Die oorsprong van hierdie dag vol hartjies, teddiebeertjies, rose, en geykte liefdesverklarings en natuurlik dies – soos ek vele male op hoërskool was – sonder ‘n kaartjie, sonder ‘n hartjie(wie in elk geval so ‘n marteling uitgedink het op ‘n skoolgrond moes daai tyd al soos van die manne wie die dag moontlik vernoem is, kop af gekap geword het) – is onseker. #bemyvalentine
Sjoe, Aitsa Jou Lekker Ding!
Die vroegste, moontlike verklaring vir die oorsprong van hierdie dag van die liefde, wat nou nog met oorgawe gevier word, is glo ‘n “heidense” fees wat in die ou Romeinse Ryk gevier was, naamlik die fees van Lupercalia. Diè was glo ‘n gewilde storie – die fees het vrugbaarheid gevier en blyk my aangevuur ook! Die jongmanne het glo poedelnakend rondgehol en die jong dames met die velle van ‘n bok of ‘n hond(asb tog nie!) wat hulle geoffer het gepiets.
Nou mens kan sien hoe so ‘n gerondhollery met ‘n geswaaiery van al die kroonjuwele die mans se luste kon opjaag, maar vir my klink hierdie bietjie na ‘n komedie! So gewild was hierdie fees dat dit 150 jaar na die Christendom die ryk oorgeneem het, nogsteeds gevier is – die enigste in sy soort! Dit wil dus voorkom of die Kerk nie juis veel van ‘n keuse gehad het as om die gepeupel se geliefde fees na ‘n Heilige te vernoem en sodoende die saak meer beskaafd te laat lyk nie – kreatiewe lot gewees die vroeë Rooms Katolieke. #bemyvalentine, slaan dat kwas.
Daar is nog vele ander moontlike teorieë oor die oorsprong van die dag, maar diè een is die sappigste, so ek kies hom 😆!
Goeiemôre, ek is lief vir jou
Vandag lê hierdie ding van die liefde vir die self my op die hart. En liefde vir jouself kan natuurlik ‘n narsisitiese toon aanneem – wat ek vind lelik kop uitgesteek het in hierdie dae waarin ons onsself bevind. Ek is onbeskaamd die eerste een om ‘n pedikuur of ‘n haarsny nader te hark as ek ‘n paar denkbeeldige kilogramme wil afskud of beter oor myself wil voel…ook maar ydel. En dis natuurlik ‘n manier om selfliefde te bewys ja, maar die liefde vir jouself is veel, veel meer kompleks as dit natuurlik en boonop ‘n klomp harde werk. #bemyownvalentine
Die media wemel van die memes en sêgoed oor die onderwerp –
“How you love yourself is how you teach others to love you.” Rupi Kaur
“I’m doing it for me.” Amy Williams
“Know you worth, don’t ask for it, state it. And never accept anything less.” Spirit Daughter
“You are worth more than you your second thoughts and maybes.” Our Mindful Life
Meeste eintlik niksseggend en party selfs vreeslik soetsappig, maar dit het die gonswoord van ons tyd geword.
So, die kaartjies is uitgedeel, die liefde is verklaar – dalk het ons vir ‘n oomblik stilgestaan teenoor die een vir wie ons lief het en ‘n bietjie bestekopname gemaak oor die wonder van die liefde – veral deur dik en dun. Maar om ‘n mensself REGTIG lief te hê is ‘n donnerse uphill struggle hoor. Dis ‘n ding waaraan daar gewerk moet word, meestal is dit ‘n sweterige, snot-en-trane storie en dit bly ‘n work in progress.
Maar vandag het ek ‘n lysie gemaak van diè dinge wat ek aan myself gaan bly skenk – sodat my hart kan oopmaak en ek lekker kan gaan sit in my eie binnekamer en al my duiwels op hulle name kan noem en die toekoms innooi – en wie weet, dalk word ek ook met ‘n bokvelletjie gepiets! 😂
So, here are a few of my favorite things!
- Die oggendkoffie wat deur iemand anders gemaak is(hoor-hoor mnr G!) Daar is iets in die troos en bederf van ‘n vroegoggend koffie en die dag rustig begin. As daai koppie boeretroos met ‘n lekker semelbeskuit, gedoop en genutig kan word..dan is ek reg terug in my ma se kombuis. Omvou met ‘n onsigbare liefde en aanvaarding. Ook vir die self.
- Die see – ek is ‘n VIS. Dus bring enige groot massa water(verkieslik so groot soos ‘n oseaan)my onbeskryflike, opwindende vreugde. Ek dink ek sou graag een van daai mooi kleurvolle visse in die koraalriwwe wou wees, maar dalk is ek meer van ‘n seekat soos in My Octopus Teacher. Die groot, magtige gebreek van branders, die skuim wat so sprei…ek dink dit gee my hart ‘n gevoel van vryheid, van mag, maar ook die gerustellende herhaling van die branders wat weer-en-weer breek. Soos die lewe, alles het ‘n eb en ‘n vloei – daar is ‘n moontlikheid dat alles weer mooi en skoon kan wees, selfs na ‘n storm.
- Om iets nuuts te leer – dit laat my hart met verwondering blom, dit maak my gemoed oop en laat my in ‘n beter lewe glo. En dalk laat dit my so ‘n bietjie meer in beheer voel. Die blote ontdekking van iets nuuts bring ‘n gevoel van opwinding. En dit mag dalk net my Superwoman krag wees – Curiosity – want my ewige nuuskierigheid bring hoop en ‘n silwer randjie.
- Om onder ‘n boom, plat op my rug te lê en die lig deur die blare te sien dans. Dit neem my terug na ‘n tyd toe ek gedroom het van ‘n lewe gevul met potensiaal, vol groot-dramatiese dinge en kreatiewe drome. Nou kan ek terugkyk met genot, my weer verloor en met dankbaarheid kyk na dit wat ek bereik het en hoe ver ek gekom het. Die wonder wat ‘n terugblik mens verskaf.
- ‘n Oproep na ‘n suster – eers was dit my ma tot die GROOT VERGEET haar kom steel het. Gelukkig het sy sekergemaak daar sal altyd ‘n ander vrou, met bloed soos myne, aan die anderkant van die lyn wees. Dis my noodlyn, my gemene delers, dis die deel in vreugde, die saamlag, die lekker skinder en die raad en net ‘n oor – wat regtig hoor. ‘n Veilige hawe, ‘n skrootwerf waar alles net afgegooi kan word.
- Om te skryf – nou ja, ha-ha-die-ha….ek hoef seker nie hierop uit te brei nie. Behalwe dat dit een van die mees helende dinge is wat ek kan doen. En laat ek nou maar bieg, ek doen hierdie meer vir myself as vir enige iemand anders. Elke skrywe is eintlik ‘n brief aan myself, ‘n herinnering van wat nou, op hierdie dag en datum belanglik is vir my om gehoor te word.
- Die sagte, leeragtige reuk van ‘n perd se nek. Die speelse geknibbel aan my hand en die persoonlikheid wat elke liewe een het. Dis soos verniet terapie en ‘n kleintyd hunkering wat ek nou met oorgawe kan uitleef. As ek eers by daai stalle was, op ‘n drafstappie of ‘n vinnige gallop is ek in die sewende hemel en so, so lig. Ek het selfs ‘n klankbaan waarna ek luister oppad soontoe…Funky Town, hey Funky town.
- ‘n Fliek – kyk ek doen spookasem flieks maklik, dit laat my nog, soos ‘n tienerdogter, glo in die liefde wat alles oorwin – maar eintlik is meesterstukke soos Call Me By Your Name die tipe wonderwerk wat my vir dae, maande en jare kan omarm. Dis die mens en liefde in sy rouste, eerlikste vorm vasgevang. Ongelooflik, briljant en kos vir die siel.
- Musiek en om meer spesifiek te wees, klassieke of klaviermusiek. Dit mòèt iets te doen het met my grootwordjare en die versameling plate wat my ma in die sideboard gehad het…alles klassieke langspeelplate, hulle het nog sulke goue omhulsels gehad en al die groot meesters bevat. Ek het daai plate voos gespeel en dit het my weggevoer na vêr-vêr plekke. En tot vandag as ek my hart wil laat sing, dan sit ek ‘n Mozart op ‘n oorverdowende volume aan en my hart kry vlerke.
- ‘n Lekker ou middagrussie – salige bederf daai een. Daar was die verpligte middagslapie as ‘n klein dogtertjie, in ‘n koel kamer op die plaas. Vies was ek vies as ek twee ure later wakker raak en besef my ma het my “bedrieg” en van kosbare speeltyd beroof. Maar vandag is daai 20-minute wat ek my oë kan laat rus ‘n gawe van Bo.
‘n Tree in die regte rigting
Hierdie pelgrimstog is ‘n voetjie-vir-voetjie getree in die rigting waar ‘n mens jou swakhede begin erken en aanvaar – en nie probeer wegsteek agter een of ander ereteken van hardegat wees nie. En waar ons met ‘n sagte oog en hart kan kyk na ons eie swaarkry, na diè dinge wat ons lewe ‘n doel gee en met ‘n onverskrokenheid dit najaag. Dis wanneer ‘n mens doodeenvoudig jou hart wawyd oopmaak en jouself binne nooi om ‘n lewe van ongelooflike vrede, vreugde en dankbaarheid te ervaar. A Seven-Step Prescription for Self-Love.
Woorlekkertjies van ouds
Wat doen jy vandag vir jou, net vir jou? Dalk kan jy vir jou van daardie woordlekkers gaan koop – herinner jouself hoe belangrik jy in jou lewe is. #bemyvalentine
Praat saam:. Laat weet hoe jou lysie lyk. Stuur hom aan vryheid@wynvlieg.com of laat hoor van jou by @wynvliegoorit op Facebook