooit vorm verander nie.
Die peer is gesond. Die peer hou van groente eet, maar net so baie van stysel so uit die oond uit. Die peer voel lighoofdig en moerig as sy nie iets krakerig of substansieël in haar liggaam inkry nie. Dus, ononderbroke hongersnood werk nie vir haar nie, Keto ook nie. Sy probeer nou maar die groentes soos skape in ‘n kraal op haar bord injaag.
Dit word aanbeveel dat diè lepel-peer kledingstukke moet dra wat die afge-etste middellyf beklemtoon…wel ja, diè doen sy met groot sukses. Maar, die lepel-peer se siel is diè van ‘n closet hippie en vind haar stylgeluk in boho-sjiek…so die lepel-peer hou van los en vloeiend, met ‘n tikkie iets vir die verbeelding. Sy like ‘n harem pants en klere wat haar soos ‘n kunstenaar in Montmartre laat voel. Glad nie verslons nie, nee daarvoor is sy te veel van ‘n stylvraat.
Your shape doesn’t matter, it’s the shape you are in that’s most important darling!
#theshapethatI’min
Moet jouself nie in ‘n toestand kry oor ‘n vorm nie, moet nie ‘n slaaf raak van ‘n definisie nie…wees jy net die beste jywat daar kan wees.
Praat saam: Onthou as jy iets op skrif wil sit, skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com. of volg my op Facebook by @wynvliegoorit
Baie dankie sien myself in hierdie duidelike definisie van die peer. MAAR vrede het nog nie
Ons kan maar net aanhou baklei! Daar is natuurlik ook n Lang skraal peer soos jy weet! Ons mos darem vertroud met die verskillende soorte daarbuite
Jis en jy lyk awesome! Sterk fiks en fun! My skoonma sê altyd die lewe is lekker..mens moet net n lekker mens wees…. en dit is jy wel! Ek is blykbaar n omgekeerde driehoek… weet nie van die driehoek nie maar verseker omgekeer!!
n Lekker omgekeerde driehoek as jy my vra! En jou skoonma klink dood my Tipe mens! N lekker een!