Vol 41: Weet jy hoe Baie het jy om voor dankbaar te wees?

Hier’s ‘n paar feite wat jou dalk nou gaan laat steier:

Kennis is mag

Die blote feit dat jy toegang het tot hierdie skrywe, beteken jy is ryker en het ‘n beter geleerdheid as 99.5% van die wêreld se bevolking. Dit beteken jy het in die meeste gevalle, onmiddellike toegang tot meer as die helfte van die inligting en data wat nog ooit deur die mensdom geskep is.  Dit beteken ook jy kan deur die loop van ‘n middag genoegsame kennis oor enige onderwerp onder die son inwin. #gratefulnessiscontagious

Dis seker hoekom ek gister amper in trane uitgebars het, toe ek  ‘n voorbladfoto en onderskrif van die Cape Times raakgesien het – 400 kinders wat in ‘n oopveld moet skoolgaan, omdat daar nie plek in ons publieke skole vir hulle is nie. Nee man, ons kan mos beter doen as dit!

Wat die geskiedenis sê

Doer in 1937 was Friedrich Hegal se standpunt dat geskiedenis  ‘n doelbewuste proses of beweging na vryheid is. As jy, soos ons almal, gelukkig genoeg is om in die Westerse wêreld te lewe, kan ons seker besgee dat daar baie minder rassisme en seksisme is (en glo my vry….ons het nog ‘n lang pad om te loop, want so baie van ons, in hierdie pragtige land van ons, klou so verbete aan ons eie verlede en vrese vas, dat ons sukkel om almal ‘n plekkie in die son te gun.)  En voor COVID ons kom lamlê het, kon ons met gemak vir besigheid en plesier reis – die ekonomie is vry en oop en tot almal se beskikking. #gratefulnessiscontagious


Die ewige soeke na liefde

Jy mag dalk nie so ingenome wees met die kwaliteit van jou liefdeslewe, of voel daar is genoeg visse in die see om jou sielsgenoot in te katrol nie. Maar ‘n paar generasies gelede was ons voorvaders en moeders se enigste keuses van ‘n liefdes maat, nog beperk tot die bure se gespuis. Daar was nie sprake daarvan dat jy iemand van dieselfde geslag se hand in die publiek kon vashou , of wat nog te sê soen of mee trou nie. En in hierdie lieflike land kon jy tronk toe gaan as jy net sou waag om oor die kleurgrens heen liefde te wou vind, beter bekend as die aardige The Prohibition of Mixed Marriages Act commences.

Jy kan nie jou familie kies nie

Jou gesin mag jou dalk teen die mure uitdryf, maar ‘n opname, Child- and youth-headed households het in 2015 getoon dat daar toe reeds 90 000 kinders in Suid-Afrika was wat deur hulle broers of susters grootgemaak moes word. En ons hoef natuurlik nie te vêr te loop grawe om te sien hoeveel kinders alleen is in die wêreld nie. Volgens How Many Orphans Worldwide is daar 153 miljoen weeskinders wêreldwyd!

Kom ons kruip eerder weg!

Maar ek weet ook goed, dat ons al vuisvoos is van al hierdie statistieke en negatiwiteit. Baie maal is dit net beter om jou kop soos ‘n volstruis in die sand te steek of soos ek, net eenvoudig te weier om die koerant te koop. Ons weet ons moet dankbaar wees vir die dak oor ons kop, vir die gesondheid wat ons gegun word, vir die kos op die tafel. Maar,  in realiteit is ons lewens ook nie aldag maanskyn en rose nie en ons voel meer dae af as op! 

Die goeie nuus is, my ma was toe reg! 

😜 Sjoe, sou sy nou daai woorde graag uit my tiener mond wou hoor! Maar sy was reg, daar is altyd iets om voor dankbaar te wees. En wat in haar jare sekerlik uit ‘n geloofsoortuiging gekom het, is nou ook deur navorsing bewys. 

Dis ‘n feit: Dankbaarheid maak jou gelukkiger en gesonder –Why Gratitude Is Good

En dankbaarheid kan aangeleer word – my ma was goed geskool hierin – en dit het my al vele male gered. Navorsing het bewys dat ‘n lewe van  dankbaarheid, jou gemoedstoestand drasties verbeter en dit maak ook dat ‘n mens makliker daai opdraandes van die lewe kan uit. Om jou seëninge te tel, maak jou minder self gesentreerd, dit maak jou verantwoordelik vir jou eie geluk en sodoende gee dit jou ‘n groter selfwaarde. 

En dit maak jou net ‘n meer aangename mens – iemand wat mense werklik tyd mee wil spandeer.

  • Ja, jy mag dalk ‘n lewensmaat hê wat jou half versmoor met al hulle aandag – ipv om op jou perdjie te spring en jou eie spasie te vereis – wees dankbaar dat daar iemand is wat soveel vir jou omgee.  Stel jou grense, maar doen dit in liefde.
  • Jou ouers mag jou dalk elke liewe dag bel, op presies dieselfde tyd, om oor presies dieselfde goed te praat – wees dankbaar jy het nog ouers om mee te praat! Hê ‘n geduldige oor, want hierdie is dalk jou kans om so bietjie aan jou ongeduld te skaaf.
  • Onse minister van finansies se naderende begrotingstoespraak mag jou dalk ‘n naar kol op die maag gee – wees dankbaar dat jy weliswaar nog genoeg verdien om belasting te kan betaal. Meer as ‘n kwart van Suid-Afrikaners lewe onder die broodlyn… This is how much money the poorest are living on each month in South Africa, dit beteken hulle het R30 per dag om van te lewe.  Hierdie is dalk ‘n geleentheid om dankbaar te wees vir die bord kos wat jou wederhelf optower – al is dit nou nie vyf stêr gehalte nie!
  • Jy mag dalk ‘n paar ekstra kilogramme saamdra en die broeke span styf – dit beteken bloot jy was bevoorreg genoeg om al die lekkertes van die kospotte van Egipte te geniet. Maar wees dankbaar dat jy toegang het tot gesondheid-uit-die-grond-uit en dat jy in ‘n omgewing bly waar jy jou voete op die pad kan slaan en ‘n gesonder leefstyl kan kweek. 
  • Jy mag dalk daagliks ‘n stryd voer met jouself, voel jy doen nie goed genoeg nie, voel of jy op ‘n mallemeule rondtol – heeltemal buite beheer. Wees dankbaar jy is sensitief, jy is bewus en dat jy nog die wil het om beter te doen, vorentoe te gaan. Jy het ‘n gawe en ‘n talent – en jou lewe sal altyd nader aan vryheid beweeg.
  • Jy mag dalk voel dat jy uit mis op al die pret in die lewe, omdat jy ‘n glas wyn moes vaarwel roep. En wonder hoekom jy nie soos ‘n normale mens net ‘n glas of twee kan geniet nie. Maar wees dankbaar dat jy teenwoordig is vir elke liewe oomblik van jou lewe, dat jy nie willens en wetens gif in jou liggaam pomp nie en dat jy nooit, ooit weer met ‘n babalaas hoef wakker te word nie.

Slegte nuus versus goeie nuus

Goed, so ons weet ons het baie om voor dankbaar te wees. Die geneuk is, sielkundiges het bevind dat verlies twee tot vier keer meer pynvol is vir mense, as die geluk wat dit bring om iets te kry of bereik. Ag nee regtig – wat nou nog!?

Dis hoekom die koerante oorloop van slegte nuus – want slegte nuus(en skandaal) verkoop! 

Dis ook hoekom dit baie makliker is om te skinder en te kla, as om empatie te betoon.

Oefen daai spiere!

Nou dat jy al die feite het, nou dat jy bewus is van jou brein se voorliefde vir negatiwiteit – waak daarteen, oefen jou dankbaarheid spiere en onthou, dis die aanhou en herhaling wat die verskil maak. Dis die 10 000 ure wat jy daaraan gaan wei, wat jou ‘n gelukkiger mens gaan maak en boonop ander na jou aantrek soos ‘n brommer na ‘n drol(maar moenie ‘n drol wees nie, wees ‘n blom…’n oudtydse tuin roos as jy kan!) #gratefulnessiscontagious

Laat my hoor waaroor jy dankbaar is by vryheid@wynvlieg.com of sit dit op Facebook by @wynvliegoorit.com 

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *