#awholeheartedlife

Vol 32: ‘n Heel hart

Ek het nog altyd geglo mense wat ‘n vol, heilsame en goeie lewe lei, is soos ek(of ten minste het ek geglo ek is darem daarheen oppad.)

Nes ek, doen hulle die regte goed om hulle lewe sin te gee, en natuurlik die moeite werd te maak – soos: ek is hardwerkend – want arbeid is mos adel; ek buig nie die reëls te ver nie, ek het deursettingsvermoë – ek sal aanhou tot ek ‘n ding regkry, ek is al ewig besig om myself te verbeter(hetsy met oefening, selfondersoek hier diep in my siel of ‘n strewe na ‘n beter lewenstyl) en ek poog om my kind volgens die boek groot te maak! #awholeheartedlifeisagoodlife

Die ewige geweeg!

Maar vanoggend toe ek weer op die skaal klim(f*k weet hoekom ek dit elke keer aan myself doen) voel ek lus om te huil. Jy weet daai gevoel van moedeloosheid wat so toesak, met die magtelose woede wat so opwel en vra: “Wat is die punt van hierdie shit nou eintlik?” Die Intuitive eating, verstaan jouself beter bullshit wat ek so najaag en waar bring dit my – voor die spieël met ‘n selfhaat wat vir niks skrik nie. #awholeheartedlife se moer.

En in daai oomblik besef ek, dat eendag as ek gelukkig genoeg is om dalk ‘n goeie, rype ouderdom te haal of dalk op my sterfbed lê – gaan ek nie dink aan die gramme op ‘n skaal of trots wees op die ure per dag wat ek spandeer het aan kalorieë tel nie. Maar dit gaan wees oor die goeie herinnerige. Aan die lekkervoel in my liggaam. Aan lig voel in my gees. #awholeheartedlife sal die strewe wees.


My uitkennings parade

Nou ja, soos ons teen die tyd al weet, ek is goed met ‘n paar dinge:

  • Goed daarmee om altyd die silwer randjie te sien in enige situasie
  • Goed daarmee om bitter krities met myself te wees
  • Goed daarmee om planne te maak (want dit gee die magteloosheid so ‘n bietjie minder mag)
  • Myself met ander te vergelyk en ‘n tekort te bespeur

Daar is darem ‘n paar ander goed ook wat ek by die lysie kan voeg, maar vir hierdie gevoel vanoggend, is diè van kardinale belang.

Hoe nou gemaak?

Ek voel die moedeloosheid my so effe, effe onderkry en besef hier moet ek myself vandag uitgrawe so spoedig moontlik, voor hier ‘n helse ontploffing kom. Genoeg is verdomp genoeg!

Ek gaan klop toe maar weer aan by Brenè Brown – laai haar nuwe boek af op daai Kindle vinniger as wat jy “mes” kan sê! Sommer met die intrapslag lees ek myself raak – ek en sy is verseker by geboorte geskei! 

“How much we know and understand ourselves is critically important, but there is something that is even more essential to living a Wholehearted life: loving ourselves.”

Wham, bang, thank you mam! Ek spandeer die grootste gedeelte van my volwasse lewe, soos ‘n wafferse argeoloog,  grawe rond om myself beter te verstaan – ek verdrink al in al die selfhelpboeke en sielkundige potgooie – ek kan al ‘n tesis oor myself skryf. En boonop sal ek goeie navorsingsmateriaal maak vir die https://en.wikipedia.org/wiki/Sigmund_Freud_Institute in Frankfurt – Mnr G se skouers hang al as ek vir die soveelste keer iets probeer psigo-analiseer.

Maar, die groot MAAR – daai laaste twee woordjies daar – Loving ourselves – nou daar lê die ding, nou daar lê die ding!

Dit wil voorkom asof ons op hierdie pelgrimstog van die lewe, gelyke hoeveelheid tyd in ons harte as ons koppe moet spandeer. En is dit nie waaroor ‘n https://g.co/kgs/AQ6GPn nou eintlik gaan nie  – elke dag stap en stap jy net.  En jy stap jou kop skoon, silwerskoon en jou hart vol. #awholeheartedlife is een gelewe met jou hele hart.

En toe lees ek DIT!!!!

“People may call what happens at midlife a ‘crises,’ but it’s not. It’s an unravelling – a time when you feel a desperate pull to live the life you want to live, not the one you’re ‘supposed’ to live.” 

Daar steek waarheid hierin

En ‘n gevoel van “verligting” spoel oor my – amper soos wanneer jy wag vir die uitslae van ‘n toets, of om te hoor of jou kind aanvaar is by ‘n Universiteit of Kollege…as daai positiewe uitslag kom wen daai opgewende veer woerrrrrr af. En jou hele liggaam raak sommer so slap soos ‘n Mills&Boon se rugkant.

En ja diè middeljare is waar ek nou is – so vir my is dit nou soos daai gekoekte bol wol wat ontrafel moet word. Maar daar is baie ander dinge wat deur die loop van ons lewens gebeur, wat ons ook tot stillstand kan roep:

  • ‘n Huwelik (daai klein jakkalsies en die groter wolwe by die deur)
  • Egskeiding  (o hemel en kan diè een mens sommer goed uitmekaar laat rafel)
  • Om ‘n ouer te raak (die een het my ‘n goeie uitklophou gegee en hier by die tienerjare was dit ‘n reuse koekerasie!)
  • Emigrasie (weg van jou mense, jou dinge, jou verstaan – en boonop moet jy mos eintlik vreeslike gelukkig wees, want dit is dan hoeka hoekom jy huis en haart agtergelaat het)
  • Die leë nes (die een gaan gewoonlik hand-aan-hand met die middeljare – double whammy!)
  • Aftrede (want diè is nou die pylvak, die spêrtyd en wat as mens dit nie regkry nie?)
  • Die dood (die dood bly die dood, dis nie net die einde van ‘n lewe nie, dit herinner al die lewendes aan hulle eie mortaliteit)
  • Afdanking (jou waarde, jou bydra – finansieël asook emosioneel word tot niks verklaar)

Die lewe deel baie, baie wakkerklaphoue uit– ons is net geneig om die “snooze button” te druk, deur te druk, te verdoof, weg te hol, kop in die sand te steek of sommer net die rug te draai. Ons wil nie die gemors ontknoop en die knit-one-slip-one uittrek en oor begin nie.

Vandag is die dag

Ek gaan vandag ‘n poging aanwend – ek gaan probeer om oomblikke, herinnerige te begin tel. Ek gaan hulle doelbewus op ‘n hoop stoot en gaan strewe om meer-en-meer oomblikke te skep – te beleef – wat die moeite werd is om te stoor vir eendag as ek oud is. # a wholehearted life

Mag jou dag ook gevul wees met mooi herinnerige en nie ‘n skaal of ‘n kalorieteller nie. Mag jou dag vars wees soos na die somerreën. En mag jy lief wees vir jouself, want as jy nie is, wie gaan wees?

Praat saam: Laat hoor gerus van jou by vryheid@wynvlieg.com of volg my op Facebook by @wynvliegoorit 

4 thoughts on “Vol 32: ‘n Heel hart”

  1. On the dot soooo waar. Eks al in die laaste fase van my lewe baie meer as genoem beleef. Vandag is ek opstandig en hardegat oor dinge wat ek toegelaat het in my lewe. Daars nog steeds boelies wat my lewensvreugde probeer steel maar danksy Wynvlieg is ek stadig maar seker om my eie ek terug te kry

  2. So innie kol. Ons is almal “mere mortals” after all. “Keeping up with the Joneses” is net soos peer pressure vir tieners!

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *