Ek kom vandag in vrede…ek kom om vir jou moed te gee en ook toestemming om met die alewige verskonings te stop….jy weet, die verskoon ek lewe tipe van houding.
Want ek doen nie goed met die suutjies poep soort van mens nie, maar vandag kom ek mos na julle in vrede. #stopmakingexcuses.
En ek wil jou aanmoedig om NOOIT, OOIT weer te voel asof jy ‘n verskoning hoef uit te dink of een aan enige iemand verskuldig is, vir die volgende holtes van jou lewe nie.
Nommer een: Jaag jou wildste, malste drome na!
Hierdie is jou lewe, jou èèn kosbare lewe en jy het geen verskonings nodig om al die wildste, grootste drome wat jy koester na te jaag nie. Ek weet alte goed, dat hoe ouer ‘n mens raak, hoe meer begin die verantwoordelikhede en werklikhede van die wêreld jou afrem. Dit doem jou tot ‘n lewe gevul met verpligte daaglikse take, jou drome word opsy geskuif vir kinders, eggenotes, werk en die naderende oudword jare.
Maar ons het almal drome gehad eens, hulle mag dalk effe verregaande gewees het, maar eens op ‘n tyd het ons van groot dinge gedroom. Ons het sterre in die oë gehad, dit het hoop en opwinding gebring…maar êrens langs pad het ons die drome begin begrawe.
Ek dink nou, soos in vandag, is presies die regte tyd om hulle na te jaag! Hoekom nie in daardie rigting studeer wat jy nog altyd wou nie, hoekom nie inskryf vir daai ballet klasse nie, hoekom nie op ‘n solo reis gaan nie, hoekom nie inskryf vir daardie marathon of ‘n kreatiewe uitlaatklep vind nie. #stopmakingexcuses
Droom groot, jaag daai drome asof jou lewe daarvan afhang, want dit doen!
Nommer twee: Om jou geestesgesondheid ‘n prioriteit te maak.
Die groot swart hond en al sy kleintjies diskrimineer nie…dit klop aan enige een se deur, ongeag jou agtergrond, jou genetika, jou kultuur, ras of jou omstandighede. Daar is natuurlik miljoene mense wat nie aan ‘n geestes gesondheid siekte ly nie en vir hulle is dit soms moeilik om begrip te hê vir mense wat in die dal van die doodskaduwee voort struikel, maar geestesgesondheid is nie net belangrik vir diegene wat ‘n siekte het nie….dis uiters belangrik vir elke liewe een van ons.
‘n Goeie geestesgesondheid waarborg vir ons almal die vermoë om:
- te kan leer,
- om ‘n string van emosies, goed of sleg, te kan ervaar, uitdruk en hanteer
- om gesonde en goeie verhoudings te hê met onsself en met ander
- en om verandering en onsekerheid te kan hanteer
As ‘n gemeenskap, veral in my generasie, het mense so goed geraak om alles weg te steek, om te “cope,” ongeag wat die lewe in jou rigting gooi.
Ons spandeer ure daaraan om onsself fisies te verbeter, gesond te hou – maar die hart en siel word baie dikwels afgeskeep.
Ek persoonlik is nie baie goed met die “gaaf” wees met myself nie, maar in 2020 het ek besluit, basta hiermee – genoeg jare was ek my eie grootste vyand. Tyd om die 6-jarige dogtertjie op te tel en haar te belowe dat ek nou na haar gaan begin kyk. #stopmakingexcuses
En daarvoor het ek mense soos Shauna Shiparo begin inspan. Ek het ‘n lewenslange verhouding gekoester met die stem in my kop wat gesê het: “Dis nooit genoeg nie, jy is nie goed genoeg nie.” En ironies genoeg kan ek baie van my sukses in die lewe hieraan toeskryf, maar ek het met ‘n sagte oog en liefde na myself begin kyk. Bewus dat dit wat ek saai in my eie lewe, sal ek maai. As ek liefde saai en nie myself kasty vir die oorsprong van alles en dinge wat in die verlede gebeur het nie, sal daar lig wees en vryheid.
Dus wees gaaf met jouself, kyk na die ses jaar oud weergawe van jouself, tel haar of hom op en maak ‘n belofte vandag nog, om met ‘n sagte hart en stem die pad vorentoe te stap.
Nommer drie: ‘n Gesonde lyf, is nie ‘n koekie drukker ding nie.
Ek kom gister op ‘n advertensie af vir die Australiese Ope. Dit wys al die vroue tennisspelers – uitgeknip soos daai karton figure en vasgeplak. En ek besef net weer, gesondheid en ‘n gesonde liggaam kom in verskillende vorms.
Soveel jare is ons die “ideale” figuur deur die media en die modewêreld gevoer. Aarde, dieet siektes was in die mode…noem dit maar die du jour van ons tienerjare. Tragies, maar waar. Daar was selfs die tragiese gespot onder die ronderiges van ons, dat ons nie genoeg wilskrag gehad het om aan een van hierdie te ly en dus nie die ideaal kon bereik nie. Laat ons nou maar eerlik wees, die modebedryf het lopende hangers nodig gehad om klere op die loopplank en glans tydskrifte te vertoon…want wie wil nou sien hoe ‘n broeksak skeeftrek om ‘n ronde heup of die knope van ‘n bloes effe ooptrek om ‘n vol boesem…Jan Publiek sou nooit ooit ‘n kledingstuk wou koop nie!
Maar toe dink ons hanger is die in ding!
Gesondheid weet ek nou is om na jou liggaam te luister en gehoor te gee aan wat jou liggaam regtig nodig het. Ek doen dus meer A Quick Guide To Intuitive Eating. Dis baie gevra in ‘n wêreld gevul met toeps om kalorieë en makro’s mee te tel en van keto en onderbroke vas roetines. Maar, dis ‘n onbeskryflike gevoel van vryheid.
Gesondheid is om vir jou liggaam oefening te gee, sodat jy kan beweeg, jy sterk kan voel, jy nog kan buk en opstaan uit ‘n lae stoel. Dis om dankbaar te wees vir hierdie wonderlike, wonderlike magtige “huis” waarin jou siel kan lewe.
Gesondheid is om te rus wanneer jou liggaam moeg is, om nie jou liggaam te vergifting met enige iets wat in “TE” voorkom – net omdat jy van jou emosies wil vlug nie.
En weet jy wat – ongeag van hoe gesond jy mag wees, jou liggaamsvorm is jou eie. As jy ‘n appel is, gaan jy ‘n appel bly. Kom ons vier ons liggame en die feit dat dit die wêreld ‘n mooi en wonderlike plek maak – want wie raak nie opgewonde oor ‘n hele boks vol Quality Streets nie – klomp verskillende soorte en smake om van te kies!
Kom ons wees Quality Streets! #stopmakingexcuses
Nommer vier: Om aan die verhouding met jouself te werk.
Jy al ooit gevoel dat jy tot die siel of op die been uitgeput is van “rassieleier” speel? Altyd die een wat positief moet wees, die een wat almal opbeur, aanjaag, aanmoedig en wat almal se angs en depressie moet probeer verlig. En dit terwyl jou eie uurglasie effe leegloop en jy skaars een voet voor ‘n ander kan sit.
Ons weet almal maar te goed, as ons eie bekertjie nie oorloop nie, kan ons nie juis ‘n ander sin vul nie. Ons moet tyd vir onsself vind, gaan sien ‘n sielkundige, staan ‘n uur af aan jouself by ‘n Yoga-klas waar jy al jou titels, van ouer-wees, eggenoot-wees, kollega-wees by die deur kan los en net JY wees op daai mat. Gaan stap in die natuur, gaan sit êrens en drink ‘n koffie op jou eie, ontmoet jou vriendin vir ‘n stappie, gaan fliek.
Maar jou kruik vol, dat jy soos die weduwee dit kan uitgiet op diegene, wat dit broodnodig het, se hoofde. #stopmakingexcuses
Nommer vyf: Om grense te stel
Ek sit so in my enigheid en wonder– is dit nie vreemd hoe mense wat goed is met mure om hulle bou, baie keer sukkel om grense te stel nie?
Ons is meesterbouers as dit kom by mure bou om ons te beskerm teen die emosionele aanslae van die lewe, maar dan laat ons willens en wetens toe dat andere ons grense oorsteek of dat ons soos Beitbrug raak en net mense laat oorstroom in ons spasies in.
Is jy een van daardie wat jou rug sal breek net om seker te maak jou huismense skiet nie tekort nie, of wat jou skedule en planne sal verander omdat jy tog nie iemand ongelukkig of vies wil sien nie? Òf wat jou oor ‘n mik sal werk en jou kind eerder sal pos êrens heen, omdat jy tog nie as die luiaard by die werk gesien wil word nie? Dan my vriend of vriendin, het jou grense baie vaag geraak en laat jy die skelms oor jou grense in en gaan jou eie selfwaarde pad af verdwyn.
Soos grense vir kinders van uiterse belang is, want dit bring sekerheid, dit bring geborgenheid en op die ou einde balans. Sò is dit ook belangrik om ons eie grense te stel, sodat mense nie al jou lig en energie steel nie, want sonder gelaaide batterye, gaan jy nooit, ooit die lig kan wees vir ander of op jou eie pad nie. En dan raak mens die pad spectacularly byster! #stopmakingexcuses
Nommer ses: Om roomys te eet.
Of enige iets wat jou vreugde bring – ek herinner my aan my pa wat by die kombuistafel sit en ‘n bak Gatti’s TinRoof roomys met die grootste genoegdoening kon eet.
My pa was nie ‘n man wat aan TE geglo het nie, maar hy het wel geglo niks is ooit TE soet nie.
Hy het sy oomblikke van soetgenot sorgvuldig gekies, spaarsamig gebruik – maar dan, dan het hy voluit daarvoor gegaan.
Die lewe is wonderlik, die lewe is breekbaar en mooi. Kom ons lewe en hou op verskonings maak en lewe met oorgawe! #stopmakingexcuses
Carpe Diem!
Praat saam by vryheid@wynvlieg.com of laat ‘n opinie op Facebook by @wynvliegoorit.com