Vol 43: 2020, deel I

Ek dink gereeld terug aan die begin van die grendel tyd. Toe ons besef het die vreemde ietermagog wat in China ‘n vernietigende virus laat uitbreek het, is nou ‘n werklikheid hier in ons midde. Ek onthou sò goed die uitdrukking wat ons almal met ‘n tikkie vrees, ‘n effe benoudheid en ook in sommige gevalle met weersin moes aanhoor #newnormal

“Die nuwe normaal”

Ek herinner my ‘n benoude 19-jarige, wat gevra het: “Wat beteken dit nou eintlik ma? Gaan ons nooit weer kan reis en ons vriende sien nie?”  As ons eerlik met onsself was, het niemand geweet wat hierdie “nuwe normaal” nou eintlik sou wees nie. Maar nou ‘n jaar later, is die nuwe normaal, wel die nuwe normaal. #newnormal

#newnormal

Vreemde gedragspatrone

Die onverwagse grendel tyd het vir vele gevoel asof die mat onder hulle uitgeruk is. Dit was soos om ‘n gevangene in jou eie huis te wees. ‘n Gevangene met heeltemal te veel tyd om brood te bak EN te eet. Die eentonigheid het aan mense begin knaag, vreemde rituele het ontstaan, surrealistiese uitstappies na die winkel het soos ‘n gevaarlike missie gevoel. In my eie huis het ons ‘n verjaarsdag koek vir ‘n kleinkind gebak, self moes ons die kersies doodblaas en die stroopsoet koek boonop afforseer! #newnormal is not so sweet


Ek kan nie meer nie korporaal!

Ewe skielik het ons vragte tyd op hande gehad. Ons was nie meer so BESIG en so “beskud” teen mekaar se rou emosies nie. Ons is gekonfronteer met alles waarvan ons, met mening en so suksesvol, vir jare al weggehol het. En die een wat ons vlugtig, skalks elke oggend in die spieël gesien het, diè moes ons nou noodgedwonge in die oë kyk.

Dalk hardloop jy nogsteeds suksesvol van al jou demone weg, van alles wat al lank krapperig is in jou verhoudings of sommer net die klein jakkalsies wat die koring van jou voldoening opvreet. 

2020 – die jaar van wonderwerke

Maar 2020 het my tot stilstand geruk en ook binne die vier mure van my siel en liggaam ingedwing. Dit het kom sê, hokaai auntie, hokaai…dis nou of nooit!

My eie persoonlike Camino de Santiago het begin. Hierdie keer kon ek egter mos nie op ‘n vlug Spanje toe klim nie. Ek moes my lewens pelgrimstog in die agterplaas van my hart begin. Sy weg kronkel teen al die steiltes(vrese) op, deur die troebel(verlede) waters, met reëndruppels(trane) wat vrylik vloei. Sodat ek elke aand moeg maar tevrede op my kussing kon neersak in die wete dat ek ligter en vryer begin voel.

Ek het begin besef dat ek alleenlik die katedraal van my lewe kan bereik, as ek elke dag ‘n voetjie in die regte rigting bly sit. Bly stap, bly ondersoek instel, moedig wees en met oortuiging na voldoening en vryheid soek.

Die geel pyltjie wat die pelgrims op die Camino de Santiago op koers hou, was vir my die begeerte tot The Magic Of Loving Yourself First.

#newnormal

Doer in die verre verlede, gedurende 2006, het Yahoo (genade mense, toe Yahoo nog die in ding was!) ‘n Yahoo Time Capsule projek geloods. Die idee was dat deelnemers iets van die “digitale” era van 2006 sou vasvang, alles sou gestoor word en in die ruimte “ingeskiet” word. Die kapsule was veronderstel om op 2 Maart 2020 weer oopgemaak te word, maar heel laas wil dit voorkom of selfs die mense by Yahoo belangstelling verloor het.

#newnormal

‘n Brief aan iemand op die grens

So ek het so bietjie van die Yahoo idee gesteel en êrens op die tog besluit om vir my “toekomstige self” ‘n brief te skryf. Amper soos die briewe wat ons destyds vir die melkbaard manne op die grens geskryf het. Een vol hoop en met dinge om na uit te sien. 

