As julle soos getroue volgelinge, Vol 45 gelees het, was daar seker heelwat stof tot nadenke.
Kyk ek moes myself darem ook goed in die oë kyk en sê: “Ja Meraai oftewel #wynvliegoorit, so val die helde en heldinne. Niemand is perfek nie, jy is al op die tweede probeerslag en nogsteeds trap jy keer op keer in die slaggate!” #loveisallaroundus
Maar dis die einde nog niet! Hier gaat ons weer, met die tweede aflewering van ons Top 12 Goue reëls vir ‘n goeie verhouding.
Die vraag bly dus: “Wat is die bestanddele van ‘n gelukkige, langtermyn verhouding?”
HOOFSTUK TWEE – vervolgverhaal uit die pen van #wynvlieg en haar volgelinge.
Die top 12 goue reëls vir ‘n goeie verhouding (Dankie weereens aan almal wat deelgeneem het!)
Voorheen, in die eerste aflewering van die Goue Reëls reeks(vir die wat te lui is om self te lees!😄)
- Wees bymekaar vir die regte redes en nie omdat dit die “regte ding is om te doen nie.”
- Koester realistiese verwagtinge. Hierdie is nie ‘n Disney sprokie nie.
- Respek is meer as net goeie kommunikasie.
- Praat openlik, sonder skroom.
- ‘n Gesonde verhouding, vereis twee gesonde individue.
- Gun mekaar ruimte en spasie.
Goue reël nommer sewe: Groei is onvermydelik
As jy soos ek al die 50’s nader, deur verskeie verhoudings was en jouself ook al in huwelik nommer twee bevind, met boonop twee individue wat hulle in verskillende lewens fases bevind …dan weet jy. Mense groei en dikwels soos rankrose in verskillende rigtings!
Volgens my cougar crush, Mark Manson is daar four stage of life. Die eerste een is natuurlik die stadium waar ons leer om net te funksioneer in hierdie wêreld van ons. Die tweede fase is een van ontdekking – die soeke na die ware self en waar mens nou eintlik inpas en wat jou doel is. Hel, voel vir my hierdie fase duur vir ‘n ewigheid – maar glo behoort mens daardeur te ploeg teen jou middel 30’s. As jy langer daar rond draai, lei jy aan die Puer aeternus.

Fase 3 is glo waar jy jou verbind tot die lewe wat jy wil hê, jy behou die goeie en werp die res op die water. Nou is jy op koers! (Ek dink dis waar ek nou is – duidelik ‘n late bloomer, but rather late than never!)
Fase 4 is waar jy besef jy het regtig nie meer nodig om enige doelwitte na te jaag nie, jy hoef nie meer ‘n nalatenskap te “skep nie,” al wat jy nou moet doen is om so te lewe dat mense darem nog oor jou praat na jou dood. (Klink effe morbied – maar dit klink vir my na ‘n opwindende, rustige plek daai!)
Maar wag, nou skop die aandag afleibaarheid hier in. Die punt is – ek en my geliefde man is nou is twee verskillende fases. Ek vermoedelik in fase 3 en hy dalk oppad fase 4 toe, of het al gearriveer. Hy het rustigheid, hy weet wat hy wil hê, jaag niks meer nie – hy wil net sielsgelukkig wees en doen wat hy wil. En ek gun hom dit, maar nou is ek nog hier in 3 en ons moet aanpas, mekaar die groei toelaat – en soms is dit ‘n stryd tot die lewe en dood. Maar ons is verbind aan mekaar en kap ‘n paadjie oop!
Goue reël nommer ag: Weet hoe om te baklei
Die is nou ‘n onderwerp waaroor ek kan skryf. Kyk ek is ‘n bakleier, nie ‘n “vlugteling” nie. En vreemd genoeg soek ek ‘n verhoudings maat wat saam met my in die boks kryt kan klim. Maar dis nie hoe lief jy is vir baklei, of hoe goed jy dink jy daarin is nie. Dit word nie gemeet aan wie die wenner of verloorder is nie. Tog, is die verhoudings kenner, Why Marriages Succeed Or Fail: And How You Can Make Yours Last John M. Gottman van mening, dat paartjies wat weet hoe om te baklei, ‘n groter kans het om vir altyd gelukkig saam te leef.
Maar daar lê die ding, ja daar lê die ding! Dis in die HOE!
Daar is die “hoe om nie te baklei nie” – tensy jy natuurlik graag in die skeihof wil opeindig. Gotham noem dit die “the four horsemen” wat enige verhouding sal laat sink.
Nommer een – wees ‘n doos en kritiseer jou maat. Gebruik frases soos: “Jy is so stupid” of “Jy kan sulke stupid goed kwytraak.”
Nommer twee – verplaas die blaam. Daarvoor moet jy die ander persoon suksesvol blameer vir iets wat jy eintlik verkeerd gedoen het: ”Ek sou nie laat gewees het, as jy ook jou deel in hierdie huishouding kan doen nie.”
Nommer drie – wees sommer net minagtend teenoor jou maat. Maak seker jy beledig hulle genoeg: ”Ag jy weet nie waarvan jy praat nie, hoekom bly jy nie eerder net stil nie?”
Nommer vier – stilstuipe, oftewel: “Hou net op, ek wil nie nou verder hieroor praat nie.” En dan trek die lippe so styf soos ‘n goed opgepompte tjoep.
As jy bogenoemde vier gereeld toepas, maak jy van jou maat ‘n slaansak of ‘n vloermat om op te trap. En as jy gelukkig is, is hulle te bang of verlore om jou te los.
MAAR, lyk my daar is ‘n paar wyses onder die #wynvliegoorit lesers. Want julle weet duidelik hoe om daai jakkalsies aan te spreek. #love is all around us
“Huwelik is soos om n huis te bou. Elke dag moet jy n baksteen optel en vas sement. Die fondasie is daar maar jy moet elke dag werk aan daardie fondasie om die mure op te kry en net so met jou huwelik. Elke dag is nog n dag vir verbetering liefde en omgee “@drienmarais
“Commitment en uithouvermoë. Maak nie saak hoe lank dinge dalk nie so great tussen julle gaan nie, die wete dat julle albei committed is aan die verhouding en nie gaan opgee nie.” @vanessaroux
En my absolute gunsteling uit die pen van @louiseschultz
“Bek hou werk mooi en streel, ego streel gaan vêr.”
Goue reël nommer nege: Vergewe en vergeet
Die gedeelte van Gotham se navorsing wat my sommer vreeslik opgewonde maak is die bevinding dat, in die meeste gelukkige verhoudings het paartjies probleme wat NOOIT WEGGAAN NIE. Want as ‘n mens die ander in ‘n afdruk probeer inprop, tree minagting in wat sommer blitsvinnig in ‘n wrok kan ontaard.
Die geheime bestanddeel is natuurlik om nie die ander persoon te probeer verander nie, maar om hulle verskille te vier. Daarby aan te pas en ‘n duisend x duisend keer te vergewe. Omdat jy die ander persoon respekteer en hulle juis gekies het vir hulle andersheid.

So moenie ou koeie uit die sloot grawe net omdat jy ‘n argument wil staaf nie – want eintlik wil jy reg wees en nie noodwendig iets heelmaak nie.
Wees uiters kieskeurig as dit kom by ‘n argument – my eerste vraag aan myself is nou: “Gaan hierdie ‘n verskil maak oor ‘n jaar van nou?” En meeste van die tyd is die antwoord ‘n goeie, duidelike NEE!
#loveisallaroundus
Goue reël nommer tien: Dis die klein jakkalsies wat die koring opvreet
Weet ons nie almal dat die klein klippie in die skoen die een is wat die meeste wrywing veroorsaak nie? As jy weet daar is klein goedjies wat jou maat mateloos irriteer – doen moeite, verander dit. As jou mik nie meer so lekker is wanneer jy water afslaan nie – aarde, vee dit op. As jy weet dit dryf jou maat teen die mure uit as jy oopmond kou, maak toe jou mond. Dis die klein jakkalsies!
En natuurlik is die teenoorgestelde besonders waar. Maak moeite om te sê “ek is lief vir jou.” Of om mooi met jou maat te praat. Om tyd te maak vir koffie in die bed, of te gaan stap langs die see. Dis soos om ‘n sand kasteel te bou, elke druppeltjie nat see sand wat op ‘n hoop gedra raak, bou op en maak ‘n pragtige meesterstuk op die ou einde.
Moenie vergeet van die moeite nie!
Goue reël nommer elf: Wees prakties
Ai, het ons nie maar almal hierdie rooskleurige uitkyk op die huwelik nie? Alles gaan so perfek uitwerk, die vrou gaan kosmaak, die man gaan die vuilisdrom uitneem. Soos klokslag gaan alles uitwerk. En dan kom slaan die lewe al jou mooi vooropgestelde idees se voete los onder hulle uit! Want die lewe is nie so mooi georganiseerd nie en dit raak rof.
Niemand wil mos aan die vervelige aller daagse take dink nie. Hoe romanties is dit nou!? #loveisallaroundus
En meneer, jou vrou gaan nie ewe skielik na die troue in ‘n Nigela voor die kospotte ontaard nie. Al smeulend die lepels aflek en dit terwyl daar iets hemels in die oond rys nie. As sy NOOIT ‘n eier vir jou gebak het terwyl jy vlek gesleep het nie, she ain’t gonna change! En dame, as daai man nooit ‘n spyker reguit in ‘n muur kon inslaan nie, gaan hy NIE die kinders se wetenskap projekte op eie stoom kan baasraak nie.

Wees prakties en pragmaties mense – daar’s dinge wat gedoen moet word. Werk uit wie is goed met wat en vir die res kry ‘n nutsman of laat jou kos aflewer!
Goue reël nommer twaalf: Daar is maer jare en vet jare
Die lewe is vol uitdagings, daar is ‘n eb en vloei aan alles. En so ook aan verhoudings.
Aarde mens, as ek net dink waardeur ek en my man al moes worstel die afgelope 11 jaar. Nie een van ons het met daai blink verloofring aan die vinger kon voorspel presies wat die lewe in ons rigting sou gooi nie. Daar was werk stres, besighede wat verkoop word, huise gekoop en verkoop, kinders en hulle vele dinge(en glo my ons het vele dinge uit alle oorde beleef,) siektes en grille en brille en pille.
Die geheim is natuurlik om daai branders te ry, deur die strome te skop met mag en te weet…”everything will be alright in the end, and if it’s not ok it’s not the end yet!”
En laastens…..

Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of laat ‘n boodskap op Faceboek by @wynvliegoorit
Love Om al jou goed te lees! So mooi en eerlik…
En ek lag en leer saam!
X
Hoe ken jy my!! Eerlikheid is dalk ook my vice 🤣