Ek is effe van ‘n intellektuele koek – ek hang letterlik aan mense met ‘n algemene kennis wat strek van politiek, tot die wetenskap en nog kuns of opera ook oor liries kan raak, se lippe.
Dis nou die soort wat jy aan jou kant wil hê met ‘n rondte of twee Trivial Pursuit. O, en gooi nog ‘n bietjie kreatiwiteit in die pot en ek lyk soos ‘n vrou wat pas ‘n Nespresso date met George Clooney belowe is! #notetoself
Nuuskierige agie
Vermeng hierdie bewondering met my alewige nuuskierigheid oor vele dinge in die lewe… (weliswaar dinge waarin ek belangstel natuurlik😝, want ‘n kar se binnegoed gaan my nie na die naaste boek of webtuiste laat haas nie.) En dan is daar natuurlik nou weer my nuutgevonde hartsbegeerte om ‘n lewe van die “in-die-hier-en-nou” te lewe…en wat kry jy = ‘n Ge-Google en gelees en gegrawe asof my lewe daarvan afhang.
Twee goed raak ek toe wys:
Nuuskierigheid(curiousity) kom hoofsaaklik in twee geure volgense Dr Jordan Litman.
Aan die eenkant is daar die perseptuele soeke na inligting, wat glo gewoonlik aangewakker word deur ongewone of onverwagse geluide of dinge wat mens met die oog waarneem – wat dan maak dat ‘n mens meer aandagtig luister of nadere ondersoek instel met jou sintuie. Dink aan daai onverwagse gekraak in die middel van die nag – jou ore is gespits, jou sintuie is op high alert! Of kyk net na ‘n klein kindjie wat in die tuin ronddartel van een plantjie en goggatjie na die ander – heeltyd besig om nuwe dinge te ontdek met hulle sintuie.
En dan is daar epistemiese nuuskierigheid, wat weer gestimuleer word deur ‘n gaping in ‘n mens se kennis oor ‘n sekere onderwerp. Dis nou wanneer Google so handig te pas kom deesdae of soos in die ou dae, die ensiklopidieë, ingeryg op die boekrak, vinnig afgestof sou word en die soeke na kennis begin het, (sjoe was daai nie ‘n teken van ‘n intelektueel, vooruistrewende gesin op sy dag nie!) #notetoself
Dis ‘n uitputtende storie diè
Nou ja, laat ek jou maar vertel – laasgenoemde is nogal ‘n uitputtende tipe nuuskierigheid om aan te lei. Dis ‘n nimmereindige gepraat in jou kop en ‘n gesoek na meer-en-meer. En ek vermoed ‘n manier om in ‘n seker mate “voor” te kom. Wat die wedloop is, weet niemand natuurlik nie – want die nobelprys gaan ek defintief nie kry nie. Maar dalk was dit my spesiale ding, dalk was dit die èèn ding waarin ek kon uitblink. Die gatkant van diè tipe nuuskierigheid is ongelukkig dat elke brokkie inligting wat jy kry soos ‘n lastige vlooibyt voel, wat jy krap, net om die gejeuk hok te slaan…maar kry daai jeukbult net ‘n bietjie hitte dan moet jy weer krap en weer-en-weer, tot die bloed later loop. Stop, stop dit nooit nie!
En dit laat mens beslis nie in die HIER-EN-NOU LEWE nie.
Ek besef toe ek het hulp nodig met dié storie, ‘n balans êrens. Dus hoe nou gemaak om bietjie meer van die “perseptuele” ervaring in te span? Ek reken toe maar, dit het seker iets te doen met weer ‘n slag my sintuie begin gebruik of om net stil te raak (kyk ek en meditasie ons gaan nog laaaaaaaank vat voor ons soos karperde in dieselfde rigting trek!) #notetoself
Balance is everything
Die Yogi’s of meditasie guru’s het ‘n nuttige praktyk uitgedink – mens noem dit “noting practice”
Want kyk, ons het almal meesters geraak van die GEDINK! Ons koppe is die hele, liewe dag so besig met ons eie vreeslike belangrike gedagtes, dat ons skoon vergeet het van ons sintuie en dat ons hulle mag gebruik – gratis en verniet!
Skaapwagter, skaapwagter
En het jy al agtergekom om “gedagtes” in bedwang en gefokus te hou, is soos om ‘n trop skape in ‘n kraal te probeer injaag. Nes jy dink, nou het jy die spul in een rigting oppad, dan hol een dwars en die hele lot volg hom. Gedagtes gedra hulle presies net so…die een oomblik dink jy nog aan die inkopielys vir middagete, die volgende oomblik het jou gedagtes soos ‘n klomp skape heel in ‘n ander rigting ingedonner en is hulle al op ‘n drafstap oor hoe jou kleinkinders eendag sonder kos gaan wees want die wêreld het verskroei.
So laaaaaaaang storie kort, “noting practice” is wanneer jy bloot net, sonder veroordeling of enige magiese wilskrag, probeer om wat ookal in jou kop opkom, by die naam te noem.
“n Voorbeeld: Ek gaan hardloop langs die see – ‘n kans vir my om my gedagtes te orden en van al die wolle in my kop ontslae te raak. Of so het ek altyd gedink – tot ek agterkom dat ek ‘n hele 10km langs die see kon hardloop en waaragtag teen die einde feitlik niks van die roete kon onthou nie – what is the point!? Kon netsowel op ‘n treadmill gehol het.
So dus, wat ek nou doen lyk soos dit:
- Ek voel my knie is so bietjie lastig en ek maak ‘n vinnige nota in my kop – gevoel/pyn
- Ek sien die eerste branders skuimend oor die rotse breek en ek maak ‘n nota in my kop – sien
- Ek hoor die gedruis van die branders en die nota is – hoor
- Ek dink aan die pad wat nog voorlê en hoe ek gaan suffer en ek maak ‘n nota – dink
- Ek voel die son op my gesig en maak ‘n nota – voel
- Ek sien die huis en ek dink: “Die einde is in sig” – dink
Jy sien liewer, liefste medemens…as ons ‘n slag net begin om weer al ons sintuie te gebruik, die lewe is nou…nie in die verlede of die toekoms nie. Want dis wat gedagtes ‘n gewoonte het om te doen – dit hol bitter vinnig in die toekoms in of gaan grawe in die verlede. Dit beroof ons van soveel oomblikke van heerlike, salige, lieflike ervarings. #notetoself
Probeer dit gerus
Maak môre oggend vir jou daai eerste, stomende koppie koffie – gaan sit onder ‘n boom en probeer net vir 5 minute om al jou sintuie in te span en om sonder enige wilskrag, verwyt of gepraat ‘n paar notas oor jou ervarings te maak.
Dis ‘n nuwe dag, wat gister gebeur het is verby en daar is ‘n kraakvars dag voor jou om pens en pootjies binne-in te lewe, met jou hele wese. #notetoself
Praat saam: Bly jy in jou kop of in jou lyf? Laat hoor gerus van jou by vryheid@wynvlieg.com of volg my op Facebook by @wynvliegoorit