Maar hierdie brief was veel meer – dit was ook ‘n brief aan myself om my op die skouer te klop vir al die moed wat ek al aan die dag gelê het, om my te herinner om uit my hart te lewe. Vreesloos, kwesbaar – maar die belangrikste altyd soekend na die ware EK.

Hier gaat hy!

Beste toekomstige #wynvlieg

Ek gee nie om waarmee jy op hierdie oomblik besig is nie, STOP, gaan buitentoe. Gaan luister na die geritsel van die blare in die wind of na die naggeluide. Gaan sê vir jou man jy is lief vir hom(want jy is van die gelukkiges om ‘n liefdevolle een te hê.) Vat ‘n Coke vir jou kind, vergeet van die vel en die tande – jou kind is jou kind.

Vanjaar was rof, hel jou lewe was soms rof. Maar jy is van staal gemaak en jy hou van bo-uit kom, come hell or high water. Maar vanjaar het jou ook gedwing om na jouself te kyk, jou kwesbaarheid te omarm. Jy het geleer wat selfliefde regtig beteken, dat al die etikette wat jy vir soveel jare in jou siel vasgeplak en rondgedra het – pure snert was. Jy het vryheid begin proe, jy het rustigheid in jou gemoed gevind, jy het jouself gevind.

Jy het besef dat daai klein dogtertjie drome eintlik die drome was wat jy moes najaag. Jy weet nou dat as jy vir jouself opstaan, jy nie ander mense hoef uit te stof nie. Die lewe is nie ‘n wedloop nie.

Jy het besef dat jou beste vriend #wynvlieg toe nie altyd jou beste vriend was nie. Dat jy hom nie nodig het om geliefd of sexy te voel nie. Dat jy hom nie nodig het om die verveelde ure mee te vul nie. Dat jy hom nie nodig het om jou baklei vir jou te baklei nie. Jy het geleer hy was nie so romanties soos hy voorgedoen het om te wees nie, hy het net jou angstig gemaak, jou lewe kom steel. Hy was ‘n handige kruk, maar as jou hart nie meer gebreek is nie, het jy nie ‘n kruk nodig nie. 

Het jy geweet jy het nog ‘n tattoo gekry? Jy het die pelgrimstog van moedigheid en selfondersoek verewig en sou ander uitnooi om deel van die susterskap te word. Jy het ‘n blog begin en mense lees dit wragtag! Jy het begin wonder oor daai perd wat jy nog altyd so graag wou besit. 

‘n Paar goed om te onthou:

  • Jy was toe nooit vet nie, jou liggaam is uniek en perfek. Jy het nêrens gefaal nie. 
  • Jy het geleer hoe om die mense naaste aan jou te eer en te respekteer. 
  • Jy hoef nie almal te red of te leer nie. Daar is geen punt om jou “saad van kennis en goeie bedoelings” te saai op onvrugbare grond nie. 
  • Jy het nie enige kruk in jou lewe nodig om hierdie lewe voluit te lewe nie. Jy is nie gebreek nie.  
  • Moet hoef nooit te settle nie. Dis bloot onnodig. 

En onthou, dat hierdie huidige weergawe van jouself lief is vir jou. Nes jy is….en dit gaan nooit verander nie. #hierdie is jou new normal

Liefde #wynvliegoorit

Nou is dit jou beurt liewe mens

Hoekom sit jy nie vandag pen op papier en skryf ‘n brief aan jou toekomstige self nie? Stel jou voor ‘n lewe waarop jy sal terugkyk, 10 jaar van nou en welgeluksalig oor sal sug. Dalk, net dalk word jou drome bewaarheid. #new normal begin hier en nou

MOET NIE UITMIS NIE!!!

Lees Woensdag se skrywe en sien hoe jy deel kan word van hierdie “susterskap” wat moedigheid en die soeke na self vier.

As jy jou brief aan my wil stuur by vryheid@wynvlieg.com sal ek hom hier publiseer – ons kan dit anoniem doen of as jy een van die dapperes is, publiseer ons dit met jou naam daarby! 

Soos altyd, gaan na @wynvliegoorit en deel die liefde met ander asseblief!

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *