“Die skrywe gaan effe minder aan die grappige kant van die weegskaal val – alhoewel met my weet mens nooit, ek is geoefend daarin om ‘n traan met ‘n lag te vervang.”
Ek kyk die afgelope naweek die reeks, Unbelievalable, op Netflix. Dis onstellend aan die eenkant, maar aan die anderkant wys dit met groot deernis hoe vasberade vrouens kan wees om mekaar te help. Teen die einde van die reeks, bel die hoofkarater(en een van die slagoffers) die speurders in die saak om hulle te bedank vir die feit dat hulle omgegee het, nie opgegee het nie, maar bo alles dat hulle haar “raakgesien” het. #youareseen
Vandag wil ek vir soveel vroue met harte wat seer is en wat swaardra sê: “Ek sien jou. Jy is waardig.” #youareseen
Verspeelde Lente
Daar is diè vrou wat haar hoërskoolliefde gedate het, wat true love gespeel het toe sy moes jonkwees en meer paddas moes soen – maar hulle was die grootskermdroom – so sy volg hom na die uithoeke van die aarde en toe soek hy liefde in ‘n ander se arms. Sy met haar verspeelde lente, gee die rebel in haar vrye teuels, en trou met ‘n sjarmante man, wat ‘n lewe van opwinding beloof. Die ding is, die dag in die witrok voor die kansel, weet sy al…hierdie is nie reg nie. Maar sy druk deur, sy ignoreer die gevaartekens en hou haar blind. Dinge tol buite beheer – sy moet sien hoe haar hele lewe weggedrink word, sy moet goeie vriende in die oë kyk vir hulp, sy moet wegloop met niks. Sy moet weer begin, sy moet die pad alleenstap, sy moet ‘n jong kind in ‘n wêreldling omskep. Al die beloftes het tot niks gekom, haar lewe moes van voor begin. Sy moet haarself êrens gaan vind tussen die ruïnes van verlore vertroue.
Ek sien jou vriendin, jy met jou bravado, jou noodgedwonge sterk staan. Ek weet jy soek ook behoort en ‘n sagte plek om te rus. #youareseen
Die man wat verlief geraak het op sy eie beeld
Daar is ‘n vrou wat ongeag die feit dat sy vasgevang is in ‘n huwelik met ‘n man wat soos Narcissus, verlief is op sy eie wil, bly, omdat sy vir haar kinders ‘n toekoms wil gun. Wat haar hele persoonlikheid tersyde moet stel, om elke uitbarsting te vermy en wat weer-en-weer sal probeer om dinge te maak werk, om te verstaan. Wat haar lewe rondom sy buie en giere moet beplan, wat haar rus en vrede en geluk op die prys stel. Want dis wat sy doen, sy stel ander bo haar.
Ek sien jou vriendin, ek wens vir jou geloof, hoop, liefde, rus en vrede en ewewig en stilte.
Dienende Martha
Daar is diè vrou wat se hele menswees bestaan uit “dien.” Wat haar lewe sal opoffer vir haar naaste. Wat moes aanskou hoe haar geliefde deur die swarthond gedryf word na die bottel. Wat ontelbare aande van nood deurgebring het, stoksielalleen het sy verbete geveg om haar kinders soos ‘n leeuwyfie teen die onnodige te beskerm. Sy wat heelaas die dood moes aanskou. Wat toe haar toevlug in ‘n “redder” se arms gaan vind – redding van swaarkry en die lewensmoegheid. Maar, die anderkant is vreesaanjaender – dit word ‘n hel van vuiste, van vrees, van gebreekte liggaamsdele. Sy skraap die moed bymekaar om te praat, sy triomfeer. Sy maak daai vuiste stil.
Ek sien jou vriendin, jy wat met die oneindige vernedering nogsteeds die moed gehad het om op te staan. Om weer jou menswees te gaan soek en te sê ek tel. #youareseen
‘n Kronkelpad
Daar is diè vrou wat dalk besluit het om ‘n ongelukkige huwelik te beeindig. Maar hierdie was nie ‘n huwelik wat op die oogaf gelyk het of dit wankel nie, hierdie was ‘n goeie opset. Maar omdat daar diep binne haar ‘n begeerte vir meer was, ‘n hoop op ‘n tweede kans. Dalk was sy jonk toe sy getrou het, dalk het sy die white picket fence nagejaag, met die goeie man, want dis wat die samelewing verwag het. Dalk het sy ‘n verkeerde keuse toè gemaak, dalk het sy nou ‘n verkeerde keuse gemaak en ‘n man liefgekry, wat aan iemand anders “behoort.” Dalk kon sy nie die liefde keer nie. Dalk wou sy net weer êrens behoort. Dalk het sy eers te laat die moed bymekaargeskraap om haar hart te volg.
Maar in die proses het soveel mense se harte gebreek, sy het soveel verloor en is met haar eie verwyte vasgevang en moet ‘n nuwe lewe uitkap. Moet haarself vergewe en moet haarself gaan vind. Want sy het weggeraak êrens langs die pad en net sy kan die pad terugvind na haar.
Ek sien jou vriendin, ek weet jou hart is ook seer en dat ongeag die klippe wat ander na jou gooi, die dolk wat jy in jou eie hart steek die seerste maak. #youareseen
Moederliefde
Daar is ‘n vrou wat haar hele moederhart, gevul met liefde, oorgee aan die versorging van haar wonderlike, besonderse, unieke kind – een wat nie binne die norm van die wêreld val nie. Een wat sy eie dinge het, een wie se vrees vir die allerdaagse ongegrond mag lyk, maar wat diep in ‘n moederhart sny en haar magteloos laat voel. ‘n Moederhart wat van vreugde sing as daar ‘n tikkie hoop is, as daar ‘n goeie dag is – net om weer twee dae later haar lieflingskind te moet sien tuimel. Dit verlaat haar nooit, die ewige teenwoordige bekommernis, bewustheid van haar rol as beskermengel. Sy wat haar lewe met oorgawe opoffer, wat stilweg die las dra dat die wêreld net nooit “maklik” gaan kom vir haar wonderwerkkind nie.
Ek sien jou vriendin, ek weet die las raak soms te swaar. Jy is moediger as moedig. ‘n Moederhart is innig. #youareseen
Onthou, om my te onthou, om my te onthou
Daar is ‘n vrou wat moet toekyk hoe haar lewe al kleiner en kleiner word, omdat haar geliefde, haar korrelkop van soveel jare besig is om die “onthou” te vergeet.
Wat in haar goue jare die lewe wat hulle oor gedroom het, voluit wil lewe, maar nou moet sy vrese besweer en sy “onthou” word. Ingehok, in-die-steek gelaat deur die ouderdom, raak sy nou weer ‘n ma. Sy sien die lewe verbyglip, maar haar belofte was “tot die dood ons skei.” So sy maak vrede met haar lot. Sy is alleen, haar steunpilaar is weg.
Ek sien jou vriendin, ek weet van die verwyt wat soms rou kom lê en van die wrok wat jy koester oor die slae van die lewe. Maar jou hart is goed, jou liefde oorweldigend. #youareseen
Johannes 8 vers 7: Maar toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy Hom opgerig en vir hulle gesê: Laat diè een van julle wat sonder sonde is, die eerste ‘n klip op haar gooi.
Ek sien elke een van julle, ek hoor elke een van julle en ek verstaan. Ek salueer julle vir die vrouens wat julle is.
Praat saam: As jy dalk voel jy wil jou storie met my deel, skryf gerus vir my by vryheid@wynvlieg.com of volg my op Facebook by @wynvliegoorit
So so waar
Dank Vader…vir die verskyning van volume 28. Fokkit, ek was bang my geesgenoot is weg. Dankie vir nog ‘n great artikel – ‘n tribute aan al die wyn-vlieg-in-die-salf ma’s, vroue, partners met die ewige moedeloosheid, maar wat elke liewe dag weer opstaan en aangaan sonder genade totdat sy op ‘n dag besef “hoe die hel het ek dit tot hier gemaak, en ek is nog staande?”
Hi Bohippie, aarde mens ek is jammer ek het die wonderlike comment HEEL gemis! So raak opgesom!
Waar is ons heen!