Party is op die stormwaters, ander se gate is al goed toegestop en sommiges lyk weer soos ‘n nuwe sikspens of het al reg rondom die wêreld gevaar. #loveboat
Vermoedelik ook die een onderwerp wat die mens die meeste fassineer – kyk maar hoeveel selfhelp boeke, kursusse, flieks en stories hieraan gewy word. Hoeveel skatryk egskeidings prokureurs daarbuite rondloop en beraders wat hulle brood verdien uit hierdie einste soeke na liefdes geluk.
Verhoudings – romantiese verhoudings, intieme verhoudings en daai “tot die dood ons skei” belofte.
Die vraag is dus?
So ‘n week gelede het ek besluit om na julle uit te reik en julle menings oor die onderwerp in te win. Die vraag: “Wat is die bestanddele van ‘n gelukkige, langtermyn verhouding?”
Daar was ware juwele, en natuurlik die een ding wat soos ‘n paal bo water gestaan het, ook baie herhaling. En hierdie uit verskillende oorde, van wat ek maar net kan raai, verskillende agtergronde en verskillende ervarings op die gebied van liefde en verhoudings is.
So kom ons kyk wat het almal te sê gehad oor die onderwerp!
HOOFSTUK EEN – vervolgverhaal uit die pen van #wynvlieg en haar volgelinge.
Die top 12 goue reëls vir ‘n goeie verhouding (Dankie aan almal wat deelgeneem het!)
Goue reël nommer een: Wees by mekaar vir die regte redes
Dit begin met ‘n diepe bewondering vir mekaar. ‘n Bewondering vir elke liewe greintjie van die persoon, vir daardie dinge wat hulle uniek en spesiaal maak. Wat hulle soms net gewoonweg vreemd maak, maar tog so aanloklik. En nie vir dit wat hulle vir jou kan GEE of jy dink hulle behoort te wees nie.
Jy trou nie met iemand omdat dit die “regte ding” is om te doen nie. So baie van ons het al hier ‘n stel afgetrap. Haas ons na die kansel met die goeie seun of dogter, wat uit ‘n goeie huis kom, wat ‘n goeie geleerdheid het en wie se mense tog van die regte kant van die spoorlyn af kom. Net om ‘n paar jaar later uit te vind, goeie was toe nie goed genoeg nie.

Jy verbind jouself ook nie langtermyn omdat jy bang is vir alleenwees of ‘n tweede inkomste soek nie. Dan vra jy sommer net vir moeilikheid. Want weet jy hoe alleen kan ‘n mens tussen ‘n hele skare mense voel of in ‘n huis op skuldbult?
Jy hol ook nie holderste bolder in ‘n ding in, omdat jy hopeloos verlief is nie – want verliefdgeit waai so vinnig oor soos ‘n reënbui in die karoo. In die Middeleeue was dit nie verniet Lovesickness genoem nie. Kinders is sommer vinnig aan iemand belowe voor hulle dol verlief op ‘n minder gepaste maat kon geraak het en ook die kluts sodoende heeltemal kwyt.
Ouers het van beter geweet.
Goue reël nommer twee: Koester realistiese verwagtinge
Dis ‘n feit soos ‘n koei – niemand op Gods aarde gaan vir ewig met sterre in hulle oë en vlinders op die maag rondloop vir die volgende 40 of 50 jaar nie. Dis net onrealisties “and so say all of us” Mark Manson

Regte, egte liefde blyk dit is ‘n konstante stroom van bystand, deur dik en dun en ‘n verstaan wat alle verstand te bowe gaan. Dis ‘n uitputtende storie en glad nie glansryk nie. #loveboat was ‘n TV series, not real life.
Goue reël nommer drie: R.E.S.P.E.K
Vele bydraes uit die gehoor het kommunikasie as ‘n goue draad tot verhoudings geluk beskryf. Maar dit wil my voorkom of 25 Ways You Can Show Respect to Your Partner so ‘n kort kop voor is.
Want sonder respek is kommunikasie net ‘n klomp woorde wat saamgeflans is en by ‘n mond uit kom. Regte, egte kommunikasie is wanneer jy op jou gemak voel om enige iets onder die son met jou maat te deel – sonder skroom, sonder vrees.
“Eerlikheid en respek teenoor mekaar. Moenie kwaad gaan slaap nie, die lewe is te kort en kosbaar!!” @cathyfullard
Dis wanneer jy soos Brenè Brown in haar onderhoud Brené Brown — Striving versus Self-Acceptance, Saving Marriages, and More | The Tim Ferriss Show noem, die een die ander 100% ondersteun. Maar dit beteken nie almal gee elke dag 100% nie, soms kan die een net 20% vir daardie dag of daar onderwerp bydra – dan moet die ander een intree en die 100% volmaak. (Dankie @ marykecolyn, ons wenner van die koopbewys – jou ma het jou goed geleer!)
“My ma het altyd gesê ‘n huwelik is 100%. Sommige dae is dit 50-50, ander dae 20-80… en ander 100-0. Maar hy moet op 100% bly, anders kom die drama.” @ marykecolyn
En jy kan slegs hierdie tipe respek hê, as jy:
- die ander persoon waardevol ag
- onwrikbaar glo in mekaar – soms selfs meer in die ander persoon as in jouself
- jy vertrou dat jou maat, in daardie oomblik alles na die tafel bring wat hulle kan
Anders gaan jy altyd agter die deur staan en die ander persoon se bedoelings met agterdog bekyk.
En natuurlik is hierdie alles doelloos, as jy nie This Is Why Self-Respect Is Crucial For Happiness het nie. Jy het nie nodig om jouself heeltemal te verloor in ‘n verhouding nie, jy is nie ‘n deurmatjie nie, jy hoef nie soos ‘n skoothondjie agter iemand aan te hol nie. Jy is jy en dit is ook genoeg. #loveboat roei ons saam.
Goue reël nommer vier: Praat openlik en oor absoluut alles
Veral die goed wat jy wil terughou, in jou binnekamer bêre of wat jy bang is dalk ‘n duik in hierdie verhouding kan maak.
Waag dit, want openlikheid is goeie boustene vir vertroue en vertroue is weer die fondasie vir intimiteit. Want as jy oor die goed wat jou pla kan praat, gaan jy hoogswaarskynlik jou bokshandskoene moet bêre en jou weerloosheid soos wasgoed uithang, dat almal dit kan sien. En kwesbaarheid soos Brené Brown: The Biggest Myth About Vulnerability | Inc. Magazine sê is een van ons grootste vrese.
“Kommunikasie tussen my en my eggenoot is belangrik. Maar na 24 jaar is dit ook uiters belangrik om te weet wanneer om eerder net stil te bly. Maak opregte tyd vir mekaar. @samholmes”
Meeste mens dink vertroue het te doen met getrouheid. Almal vrees daardie dwalend oog. Maar vertroue is soveel meer. Vertrouw is wanneer jy voel jy kan met ‘n oop gemoed dit wat jou hart laat inkrimp, voor jou maat se voete kom neerlê, sonder dat hy of sy dit vertrap. Dis om te kan sê jy HAAT DIT OM TE KAMP, sodat jy nie die ablusie blokke in die nag hoef te besoek en die ander een verwens nie.
Vertroue is wanneer jy veiliger voel by iemand anders as by jouself.

Goue reël nommer vyf: Een gesonde verhouding verg twee gesonde individue
Die slagspreuk hier is natuurlik die “individue” gedeelte! As jy graag ‘n kloon van jouself wil skep – gaan kyk in die spieël. My suster sê altyd – dis hoekom ons ID nommers verskil. Ons is anders geskape en so gelaat staan.
“Moenie jouself in n verhouding verloor nie. Onthou elkeen van ons is uniek en n slegte huwelik kan jou in ‘n ander mens verander.” @elsabèheydenrych
Dit gee ons wel nie die reg om soos ‘n dom astrante donner net te glo ons is die alfa en omega nie. Maar as jy glo die perfekte weergawe is nog daarbuite, wat jou Does Unconditional Love Create Healthy Relationships gaan gee. Kry ‘n hond!
Lees mooi, dit beteken twee individue, met hulle eie belangstellings en identiteite, wat dinge op hulle eie doen, in hulle eie tyd.
Want as die een die ander soos ‘n skaap in ‘n rigting probeer indwing of dalk speel jy die martelaar wat alles vir ‘n verhouding sal opoffer. Wel, iets gaan meegee en beide van julle gaan meegesleur raak deur ‘n woedende rivier van verwyt. #loveboat oppie rivier

Goue reël nommer ses: Gee mekaar genoeg ruimte
Seker die grootste geskenk wat ‘n mense enige verhouding, hetsy platonies of romanties kan gee, is ruimte. #loveboat het spasie, dis ‘n passasiers skip
“Spasie!” @anne-marieperoldvanniekerk
Nou ek kan hiervan getuig – absence does make the heart grow fonder. Maar dan kan daar nie verwyte rondgeslinger word en die een die ander blameer dat hulle nie genoegsaam lief gehê word nie. Maar dis donners moeilik, want meermale wil ons ons brood aan albei kante gebotter hê. Met verkieslik die smeer daarop waarvan ons hou.
Daar is Four styles of adult attachment hoe ons verhoudings aanknoop en hanteer. As jy seker is van en gemaklik is met jouself, sal jy seker en gemaklik wees in jou verhouding en met jou maat; as jou styl een van vermyding is sal jy onafhanklikheid hoog op prys stel en nie veel staatmaak op ander se gerusstelling en teenwoordigheid nie. Of as jy angstig is in jou verhoudings, sal jy gerusstelling soek en as jy onopgeloste trauma uit jou kinderdae saamdra, sal jy waarskynlik bietjie van ‘n narsis wees.
Soveel dae, soveel dinge
Ons het almal ons dinge, maar ons kan almal so ‘n bietjie daaraan werk as ons net bewus is van ons swak plekke en genoegsaam aandag gee aan ons maat.
VERVOLGVERHAAL…hierdie is duidelik ‘n gewigtige saak, aldus sal hoofstuk 2 volgende week volg. #loveboat is setting its sail
Mag julle hierdie week voluit gaan vir die liefde, met al sy vratte en hobbels. Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of laat ‘n boodskap op Faceboek by @wynvliegoorit. #loveboat
Pingback: #happybirthday | Veels Geluk Liewe Maatjie | Wynvlieg
Pingback: #loveisallaroundus | Vol 47: Verhoudings Bootjie – Hoe Vaar Joune?