Ek is nogal ene wat hou daarvan om iets te doen wat my broek so ‘n bietjie laat bewe.
Dit mag dalk wees omdat ek effe kompeterend is nè, of dalk is dit omdat ek van nature van ‘n uitdaging hou. Of dalk lieg ek lekker vir myself – dalk is “hou van” effens van ‘n oordrywing en is dit meer ‘n geval van, ek hou van die gevoel NA DIE TYD. #whoisafraidofthebigbadwolf
Ek hou van spring, maar nie van ‘n brug af nie
Hoe dit ookal mag sy, ek is geen adrenaline junky nie – by no means, maar ek praat van die allerdaagse dinge. Ek is geseënd met ‘n wonderlike, kreatiewe, uitgesproke seunskind, maar ook een wat lamgelê kan raak deur angs. Hulle sê mos nie verniet, ‘n mens word net die dinge toegedeel wat jy kan hanteer nie. Wel vir my was dit een groot, vet lewensles en moet ek tot vandag nog diep gaan grawe om daardie tipe vrees te verstaan en te ondersteun.
So, ek het simpatie met mense wat die lewe elke dag met ‘n angsversteuring of met die groot swart hond moet tegemoet gaan – so bietjie soos om die MidMar myl te swem, maar jy het ‘n gordel met gewigte om jou middellyf, wat jy daagliks moet saamsleep.
Maar ek praat van die res van ons – en daar is baie van ons! Wanneer het ons so bang geraak om te waag? En in der waarheid, om te waag om die lewe voluit te geniet.
#whoisafraidofthebigbadwolf
Vrou van die jaar, Ma van die eeu
As vrouens en ma’s is ons baie keer so bang om tog net ons eie lewens lei. Ons dink dis bewonderendswaardig om ons lewens op ys te sit, sodat ons ALTYD, soos in ALTYD beskikbaar sal wees vir ons mans en ons kinders. Behoede ons as hulle dalk afgeskeep voel, of moet wag, of dalk iets vir hulleself moet doen. Erens het ons geleer om Martie Martelgat te speel gaan ons in die hemel, of waar ons ookal graag wil opeindig, te kry. En dan kla ons darem lekker by mekaar oor hoe ons GEEN tyd vir onsself het nie. Dis amper asof ons graag iets soos prefek balkies wil kry – die een wedywer harder as die ander vir nog ‘n erkenning van MA of VROU van die jaar.
Waarvoor is ons bang, vra ek jou – hardloop ons van onsself weg of het hierdie opoffering die enigste ding geword waaraan ons, ons waarde meet? #whoisafraidofthebigbadwolf
Die ewige helper – bietjie soos Kersvader se hoofelf
Hoekom is ons so bang om nee te sê vir mense wat ons alewig probeer boelie om by die basaar te werk, of om op naweke te gaan waar hulle gespuis jou teen die mure wil uitdryf, of wat jou saamsleep na elke liewe selfhelppraatjie? Dis nie ‘n skande om “nee” te sê nie, daar word nie podiumpryse uitgedeel vir diegene wat uitgeput en uitgemergel aan die ander kant uitkom en skaars die energie oor het om asem te haal – net omdat jy te sleg voel om vir iemand “nee” te sê – nie. Ons het almal ons ruimte nodig, ons het almal net ons eie lewe om voor pa te staan – so wees kieskeurig as jy van die “kan-nie-help-om-te-help nie” tipe mense is.
Manipulasie is nou ‘n noodsaaklike lifeskill blyk dit
Hoekom het ons so bang geraak om manipulasie op die naam te noem is. Ek staan soms verstom dat familielede mekaar so kan misbruik en dan hoog en laag sweer hulle is eintlik vreeslik lief vir mekaar. Volwasse kinders wat hulle soos 2-jariges gedra omdat hulle ouers kan waag om sonder hulle en hulle “oulike ou kindertjies” vir ‘n vakansie te gaan. ‘n Broer wat ‘n suster soos Aspoestertjie behandel en haar heeldag net hiet en gebiet. ‘n Man wat met stilstuipe of ‘n woedebui sy vrou probeer boelie om haar te kry om na sy pype te dans. ‘n Vrou wat soos ‘n tierwyfie tekere gaan tot sy haar sin kry. Liefde lyk nie so nie. #whoisthebigbadwolf
Sterk staan Susan
Hoekom het ons so bang geraak om te erken ons is besig om uitmekaar te val? Dat die lewe net een te veel is en dat ons hulp nodig het. En ek praat nie hier van die soort uitmekaarval, waar jy die gelukkige wenner van ‘n kliniekbed met witlakens is, waar niemand jou kan pla nie. Ek praat sommer net van, dinge in die lewe raak bietjie te veel, die verantwoordelikhede trek jou noustrop en jy moet net rus of het net ‘n gewillige oor nodig. Is ons bang ons gaan veroordeel word of êrens in die lewe agterraak? Ek weet, jy weet, net so goed soos ek, dat die lewe nie ‘n resies is nie en jy nie ‘n resiesperd nie. #whoisafraidofthebigbadwolf
Oh aarde, tog net nie ‘n Dry February vir my nie
Hoekom het ons so bang geword om “nee dankie” te sê vir alkohol? Noem net die moontlikheid van ‘n maand sonder drank en die meeste mense steier soos ‘n perd wat in gevaar is. Die vrees dat ons gaan uitmis, dat ons nie gaan inpas nie, die feit dat ons nie daardie welkome “buzz” gaan voel nie, of net kan afskakel nie, maak die meeste gewoontedrinkers vreesbevange. Nie eers al die wetenskaplike bewyse dat ons besig is om onsself stadig maar seker te vergiftig, of die knaende stemmetjie, kan ons vrese besweer nie. Sjoe mense, dis net ‘n maand, wanneer het almal so afhanklik geword? #whoisafraidofthebigbadwolf
Ek is bang vir die donker Ma
Wanneer het ons so bang geraak vir alleenwees – soos in stoksielsaliglik alleen, net met jou eie geselskap. Verveeldheid het ‘n vloekwoord geword – solank ons produktief kan wees en as ons nie iets kan vind om met ons hande of voete of monde te doen nie, dan is ons op daai selfoon – dis in die toilet, dis by die ontbyttafel, dis in die bed. Onafskeidbaar, want ten minste hoef ons dan nie met ons eie gedagtes of nog erger ons sintuie en die wêreld daarbuite rekening te hou nie!
Die lewe is om gelewe te word, my kind
Ek kan myself net nie meer inhou deesdae nie – ek het nou ‘n regte “ondersteuner van my eie lewe geraak.” Ek het nou die anderdag ‘n volle gallop(dis nou soos die jokkies op die resiesperde doen) op my aangewese ryperd vir daardie dag beleef – amper my gat gesien, maar ons twee het mekaar gevind. Dit was nou regtig een van daai HIEEEE – HAAAA oomblikke.
So hier is ‘n lys van dit wat ek nog gaan waag:
* Ek gaan ‘n tandem valskermsprong waag van Tafelberg af – my verjaarsdaggeskenk aan myself. Veels geluk liewe maatjie!
* Ek gaan soveel as ek kan my lyf op ‘n perd se rug kry – dit was my kleindogtertjiedroom en nou gaan hy waarkom. Al poep ek nog vele male in my broek – maar ek gaan die ding blootsry.
* Ek gaan my tyd bewaar en beskerm – ek gaan my blootstelling aan toksiese mense tot die minimum beperk. Al maak dit my ongewild en al moet ek daarvoor my stem dikmaak – it is what it is.
* Ek gaan wegbreek naweke doen(stoksielalleen of met ‘n hartsvriendin) – na daai plekke gaan met die mense wat met die maan gepla is, want ek wil ook met die maan gepla raak so af en toe.
* Ek gaan my stem bly dikmaak oor goed wat ek dink onregverdig is en vir diegene probeer opstaan wat dalk nie vir hulleself kan nie – ek gaan nou nie aktief betrokke raak by een of ander party of organisasie nie – maar ek gaan sekermaak my stem word gehoor. Two can be good at this game.
* Ek gaan my lewe rondom my skedule reël – kind en kraai kan maar daarby inval. Al moet ek soms myself hard aanpraat om nie my dinge op die langebaan te skuif sodat ek darem ook meer as 10 minute saam met die kind of manlief kan inkry nie.
* Ek gaan my alkoholvrye drinks inpak, ek gaan deur my ongemak sit as die hele wêreld rondom my teug aan ‘n lekker Chardonnay of goed verouderde Cabernet Sauvignon, want ek weet daai bietjie ongemak gaan my op die lange duur ‘n lewe van rus, vrede en gesondheid gun.
Iemand het eenkeer gesê: Think more about the cost of not doing something you believe in than the cost of doing the thing that makes you nervous.
#whoisafraidofthebigbadmouse
Komaan – laat ons so bietjie op die randjie van die afgrond lewe!
Praat saam: Wat gaan jy die doen wat jou broek so effe laat bewe? Laat hoor gerus van jou by vryheid@wynvlieg.com of volg my op Facebook by @wynvliegoorit
Hierdie artikel is uitstekend geskryf ons vrouens bly die slagoffer vd dienende Martha skuldig voel noem op en ons het dit
Dra te swaar aan alles. Tyd om af te pak!