#parenting101

Vol 33: Draai sy nek om, gooi hom in die sloot

Trap op sy kop, dan is hy dood!

Vanoggend voel ek soos ‘n tierwyfie – dit broei al van gister af en net my dure ondervinding van die mensdom en sy dinge, asook die besef dat die jongeling beter af is om sy eie oorlog te veg, maak dat ek nie die ander party te lyf wil gaan nie.

Tierwyfie moeder hier is sy nou!

Amy Chau se 2011 topverkper, Battle Hymn of the Tiger Mother, het gewys dat ouers tot die uiterste sal gaan om hulle kinders net die beste kans op ‘n suksesvolle lewe te gee – wat ookal daardie sukses mag beteken. In die diereryk is tierwyfies egter beskermend oor hulle kleintjies vir die eerste ses maande, maar hoe ouer en ouer hulle raak, hoe meer besef die tierwyfie dat die jong tiertjies sal moet kan oorleef en begin sy hulle amper “mishandel” ter voorbereiding op die oorlewingstryd in ‘n woeste wêreld daarbuite.  #parenting101

Ek gaan dit sommer nou sê – ouers kan kinders goed opf*k! En ons almal skuil altyd agter die verskoning  dat ons “tog net ons beste probeer het.” Vir ons almal wil ek sê – probeer harder! 


KINDERS IS NIE VIR ONS GEGEE SODAT ONS AL ONS VRESE KAN BESWEER EN ALS WAT ONS DINK “AAN ONS GEDOEN” IS, TOE ONS NOG KINDERS WAS, MOET FIX NIE. 

(En ek besef daar is duisende der duisende mense daarbuite wat vreeslike wonde met hulle saamdra. Wonde wat hulle toegedien is toe hulle ‘n tierwyfie nodig gehad het om hulle te beskerm, maar wat weerloos teenoor die wreedheid van grootmense gestaan het.)

Maar ek weet ook, ons word hierdie ongelooflike voorreg gegun om ‘n mens te help vorm en skep, wat ‘n hele lewe moet lewe eendag. ‘n Vol een, sonder om die laste van hulle ouers ook te moet saamdra. #parenting101

Begin by die begin

Wag, ek raak nou verdwaal in my eie moedelose, bemoerdgeit. Kom ek gee ‘n voorbeeld uit eie geledere:

Ek was ‘n koshuisbrak, van die rype ouderdom van 6 jaar oud af. Die inhoud van ons kosblikke was nie naasteby op die liefdevolle standaard van die dorpskinders sin nie. Die broodjies was van daai munisipale soort, oornag gevries in die instapkoelkamer en het net een of ander geblikte jêm opgehad, wat al teen eerste pouse deur die brood gesyfer het. Ons was so “skaam” vir die inhoud dat ons daai hartseer broodjies vêr weg van die ander kinders geëet het. 

So, wat doen ek toe met my eie kind – ek pak kosblikke wat oorloop van die lekkertes. Ek breek my nek om seker te maak daar is elke voedselgroep in die ketting daarin, met ‘n lekkerny op die koop toe om hom tog net te herinner dat ek lief is vir hom. Hy hoef nie wees te voel nie. 

Het dit hom meer geliefd laat voel, het dit ‘n verwagting geskep dat die lewe altyd vol oorvloed sal wees? Wie weet! Ek vra eerder nie te veel vrae nie🤪 #parenting101 flater

Die punt is, ek het uit my eie wonde opgetree – en nie gedink aan wat die beste en regte ding vir my kind op die lange duur sou wees nie.

Die boelie is toe by die huis

My huidige voorbeeld – die een wat my so warm onder die kraag maak  – is ouers, of laat ek nou maar die ding op sy naam noem, veral pa’s, wat voel hulle moet hulle kinders reg dissiplineer. En hier praat ek nie van die soort waar jy vir hulle grense stel, sodat hulle veilig kan ontwikkel in ordentlike, goed aangepaste grootmense nie. Nee ek praat van BEHEER! Die tipe waar ouers dink omdat hulle die geld verskaf, kan hulle volwasse kinders voorsê wie hulle mag liefhê, waarmee hulle, hulleself mag besig hou en wanneer en waar hulle dit buite die huis mag waag.

Goeie genade meneer – besef jy, jy is ‘n boelie. Jy lyk belaglik en die hele wêreld lag vir jou oor jy so pateties is dat jy nie jou kinders hulle eie lewe wil laat lei nie. En weet jy watter klad is dit op jou naam – besef jy dat jou gevasklou beteken jy wantrou jouself en bevestig net dat jy twyfel of jy ‘n goeie job van die kindgrootmaak ding gedoen het.

En wat leer jy jou kind? Om skelm te wees, dat liefde ‘n siklus is van boelie, gatkruip en weer van voor af begin?Knap gedaan meneer – jy het ‘n goeie nalatenskap gelaat. Moenie verwag die kinders en kleinkinders gaan jou drumpel deurtrap as jy oud is nie. #parenting101 gedop

Suurstofdiewe word nie geduld nie

Dan is daar dies wat glo kritiek en om die kinders harder en harder te dryf – want “middelmatig” is nie goed genoeg nie – sal hulle kinders laat uitstyg, sal hulle suksesvol en dus gelukkig maak eendag. En hier moet ek goed voor my eie voordeur vee – my moerderliefde wou altyd by my weet waar die ander 10% van die 90% uitslag dan was(alles baie goed bedoel weet ek nou.) En ek, ek het daai mooi nagevolg in die grootmaak van my eie bloed. Ek weet die strewe word gedryf uit ‘n vrees dat die kind agtergelaat gaan word, dat hulle nie goed genoeg in die wêreld se oë gaan wees om òòk te tel nie. En wat het ek daarvoor gekry – ‘n kind wat glo as jy nie ‘n uitblinker is in iets nie, tel jy nie, is jy nie goed genoeg om “gekies” te word in die lewe nie. En dis snert, blote bog. Daar is nèt soveel “uitsonderlike” mense in die lewe – maar die wêreld word staande gehou deur almal van ons wat net “gewone” mense is. #parenting101 te vêr gevat

Die bedorwe brokkies

Dan is daar weer diè wat swaarkry as kind geken het. Wat nooit, ooit wil hê hulle kinders moet dit ervaar nie. Want dit was aaklig en het diep riwwe en slote gelaat wat vir altyd vasgebrand is in hulle siege. (Amper soos my kosblik episodes😝.) Maar dan swaai die pendelum weer in die heel ander rigting – daar is ‘n gesukkel om die balans te vind tussen die goeie lesse geleer in die lewe en suksesvol oorgedra aan die kinders vs om alle klippe uit die pad te rol, om elke struikelblok weg te vat. Daar is nie verniet ‘n gesegde: “Bederf tot in die afgrond nie.” Want ongelukkig is die eindresultaat ‘n generasie wat net aanspraak wil maak op alles, wat ‘n aardige gierigheid het en wat glo die wêreld skuld hulle iets.  En soos ons almal weet, die wêreld skuld niemand niks…maar dan het hierdie arme kinders geen lewensgereedskap om hulle uit die afgrond te kry nie. #parenting101 was nog nie op in die leerplan nie.

Voor in die kerkbanke, agter in die ry

Nie tè vêr van die huis af nie, is daar òòk dies wat glo dat ‘n kind wat nie in die perfekte vorm, soos voorgehou deur die samelewing, of kom ons noem hom op die naam – die KERK – pas nie, ‘n klad op sy of haar naam is. Iets wat moet weggesteek word, wat ‘n slegte refleksie op hulle goeie naam en eer is. En verbeel ek my of het die Here eintlik gesê almal is na Sy volmaakte beeld geskape? Maar hierdie het niks te doen met geloof nie, nee, o nee – dit het te doen met ‘n uiters swak selfbeeld, wat weggesteek raak agter ‘n groot bravado en ‘n stel reëls. ‘n Vrees dat die weerlig jou gaan platslaan, of dat jou bure gaan dink jy is nie hierdie hoogheilige, perfekte ouer wat die perfekte kinders kon staanmaak nie. Jy weet, meneer of mevrou – daar is mense wat vandag kinders aan die dood moes afstaan en wat enige tyd joune sou vat. En wees dankbaar dat jou kind nogsteeds keer-op-keer na jou sal terugkom vir goedkeuring – ag jouself gelukkig! #parenting101 is boos.

Martelaar tot in der ewigheid

Dan is daar diè wat voel hulle het hulle kinders êrens gefaal – toe die lewe rof was en hulle om oorlewing geveg het. Waar hulle dalk net nie meer asem gehad het om aandag en liefde in oorvloed te stort nie, want hulle moes die wolf van die deur af weghou. Hulle moes dalk 2 of 3 werke aan die gang hou, hulle moes dalk die klein bloedjies aflaai by ‘n koshuis omdat daar nie genoeg kos by die huis was vir almal nie. Hulle moes dalk die een kind meer aandag gee as die ander – omdat dit al was waarvoor daar nog tyd en energie was. En die swakkeling moes bo gehou word. En nou jare later struikel die ander een dalk en die blaam vir mistappe en swak keuses word keer-op-keer voor die ouer se deur gelos. En die ouer probeer opmaak, weer probeer, voel skuldig en offer alles op. Die ding is, êrens langs pad moet kinders verantwoordelikheid neem vir hulle eie lewens en om hulle soos klein kindertjies te hanteer, sal hulle soos klein kindertjies laat optree. En dan my liewe mens, help jy hulle reg van die wal af in die sloot. #parenting101

So, wat ek met die tirade vandag wou kwytraak is dit – gaan soek jou eie seer, wees eerlik oor jou vrese en wees man of vrou genoeg om pa te staan daarvoor. Jy het nie nodig om jou kinders te gebruik om al die gate in jou te vul nie! Kinders doen jou na en sal nooit moeg raak daaarvan om te hoor jy is lief vir hulle, jy aanvaar hulle nes hulle is en dat jy jammer is as jy misgetrap het. En hierdie is nie net my eie opinie en seepkisoomblik nie, lees maar hier.

Sò baie keer in ons soeke om “beter” te doen, f*k ons kinders goed op! Vee eerder voor jou eie voordeur, dalk as daar minder stof en spinnerakke daar is, tree die kinders skuldloos oor die drumpel die wye wêreld in. #parenting101

Praat saam: Laat hoor gerus van jou by vryheid@wynvlieg.com of volg my op Facebook by @wynvliegoorit 

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *