#thebigfive

Vol 34: Meng jou met die semels en die varke vreet jou op

Jim Rohn,‘n bekende Amerikaanse entrepreneur, besigheidsman en later motiveringspreker is wel bekend dat hy die volgende kwytgeraak het by meer as een geleentheid: ‘we are the average of the five people we spend the most time with’ #thebigfive

Ek sit toe so ‘n bietjie met hierdie gedagte en dog so by myself – shit suster, hierdie is nogal ‘n diep ding diè. En dis nogal effe, so ‘n bietjie en dan sommer ‘n baie vreesaanjaende gedagte. En ek begin voorraadopname maak en vinnig!

Plek nommer een

Mnr G gaan nou ‘n diep slaak van verligting sluk as hy hier lees, want hy is ‘n pendelende boer, en dus kan hy nie hier ‘n verskyning maak nie. 🤣Want tegnies gesproke spandeer hy seker nie lank genoeg tyd saam met my om as ‘n permanente lid van die top 5 geag te word nie. Maar alle grappies op ‘n stokkie, ek kan hierdie tipe verhouding met ‘n bietjie asemskep aanbeveel. Die feit dat ons vir mekaar die ruimte gun om te wees wie ons wil wees en dinge te kan doen wat ons harte laat sing, sonder om mekaar daarvoor te verwyt of die een die ander in ‘n boksie probeer inprop, maak van ons beide ligter, gelukkiger en meer liefdevolle mense.  

Daar is soveel moets en moenies wat die samelewing as die “ideale” voorbeeld van werkbare verhoudings voorhou…maar laat ek nou maar vanoggend opstaan en sê: “Vind uit wat julle ideale verhouding is, nie wat die TV of die tydskrifte voorhou nie. Skep jou eie droom.” En as ons daarby kan hou en nie soms verval in ons eie ego’s en ons Jannie-jammer-kak situasies nie, dan is hierdie ‘n Top 5 bydrae wat lag insluit, wat ‘n beter weergawe van onsself insluit en wat maak dat ons vol selfvertroue en liefde in ons harte die res van die wêreld kan aanpak. #thebigfive se leeu


En die tweede plek gaan aan….

Nou ja en dan het ek ‘n mooi afskrif van myself wat huidiglik op 20-jarige ouderdom, weens COVID natuurlik, nie sy vlerke so wyd sprei soos dit moes nie en homself tuis bevind. Die ding met daai drie-dubbele-afskrif papiertjies is dat hulle jou heeltyd herinner aan die goeie, die minder goeie en dan die dele van jouself wat jy eerder wil uit-Tippex. Maar dit gee jou ook darem die kans om introspeksie te doen en om die “nuwer” weergawe bietjie reg te timmer. Die een ding staan soos ‘n paal bo water though, daar is seker niks op aarde wat ‘n mens so kan ontstel soos ‘n kind wat ongelukkig is, of wat sukkel met ‘n lewenservaring soos jou eie bloed(tjies) nie. Of die triomf van ‘n goeie dag, goeie nuus en een wat lig en vrolik by die kamer uittrippel nie.

En as jy een soos myne het, wat dinge oordramatiseer en wat alles in die oortreffende trap beleef, dan het dit ‘n gewoonte om jou in te sluk en soos die Lainsburgvloed mee te sleur. Dit vat jou saam en dit tol jou om-en-om, jy voel magteloos, gefrustreerd of op die wieke van die wind in ‘n oogwink! So ek moet myself ook maar meermale kwaai aanpraat en herinner dat ek nou aan wal staan, dat die arme bloedjie sal oorleef en dat teen môre of oormôre ry ons weer ‘n ander golf! Maar dis darem ook lekker en vervullend om jouself weer as ‘n 20-jarige te sien! En ek gaan diè weergawe van myself mis as die poorte na normaliteit eers weer oopgaan.  #thebigfive se luiperd.

Nou ja, dis die twee mense wat die huisadres met my deel en dus sekerlik onder die top 5 val. Ons het mekaar uitgetoets, en ons vind daagliks nog ons gemaklike holtetjies en lêplekke in mekaar se lewens. Die res is twee ouerige honde…en hulle slaap meeste van die tyd, en verder soek hulle net op spesifieke tye – soos dit die oueres van dae betaam – kos by my en so af en toe ‘n stappie.

So kom ons beweeg dus aan na al die ander invloedryke mense daarbuite. Invloedryk, nie omdat hulle so wonderlik noodwendig is nie, maar invloedryk omdat ons kies om ons kosbare tyd met holle deel.

Volbloed malaria muskiete

Party mense het mos die gawe om regtig jou dag sommer goed op te donner. Jy hoef hulle net te sien, dan voel jy sommer hoe jou bloed begin te kook, òf dalk het hulle die gawe om energie soos ‘n volbloed muskiet uit jou te suit! Daar is die klaers, die grypdiewe(ek noem hulle so, want hulle sal net vat-en-vat sonder om ‘n oog te knip) die slagoffers, diè wat aan kroniese “moegheid” lei of die boelies.

Wees versigting: Grypdiewe in die omtrek

Ek wei plek nommer drie aan die grypdiewe. Meeste van hulle het ‘n uiters goed ontwikkelde slagoffer mentaliteit ook al opgetower. Hulle is vrolike vinke as daar uitgedeel word, maar as daar ‘n opoffering op die horison verskyn, voel hulle genoop om jou skuldig te laat voel, òf die mond sleep op die grond òf daar is iets wat jy sus-of-so kon doen om hulle lewe beter te maak. En kort voor lank is jy ingesuig in die kolk van “arme-hulle” en al hoe “arme-hulle” beter sal kom en meer gelukkig sal wees, is as JY, sus-en-so verander aan jouself, of meer gee van jou tyd, of meer gee van jou besittings of tog net vir hulle ook ‘n slag aandag of erkenning gee. Want foeitog, die hele wêreld is teen hulle en hulle verdien soveel beter. Maar as JY tog net dinge vir hulle sal verander, dan sal alles sommer net weer reg wees. Maar, nou het ek al die saak so dopgehou en besef dat ongeag van hoeveel keer jy watertrap, jy hulle daaruit probeer sleep – hulle gaan vir jou saam aftrek in daai maalkolk. Jy is nie aan die wen -of redkant hier nie – jy word afgetrap en versuip. 

Dus, hierdie tipe mens is nie diè drenkeling wat ek wil saamsleep meer nie. Ek val eenvoudig nie meer daarvoor nie en ek sit afstand tussen my en sulke mense, soos in bespreek my kaartjie Mars toe saam met Elon en sy vrinne – so ver ja, so ver!  #thebigfive se olifante met slurpe nogal.

My mense

Ek werk vir myself, dus spandeer ek baie tyd in my eie geselskap en ek hou nogal daarvan. Die probleem is, hoe meer tyd ek in my binnekamer spandeer, hoe meer van ‘n kluisenaar raak ek. Ja, ek verstaan dis moeilik om te glo, maar ek belowe julle dis waar. Hoe anders dink julle kry ek tyd om al hierdie blogs op te dis🤪?  Ek het jare in die korporatiewe wêreld spandeer, vergadering na vergadering bygewoon, moes my plooi na die luim van die dag of die grootkokkedoor se giere. Want hier was rangorde aan die orde van die dag, jy het jou plek geken. Vele van daai vergaderings kon jou soos ‘n ou, uitgedroogde lap wat te lank op die wasgoeddraad gehang het, laat voel. 

Maar deesdae, deesdae kan ek my kliënte kies. Ek kan kies wie ek my mee ophou, watter invloed hulle op my lewe gaan hê en of dit ‘n dag van verligting gaan wees as ek tyd daar verwyl.  En ek kan met alle eerlikheid erken – my kliënte, hulle is mense wat my hart laat sing. Hulle praat dieselfde taal(wel meeste doen, die res glo my blindlings en dis nog beter🤣) Ek glo in wat hulle doen, in hulle integriteit. Dis sout-van-die-aarde tipe mense. Sulke mense is die tipe met wie ek plek nommer 4 wil vul.

Die uitverkorenes

Nou ek het ‘n ander groep(ja ek kan nie net een mens kies nie, ek het ‘n liga nodig om my lewe aan te vul – maar ek is kieskeuriger as die Springbokafrigtingspan oor wie in daai liga is.) Maar hulle weet wie hulle is, hulle lag saam, deel my humorsin, ons kan skinner, ons kan raad uitdeel….kortom ons het almal ‘n deelwêreld van een of ander aard. Maar diè lot se lof het ek al gereeld besing.

WAARSKUWING!

So kom ons sluit af op ‘n droewige noot: Die negatiewes. Vermy hulle soos die pes. Daar is mos mense wat as hulle, hulle oë oopmaak, sou mens kon sweer daar was gif of iets in hulle koffie. Dis asof hulle stuiptrekkings van die gemoed kry die hele liewe dag. Van seëninge tel het hulle nog nooit gehoor nie. Want o, as dit nie die regering is wat hulle kanse in die lewe belemmer nie, dan is dit die buurman wat sy kar op die verkeerde plek parkeer het. Of die man by die stopstraat wat duidelik vanoggend daarop uit is om die uwe se lewe te versuur. Selfs die weer speel nie saam nie en die ekonomie is ook nog is sy moer. 

Kla, kla, kla….en gewoonlik met die witbrood onder die arm. My ma het altyd gesê: “Dis omdat jy verveeld is wat jy tyd het om so te kla, gaan kry iets vir jou hande om te doen!”

Die mense moet TEN ALLE TYE VERMY word, ek herhaal…VERMY! #thebigfive se buffels

So ek het ‘n kortlys gemaak van hoe my top vyf moet lyk:

  • Buigsaam
  • Oopkop
  • Kreatief
  • Vlug van begrip
  • Sin vir humor(asb nie van diè slapstick tipe goed nie, ek weet nie, dit voel net soos luiheid in ‘n grap)
  • En ‘n be-and-let be attitude sou nice wees!

Vermy:

  • Negatiwiteit
  • Jannie-jammer-kak houding
  • Ewige moegheid
  • Gierigheid en sy broer inhaligheid
  • Oppervlakkigheid
  • Die ewige slagoffer

Oor en uit!

Praat saam: Hoe lyk jou top vyf? Skryf ‘n slag asb en stuur aan vryheid@wynvlieg.com of volg my op Facebook by @wynvliegoorit 

1 thought on “Vol 34: Meng jou met die semels en die varke vreet jou op”

  1. Pingback: #celebrating100isathing | Vol 100: “Eeufees” Vieringe

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *