#laughteristhebestmedicine

Vol 39: Lag ‘n slag!

Wanneer laas het jy sommer net lekker uit jou maag uit gelag? Een van daai wat moontlik met ‘n aardige, onvroulik gesnork gepaard gegaan het, of wat die trane oor jou wange laat rol het? #laughteristhebestmedicine

The show must come back

In die jare voor Covid het ek en my vrinne die kunskalender met ‘n valkoog dopgehou, want ‘n groothoogte punt was altyd om vir Marc Lottering by die Baxter te gaan kyk. Sodra die eerste een ‘n moontlike show op die horison bespeur het, het ons die nuus soos manna onder mekaar versprei. Want hierdie is kos vir die siel. Dis ‘n hele uitstappie, want vooraf smul ons aan ‘n samoosa of twee en as jy gelukkig is, het die dames bajjis ook te kope. Pouse, as jy al half moeg gelag is, word die koesisters ook uitgestal. Maar as jy daar uitloop, is jy hees gelag en ons herleef ons beste oomblikke oppad terug in die kar. Al ons sorge vergete, ons lewens ligter as lig! #laughteristhebestmedicine in die Kaap.

Lag ‘n slag

Daar’s nie verniet ‘n gesegde oor lag en die goeie medisyne wat dit is nie. Daar is ook wetenskaplike bewyse dat ‘n deeglike gelag jou gesondheid kan beinvloed. Tragies genoeg lees ek toe Amazing Ways Laughter Can Improve Your Health, dat ons êrens tussen kind en grootmens, die erosie van verantwoordelikheid ons lag laat steel het. Kinders lag glo tussen 300 – 400 keer op ‘n dag. En grootmense? ‘n Minimale 26 keer. 

Het jy al ooit opgemerk hoe kinders heeltemal in die HIER EN NOU lewe. Hulle emosies is GROOT en nie klein en skaam en weggesteek agter ordentlikheid nie. Hulle lag uit hulle mae terwyl hulle met die hond al in die rondte hol op die grasperk, hulle kom weer-en-weer terug dat ‘n pa hulle in die lug kan gooi of kielie. Hoe seuntjies so rondom 7 jaar oud, die grappies uitdink wat woorde soos “poep” insluit en wat die hele groepie tot ‘n bondel lag op die grond kan dryf binne sekondes. Hulle soek instinktief lag-oomblikke uit, want die liggaam weet dit is goed.


‘n Sin vir humor maak net sin

Ek het nog my hele lewe lank geglo, ‘n goeie skoot humor  is ‘n uitstekende manier om sielkundige afstand te kry tussen die hart en daai tammeletjie van ‘n saak. Dit bring so ‘n tikkie verligting en  nuwe, vars perspektief. Dis asof dit die lig inlaat, net genoeg om die traan met ‘n lag te vervang.  Vaderland, in diè land van ons het enige een ‘n goeie skoot humor nodig, want anders sou ons lankal seker ‘n gat wou grawe van hier tot in Australië, net om weg te kom! Net laas week het onse eie Nando’s my weer alte lekker laat lag met hulle skerpsinnigheid. #laughteristhebestmedicine.

Die wetenskap sê

Nou hier is ‘n paar wetenskaplike feite wat jou ou wekkertjie beter en vinniger sal laat klop! As jy ‘n ou knorpot is, het ek slegte nuus vir jou – jy is besig om jou hart en are te laat toeslaan!

Soos Chappies wil weet – het jy geweet?

