Vol 42: Ek bedank as Cheerleader!

Vir ‘n paar weke broei hierdie ding al by my, hierdie opstandige, gatvolgeit…en dalk ook ‘n tikkie selfbejammering. Maar omdat ek meer van ‘n kampvegter is vir vorentoe beur – verkies ek die opstandige aanslag. #beyourowncheerleader

OORIT, heeltemal oorit

Ek is GATVAL van die cheerleader wees in mense se lewens. Van altyd die positiewe sien, van ander teen die spreekwoordelike heuwel opstoot, die silwer randjie probeer inkleur vir hulle of die planne beraam. Alles in die naam van ‘n gelukkiger mensdom.  Want skynbaar is dit my doel op aarde.

En sover ek kan onthou het niemand my tot hierdie rol verkies nie. Dit is ‘n self verkose rol – seker maar omdat ek nooit op hoërskool enige kans gestaan het om een van die rondhoppende, skreeuende meisies met die kort rokkies op die paviljoen te wees nie. In elk geval ‘n klug gewees, want meer male was hulle net diè wat iemand in die eerste span gedate het…maar nou klink ek net soos ‘n ou, bitter, middeljarige vrou…so laat dit gaan, laat dit gaan.  #beyourowncheerleader


‘n Belofte

So, van vandag af, belowe ek plegtig aan almal hier teenwoordig, dat ek gaan terug klim in my boksie en ophou om ‘n rassieleier te wees. #beyourowncheerleader ek tree af

  • Ek gaan ophou om altyd mense se negatiewe uitkyk op alles in die lewe, namens hulle,  in ‘n positief ene te probeer omskep. Geen meer selfhelpboeke, blogs of skrywes gaan aan hulle gestuur word nie. As hulle wil op vrot, so be it!
  • Ek gaan nou my eie tough love begin toepas. As mense nie gehelp WIL WORD NIE, dan is dit nie my werk om al my energie en tyd te spandeer om hulle voort te sleep nie. As dit belangrik genoeg is vir jou, liewe mens, dan sal jy iets daaromtrent doen.
  • En hierdie gemoeitedoenery met mense wat bloot omdraai en kla omdat daar net dalkies ‘n bietjie moeite van hulle kant ook gevra word. Ag nee wat, as jy nie die waarde kan sien van ‘n bietjie opoffering nie, dan hou ek ook maar verby. 
  • Dies wat kla met die witbrood onder die arm en vir wie ek ‘n ander perspektief probeer bied, bloot om te uit te wys diegene se lewe is rede tot dankbaarheid. Net om in ‘n stortvloed van aanklagte vasgevang te word omdat dese aangeval of ingedoen voel. Ek sal my opinie vir myself hou, lewe lekker daar op jou eiland, op die mishoop.

Die penarie is dus, hoe nou gemaak

Maar, julle weet ook teen die tyd, ek is ‘n vrou van selfondersoek. Ek laat nie sommer ‘n klip onaangeraak nie en probeer altyd kyk hoe ek in ‘n spesifieke penarie beland het. #beyourowncheerleader

Die huidige een het vermoedelik êrens in my geboortereg sy oorsprong.  Ek is seker ek het êrens in die vroeë 70’s ‘n vinnige re-inkarnasie beleef, reg uit die laat 60’s – die dat ek vandag nog oorblyfsels van die hippies se lewensuitkyk het. Diesulkes wat geglo het: “Just make everyone feel good about themselves, man!” En daarvoor blameer ek my ma, nie dat sy ooit ‘n hippie was nie, maar sy het ‘n groot geloof gehad in die mag van ‘n goeie selfbeeld. Daar is derduisende selfhelpboeke oor die onderwerp sederdien geskryf, want almal het geglo – en ons generasie glo nog vas hieraan – dat ‘n goeie selfbeeld die weg na sukses en ewige geluk is.

Meeste van hierdie boeke bevestig die volgende teorie: 

1. ‘n Goeie selfbeeld is gebasseer op die goed wat ons kan beheer. M.a.w, ons kan dalk nie beheer waar ons in die ry gestaan het toe IK uitgedeel is nie, maar ons het wel beheer oor ons werksetiek. So i.p.v jouself wysmaak hoe useless jy is, kan jy trots wees op dit wat jy vermag en voel soos ‘n wenner van jou eie lewe. En as jy met ouers soos myne grootgeword het, weet jy die lewe skuld jou niks en harde werk is eerbaar en die geld sal volg.

2. En dies met die kak selfbeelde – wel hulle is die lot wat alles buite hulleself, m.a.w die goed wat hulle NIE KAN beheer nie, mag oor hulle eiewaarde gee. Hulle gebruik die maatstaf wat die wêreld daarstel om hulleself te meet, en sodra daar die geringste negatiewe opmerkinktjie van iemand kom, is hulle in sak en as en raak ‘n regte ou papbroek.

BOGENOEMDE is die siening wat my generasie van baba dag, saam met die pap skorsie en suikermielies ingegee is. En dis hoe ons neerhalend  kyk na die sogenaamde Mellennial Klomp luigat kinders wat net behep is met hulleself. En erger nog, sommige van ons het hulle help grootmaak!

Dalk is daar ‘n ander invalshoek generaal

MAAR,  ek dink my invalshoek begin nou verander – nooit te oud om te leer nie! Christopher Reeves, Superman van ouds, wie se lewe onherroeplik verander het op 42 jarige ouderdom – Christopher Reeves , het eens gesê: “ I know able-bodied people that are more paralyzed than I am,” en bygevoeg:  “I can laugh. I can love. I am a very lucky guy.”

So nou begin ek glo dat ‘n goeie selfbeeld dus basseer is op die wet van aantrekkingskrag of in ‘n ander gedaante voorkom as vooroordeel.

Eersgenoemde is basies die geloof dat dit waaraan jy tyd in jou kop afstaan – hetsy positief of negatief, waar sal word. En laasgenoemde is die besef dat mens vooroordeel aan die dag lê wanneer dit by diè dinge in die lewe kom, wat jou waardes steun.  So, as jy negatief oor alles in die lewe is en almal en alles blameer vir jou ongelukkige of treurige lewe, dan meet jy jou waarde aan ander se opinie en gaan jy maar met die eb en vloei moet saamleef. 

Die einde is in sig

So hier is my swanesang as ‘n rassieleier – hees geskree!

  • As jy jou tyd en energie gaan verwyl met die positiewe en opbouende dinge in die lewe en weet dat jou waardes van jou ‘n gelukkiger mens maak – dan my vriend en vriendin is jy dalk net ‘n gesonde selfbeeld gewaarborg en moontlik ‘n goeie lewe.
  • Al ooit besef, mense met baie selfvertroue word nie in die oggend wakker en wonder of hulle vandag selfvertroue gaan hê nie, net so wonder die skraleriges onder nie ons of hulle vandag skraal gaan wees al dan nie. En so word inherente gelukkige mense ook nie wakker in die oggend en wonder of hulle vandag gaan gelukkig wees of nie – hulle is net gelukkig. 
  • Ek glo vas, as ons al ons misstappe, al die ongelukkige tye in ons lewens, al die asemrowende mislukkings kan waardeer, ons koppe kan oplig en voortgaan, dan is ons dalk oppad na geluk. 
  • Sal dit nie wonderlik wees as jy stokoud, op jou sterfbed eendag kan lê met ‘n “moet-doen-lysie” so lank soos jou arm nie? Nie omdat jy niks in jou lewe vermag het nie, maar omdat jy die oneindige moontlikhede in die lewe kan raaksien.
  • Stel ongelooflike hoë standaarde aan jouself, want jy verdien om soos ‘n arend te sweef. En waardeer die kere wat jy jou moer toe val! 
  • Leer, lewe en laat die lig in – en sing uit volle bors saam met Leonard: “Everything has a crack, that is how the light gets in”

Nou moet ek net myself inhou en nie weer op die verhogie spring nie! #beyourowncheerleader

Laat nou ‘n slag van jou hoor by vryheid@wynvlieg.com of op Facebook by @wynvliegoorit.com 

2 thoughts on “Vol 42: Ek bedank as Cheerleader!”

  1. Mens kon sweer ons is familie geskryf asof dit ekke is. My energie is op word daagliks gemors op useless mense by name my eie huismense

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *