Gister nog was hierdie blog ‘n meesterstuk en nou is ek sommer net moerig! Moerig vir myself, want ek het in ‘n blonde oomblik die hele blooming ding UITGEVEE
Soos in weg, moer toe weg, never to be found again! Het natuurlik net myself om te blameer – maar hoe ironies. Die skrywe gaan oor WOEDE….niks natuurlik so goed soos om dit aan jou eie bas te voel nie! #hellhathnofury
Kom ons probeer maar weer!
Terug na die meulsteun, terug na die navorsing. En daar is Leon F Seltzer Ph.D. darem gelukkig nog in die inbox te vinde. Hy is een van die slimkoppe by die www.phsycolgytoday.com waar ek deesdae gereeld, soos van ouds in ‘n biblioteek, heel verdwaal kan raak.
Die tema is woede en hoe ons die blaam binne ‘n oogwink kan verplaas, en in sy woorde:
“such prevarication is certainly not one of our more endearing traits. It’s hardly exemplary behavior to try to escape blame or criticism by “passing the buck.” And projecting our mistakes, or misdeeds, onto others represents a psychological defense that, while it may protect our ego, typically creates far more problems than it solves.”
Dit blyk “woede” staan gewoonlik tweede in die ry, skuil so bietjie agter ‘n klomp ander emosies waarvan ons desperaat probeer vlug. Maar ironies genoeg is party van ons so geskoold daarin om woede as ‘n versperring te gebruik, dat ons selfregverdigend die woordbomme gooi en ander probeer wond.
Spelonke van woede…daar skuil ander gediertes daar
Woede is ‘n goeie skuilplek om te skuil van skuld, en nog meer van angs en seerkry. En seerkry kry gedaante in gevoelens van onbelangrik, onvoldoende, magteloos, skuldig, beskuldig, onbetroubaar, minderwaardig of ongeliefd te wees. #hellhathnofury cause it has no power
En sommige van ons pluk die wapenrusting van woede om elke hoek en draai aan, want woede maak ons minder kwesbaar. Dit raak verslawend, dis soos tik…dit maak ons magtig en mal. En daar is natuurlik ‘n oeroue reaksie wat ons almal het, die fight or flight response. Watter een ookal jou gevegskuns is, eintlik het beide ‘n geurtjie van woede …hetsy stil of luidrugtig.
#hellhathnofury soms net stiller
Hoor jy my nie?
Die jare toe ek nog die #wynvlieg omarm het, kon ek en Mnr G darem mekaar goed die stryd aansê – as die voggies natuurlik begin trek, want ons is nie van die vlug soort nie. Ons is vegters van formaat. Toe ek nou met meer nugterheid na die saak kon begin kyk, het ek besef dat in daardie oomblik, toe al die skanse saam met die alkohol verdwyn het, was ek kwaad, vurig kwaad. Die woede was ‘n skuilplek omdat my opinie nie waardig genoeg geag was in sake wat ons beide se lewens geraak het nie. My wonde van onbelangrik voel het na die oppervlak geborrel en oorgekook soos ‘n vuurspuwende berg. Einlik was ek kwaad vir myself, kwaad omdat ek nie genoeg is nie, kwaad omdat ek nie my man kon staan as dit tel nie. #hellhathnofury…Van Helsdingen
Moenie ‘n tiener verkeerd opvryf nie
Al my vriendinne wat al die tienerjare oorleef het of midde die stryd staan, sal weet ‘n eens vrolike kind kan binne sekondes in ‘n draak verander. Want as die Roaccutane gesiggies enigsins snuf in die neus kry dat jy hulle nie vertrou om grootmens dinge, wel soos grootmense, aan te pak nie, is daar ‘n ontploffing van astronomiese proporsies. Want hoe durf die een met die ondervinding die kuiken as onbetroubaar ag. Maar ons was al almal daar en ons weet daardie bravado is eintlik maar ‘n vrees vir die onbekende en dat die bene gaan wankel.
Die skoner geslag…pik ‘n traan of twee
Ek doen so ‘n bietjie navorsing en vra onder die skonergeslag, wat hulle die vinnigste tot trane kan dryf – want die gerug doen die rondte vir eeue ou al, dat ons effe meer sensitief is en die krane vinnig kan oopdraai. Behalwe vir die voorhandliggend dinge soos mense wat ly, swaarkry en die mooi dinge in die lewe….is die nommer een ding, magtelose woede. Magteloos omdat hulle woorde nie belangrik genoeg geag word nie, magteloos omdat daar ‘n boelie is wat harder kan praat, wat meer kwetsende woorde kan gebruik of wat die beursie beheer. Die vrees van nie ‘n verskil kan maak of gesien kan word as ‘n gelyke nie, draai daai krane oop. En dan raak ons sommer vir onsself moerig omdat ons nie soos ‘n man ons plek kan volstaan nie.
Wie het met die TV gepeuter? Die ding werk alweer nie!
Daar is ‘n sekere generasie wat nog die SAUK se toetskerm gade geslaan het en wat moes gaan van ‘n handsentrale na ‘n SmartTV, WiFi en SmartPhone. As jy woede gebore uit ‘n gevoel van “onvoldoendenheid” op sy stukke wil sien…laat een van die laasgenoemde net nie werk nie. Dis soos om ‘n foutiewe primusstoof aan te steek – die vonke spat behoorlik en van die kinders, tot die kuiergaste en die skoonmakers word beskuldig dat hulle ALWEER met die goed gepeuter het. En as daar geen skuldige gevind kan word nie, is Eskom en beurtkrag aan die beurt!
Die skuldige is dus?
Sou die moeder van die huis, die skuldige probeer vind wat die tjoklate, wat sy so sorgvuldig weggesteek het, verorber het, (want sien heimlik het sy gehoop om dit self skelm so stukkie-vir-stukkie te geniet.) Dan het die skuldige of soos mis voor die son verdwyn of die beskuldigings word wild tussen die kinders en pa rondgeslinger. En hierdie is uit die aard van die saak nie ‘n oortreding wat tot die doodstraf sal lei nie, maar nee, ons sal liewer dat iemand anders pa staan vir die kleinste van oortredings uit vrees vir “skulderkenning.”
Vat ‘n bat
Dink ek het nou ook padwoede uitgefigure – want hoe op aarde kan iemand durf om voor jou in te draai, stadig te ry in die regterbaan, op jou gat te sit…of natuurlik bestuur asof die pad aan hom of haar behoort? Genade het die mense so min agtig vir jou waardigheid. En natuurlik het hulle jou spesifiek vandag geteiken omdat hulle ‘n mes in het vir jou. En wie sal dit durf om jou so minderwaardig te laat voel? #hellhathnofury…the road is a hell hole
“Hell hath no fury like woman scorned” is ‘n uitdrukking waarmee onse Outsurance mannetjie, Katlego Maboe GOED kennis gemaak het. Ongelukkig het mev. Maboe haarself ook effens in die voet geskiet, maar haar woede kan ons, ons darem mee vereenselwig…sy het ongeliefd en verworpe gevoel. Toe doen sy in ‘n oomblik van woede iets wat sy gehoop het die bordjies sal verhang. Nog erger is ons nuus wat wemel van eggenote wat die kat in die donker geknyp het en wat eerder hulle vrou sou vermoor as om die skuldige party te wees.
Ons is almal soekend
Die reine waarheid is ongelukkig dat ons soveel kere ons kwesbaarheid agter woede wegsteek en die blaam of die las verplaas. Die vraag bly: Wanneer gaan ons bereid wees om soos die volwassenes wat ons voorgee om te wees, eers te soek na die emosie wat agter die woede skuil?
Want dis ‘n kwaadstoker wat al ons verhoudings gaan laat knak. En die nabyheid, harmonie en vertoue wat ons almal so na smag gaan laat wegdryf terwyl ons hulpeloos toekyk.
Ps ek is nou ook nie meer so moerig vir myself nie – dit was toe eintlik ‘n seëning. Dankie @thepianoguys dat julle my weer kon inspireer. En laat ek julle nou net vang dat julle nie hierdie gelees het nie, dan is die hel los!!!
(Los ‘n boodskap op Facebook @wynvliegoorit as julle wel gelees het..hierdie is ‘n toets!)
Praat saam:. Hoe lyk jou woede? Laat hoor van jou by vryheid@wynvlieg.com of volg my op Facebook by @wynvliegoorit
My go-to reaksie as ek skrik, ongelukkig voel of beskuldig word, is woede. O, en vloek. Of dit die rekenaar of die man of die bliksem by hek wat wéér kom bedel is, ek vloek. En as ek nou régtig erg bemoerd is, huil ek. En my lippe bewe glo, sê hulle…wat dan weer woede ontlont want ek willie bewe lippe hê nie want dis ‘n teken van kwesbaarheid glo. Ja, daar is ander redes agter elke woede/vloek aanval. Is dit noodwendig verkeerd…solank jy net daai brommer in die wyn kan uitkry?
Nee dis nie noodwendig sleg nie, maar kwaad het selde die gepaster uitwerking!