  1. Stres verwurg jou basies van binne – dit druk al jou are toe en verminder die lewensbelangrike bloedvloei. Lag is ‘n uitstekende teenvoeter en bring groot verligting en laat sommer jou hele lyf so slap soos ‘n lappop sin raak. En boonop kan ‘n goeie lagsessie jou ontspanne laat vir ‘n volle 45 minute Laughter Is The Best Medicine. – beter as daai peperduur massering met al die olies, wat ieg jou soos een groot vetkol laat lyk na die tyd.
  2. Nou hier is een wat my sommer regop laat sit het – lag vergroot die voering van jou are, deur stikstofoksied vry te stel en dus inflammasie te voorkom, en keer ook  verkalking. Gooi daai gymlidmaatskap sommer vandag nog weg en lag, lag, lag! 
  3. En nog beter nuus is in die rigting van diabete oppad! Diabete het ‘n tekort aan die goeie soort cholestrol en dis bewys dat diabete wat ten minste 30 minute ‘n dag lag se liggame ten minste 26% meer van die goeie soort, oor ‘n tydperk van 12 maande, maak. Skeduleer dus ‘n lagsessie ipv ‘n doughnut sessie.
  4. Om te lag, laat die bloed goed deur jou are en liggaam vloei – kyk maar net hoe lekker tamatierooi raak ons gevrete as die grap nou regtig goed is en soms snak ons skoon na ons asems. Dis omdat ons suurstofryke bloed deur ons liggame jaag en sodoende natuurlik hou ons die enjinkamer gesond!
  5. My magtag – hierdie is ‘n wenk wat ek sommer nou ONMIDDELLIK GAAN deurstuur aan die gyminstruktrise…ipv daai simpel idee om soveel moontlike kalorieë op een van daai moordmasjiene te verbrand, kan ons glo net vir 10 – 15 minute lekker sit en lag. Dit alleenlik kan glo 40 kalorieë verbrand. Aitsa, net jammer daai 40 kalorieë laat my net een ou Sweetie Pie’tjie toe 🤪
  6. En ‘n gepaste ou grappie kan ook sommer vinnig ‘n vlambare situasie vinnig ontlont. Met die klem natuurlik op “gepaste” en dan moet die ander party darem ook ‘n effense sin van humor hê. Luister maar net na @Wackhead Simpson se poetse op radio…en hoe ieder en elk rooi onder die kraag kan raak, net om teen die einde nie net vir hulleself te lag nie, maar ook ons almal se dag beter, sommer stukke beter te maak.
  7. Verhoudings het ook mos ‘n manier om altyd te wil ronddraai daar waar die dinge nie so lekker gaan nie, waar ons nie saamstem nie, waar ons tog ingedoen voel. Ook daar kan ‘n goeie skoot humor die wa deur die drif trek. Want as ons saam met mekaar ipv van vir mekaar lag – bind dit ons soos superglue.

So hier die lag dieëtplan:

#laughteristhebestmedicine

Stap 1: Begin net met ‘n glimlag…want diè is amper soos ‘n poep(jy onthou mos die grappie, dis ‘n sein aan holstasie dat daar ‘n vrag oppad is…te veel, te vinnig dalk nè 🤣) Maar in die geval van ‘n glimlag…dis aansteeklik. Probeer hom uit vandag, smile soos ‘n mal mens vir ieder en elk en kyk net hoe dit na jou hart ook versprei.

Stap 2: Tel jou seëninge – nou ja, weliswaar nie ‘n uit-die-maag gelag nie, maar dink daaraan soos die voorbereiding vir ‘n toets…sonder die kennis is jy poer-in-jou-moer. Die blote neerskryf van dankbaarheid sit goeie afstand tussen jou en al die negatiewe dinge in jou lewe.

Stap 3: As jy ‘n gelag hoor – stap nader. Mense hou daarvan om hulle geluk uit te deel. As daar ‘n grap te deel is, sal hulle dit mildelik in jou rigting strooi, want die meeste mensen geniet ‘n gehoor! En as jy na ‘n goeie stukkie komedie soek… skink ‘n glas dubbele Oros en geniet die een…I Don’t Work On Sunday’s

Stap 4: Maak ‘n afspraak met die grapjasse in jou vriendekring – daai lot wat met ‘n onputbare bron van grappe gevul is. Die soort mens wat maklik vir homself kan lag en elke grap onder die son kan onthou. By tye het mens ‘n oorvloed van hulle nodig.

Stap 5: Pak die lewe met ‘n sin vir humor aan. Want glo my morbiede, erenstige, suurknolle gaan nie net vinniger aan hulle harte beswyk nie, maar gaan ook sommer hulleself ‘n lewe van afgesonderdheid besorg.  

En as alles faal…dan

Kyk die wêreld is ‘n vreemde, wonderlike plek. As jy nou byvoorbeeld NIKS EN NIEMAND in jou lewe kan vind wat jou so ‘n bietjie kan laat lag nie en jou eie gelukspotjie is leeggekrap…dan kan jy altyd by ‘n How Laughter Yoga Heals, Plus 6 Fun Exercises to Try groep aansluit. Nou kyk ek is ‘n semi-yogi…ek verkies myne somber en “heilig” – maar ek moet sê as ek soos ‘n windmeul rondmaal in een of ander statige balanseringsposisie..lyk ek effe soos ‘n sirkusnar sommer so all on my own! #laughteristhebestmedicine

Praat saam:. Lag ‘n slag, deel jou grappies met my by vryheid@wynvlieg.com of plak hulle op die Facebook blad by @wynvliegoorit 

3 thoughts on “Vol 39: Lag ‘n slag!”

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *