Vol 38: Dis ‘n droewige storie diè

Het jy geweet – Mense is die enigste lewende wesens op hierdie aarde wat regte-egte trane stort? #crymybeloved

Trane het natuurlik verskillende funksies, soos om jou oë nat te hou, dis ‘n refleks as jy daai giftige ui afskil en dan die een wat ons so ‘n bietjie van ‘n gekompliseerde verhouding mee het  –  vir emosionele redes. In die Medical News Today artikel verwys hulle na statistiek wat aandui dat mense meer huil as wat hulle graag wil erken. In Amerika huil vrouens gemiddeld 3.5 keer ‘n maand en mans 1.9 keer. 

Hart soos ‘n klip…meer sandsteen sou ek sê

Mnr G is van die oortuiging dat ek een van die hartvogtigste mense is wat hy ken – want ek huil nie sommer nie en ek hou ook nie van ‘n aanhoudende geteem nie. Dis ‘n foutlyn wat ek het, want eintlik kan ek die krane goed oopdraai! Maar ek dink my waghonde van “wys-geen-swakheid” en “hou-op-jouself-jammer-kry” is manne met tanne, so die tjankbalie word vinnig kamer te gestuur. #crymybeloved


Maar,  die ouderdom bring nuwe wyshede en ook ‘n Dr. William H.Frey II. Die skrywer van onder ander Crying: The Mystery of Tears.

Hierdie is ‘n man, nee ‘n man wat spesialiseer in die brein en sy dinge en boonop ‘n navorser,  wat ‘n studie oor ‘n tydperk van 20 jaar gedoen het, oor die voordele van ‘n goeie tjanksessie. So wie is ek om te stry?

So kom ons bekyk die saak van naderby en behou die goeie en gooi die res saam met die badwater uit😉. 

Dis ‘n stresvolle situasie

Ons was al almal so uitgestres dat dit gevoel het jou binneste gaan heeltemal inmekaarsak en in een groot modderige poel van emosies en binnegoed ontaard. Diè lelike situasie is dalk by die werk begin of ‘n geliefde is siek en jou nerwe is later so dun, dat die damwal breek en dan lyk jy soos die Augrabies nou lyk, dit loop net oor. Wel, dis natuurlik geen verrassing dat trane help om stres te verlig nie. Maar, die baie goeie nuus is dat dit letterlik ons liggame se manier is om  ons te help oorleef soos in hierdie Aging Care bespreek. Want stres kan ons liggame goed in die afgrond afstuur – soos ‘n kar buite beheer. Dit laat ons hartaanvalle kry, migraines, beroertes…so die liggaam raak soos ‘n oorverhitte enjin en die trane die verkoeler.

Pleks hulle my vertel het!

Nou ja, as ek geweet het trane kan my bloeddruk verlaag, het ek lank reeds daai klomp pille by die drein afgespoel. En boonop sou ek die mediese fonds nog ryker kon maak, deur hulle nie te laat vergoed vir my kroniese medikasie nie(want foeitog hulle kry mos baie swaar.) Nou ja, trek nader daai Huisgenoot…nou gaan my bloeddruk val! #crymybeloved medical aid.

Karwas enige iemand??

En trane was letterlik ons liggame skoon – ‘n karwassery vir die liggaam en siel, silwerskoon gepoets en gesuig. Dit onttrek al die toksiese kortisol uit ons liggame en sommer ook al die bagasie en stront wat ons emosioneel saamdra. En nie net dit nie – so lees ek toe ook ons dra mangaan saam in ons liggame en ‘n huilsessie of twee verseker dat ons nie verhoogte vlakke daarvan in ons liggame het nie. My maggies, leer ek ook nou ‘n ding of twee oor Manganese, want verhoogte mangaan in ons bloed maak ons meer angstig, depressief en geirriteerd. Hmmm, ek voel meer na iemand in die gesig slaan as ek geirriteerd is, as huil, maar nou ja…sal werk moet maak daarvan!

Waar is daai blankie?

Maar wat my meer fassineer, is die bevinding dit dat strelend en helend is vir die gemoed. Dis ons eie, emosionele kombersie of fopspeen wat ons gerusstel. En boonop lok trane ook simpatie(sien dis daai ding wat my so bietjie dwars in die krop steek, want ek nie groot op die simpatieskaal nie – seker maar weer daai ou nare vrees en afkeur vir swakheid,) maar feit bly staan, ons het mense nodig om nie so alleen in die wêreld te voel nie. En ‘n traan lok die besekermde arms van ‘n iemand wat net verstaan. #crymybeloved ek is hier.

Leeg, dolleeg

En wie het nie al onbedaardelik getjank voor ‘n tranetrekker op TV nie, soveel so dat die snikke deur jou ruk en jou oë lyk soos ‘n pasgebore babatjie sin. En dan, dan tree die groot slaap in. Selde slaap mens so goed soos na ‘n goeie huilsessie. Dit maak mens moeg, dit laat jou uitgeput en uitgemergel …maar dis net mooi die punt. Dan is jy leeg en die helende slaap daag op. Lyk natuurlik VERSKRIKLIK kak die volgende oggend, maar niks wat ‘n komkommer of ‘n roompie of twee nie kan regmaak nie!

EN HIER IS ‘N OORWEERSTAANBARE besigheidsgeleenthied…

Die Japanese is mense wat die allerwonderlikste dinge al kon uitdink. Hulle het nou maar net eenmaal die gewoonte om uit die vreemdste goed ‘n nuwe gier op te tower. En hulle is ‘n holistiese klomp – so hulle stel dus ook nie teleur op hierdie front nie. Hulle het soveel geloof in die gesondheidsvoordele van die hele HUIL storie, dat enigeen nou in verskeie stede in Japan ‘n “rui-katsu” klub sal vind.  Dis letterlik ‘n klub, volgens The Japan Times waar mense gaan om te huil.

Ek dink dis ‘n briljante idee – dalk iets vir die sukkelende teaters om te oorweeg – soort van nuwe lewe blaas in hulle besigheidsmodel. Vader weet, daar is genoeg dinge om oor te huil en verder hoef ons seker net ons nuusberigte oor-en-oor te speel of die prys van ‘n brood op die skerm te flits, of selfs net die krieket T-20 se hoogtepunte te wys, om die meeste mense in trane te laat uitbars! En die goeie nuus is, mense sal toustaan vir die tipe voorreg – ons kan selfs weer die inryteater bedryf laat lewe kry. #crymybeloved country

Want soos ‘n geleerde en bestudeerder van hierdie rui-katsu beweging, Yuhei Kayukawa, ‘n psigiater en professor emiratus aan Nagoya Instituut vir Tegnologies sê:  

“People cannot fix their mental health if they bottle up their sadness or refuse to admit it to themselves. Being able to cry without worrying about their public image or appearance is an important step for them to break free from the depression that they may be going through.” 

Laat ons nou maar eerlike wees met onsself – ons is regtig egtig nie goed met hierdie stresding nie en boonop het die invloed van die kakies gemaak dat ons nie sommer ons emosies in die openbaar wys nie. Hulle het ons diamant gesteel – so is dit nie maar hoogtyd dat ons, ons hoogmoed in die sak steek en die krane oopdraai nie?

Vanaand is die aand wat ek weer #BrokeBackMountain kyk. Draai daai sluise oop sussie! #crymybeloved môre is jou oë toegeswel!

Praat saam: Laat hoor van jou by vryheid@wynvlieg.com of op die Facebook blad @wynvliegoorit  

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *