Ek staan meestal verstom en verwonderd oor sommige uitvindings. Een hiervan is die “trapmeul.” ‘n Masjien waarop mense sinneloos, soos maniakke, op pad na nêrens hardloop?
Wie op aarde het gedink dis ‘n goeie, gesonde idee. Dink daaraan, dis effe gek om so ‘n mal perd op te klim!
En as jy ooit op een van daai monsters was, veral in ‘n hotel gimnasium êrens in ‘n Amerikaanse deelstaat, waar die lugverkoeling NOOIT werk nie, dan weet jy. Jy weet dis ‘n moerse onaangename ervaring en dis net onnatuurlik. #themythbuster
Maar wat se die mense wat weet?
En dis nie net ek wat so oor die saak voel nie, daar is ‘n slim bioloog wat sy geld by Harvard verdien, ene Daniel Lieberman, wat al sy bevindinge in vele akademiese boeke neergepen het. Sy veld van kundigheid – oefening.
Dr Lieberman, se nuutste boek, Exercised: Why Something We Never Evolved to Do Is Healthy and Rewarding, is ‘n hele 440 bladsye lank.
Die tema van hierdie stuk werk: Die mens se bedrading is van so ‘n aard, dat hy enige vorm van oefening soos die pes sal probeer vermy. Netso, want die mens se oerbrein kan glad nie uitwerk hoekom jy nou eintlik wil fiks raak en jou energie op iets nutteloos soos ‘n oefensessie wil vermors nie. #themythbuster
En die skares juig en die slap tjips val waar hy wil
Nou hoor ek hoe juig die skares van bank sitters en daai lede van die samelewing wat glo oefening is net vir mense wat niks beter het om te doen nie. Of dis soos water op die vuur van die vermanende, verantwoordelike stem in jou kop, oor die gym sessies wat jy misgeloop het.
Die reine waarheid is – ONS IS ALMAL LUI GEBORE EN GELAAT STAAN!
En die rede is natuurlik eenvoudig. Lank gelede toe die grot man en vrou nog jonk was. Wel hulle was slim genoeg om te weet hulle moet hulle energie bewaar vir belangriker dinge, soos om kos te gaan soek of ‘n ander een oor die kop te slaan of van ‘n wilde dier te vlug.
En as ek daaraan dink, dit was nie net die grot bewoners wat so slim was nie. My eie ouers was boere, mense wat dag na dag, harde, fisiese werk gedoen het. Nooit ooit was enige een van hulle op ‘n dieet nie. En ‘n feit wat soos ‘n paal bo water staan is dat hulle verseker nie in die aande nog hulle tekkies aangetrek en gaan hardloop het nie. Hulle moes hulle energie bewaar vir die noodsaaklike take van boer en oorlewing.
Die geoefen om fiks en gesond te wees, is ‘n hedendaagse “uitvinding.” So kom ons sit maar die klippe neer, mense wat nie van oefen hou nie, is nie lui nie…nee die antropologie bewys eerder hulle is dood normaal! (o, my man gaan van hierdie een hou🤣)
‘n Saak het altyd twee kante natuurlik
Maar nou ja, dan het ‘n Harvard studie òòk die volgende bevind:
“The [Harvard Alumni Study] found that older Harvard alums who were exercising had about 50 percent lower mortality rates than their classmates who were sedentary, and that the benefits of exercise were much higher in older than younger alumni.”
Bron: Why run unless something is chasing you?
En nog ‘n skrikwekkende statistiek is die van die Wêreld Gesondheid Organisasie wat gepubliseer is in 2020. Daar is wêreldwyd 1.9 biljoen volwassenes wat aan vetsug lei. Suid-Afrika is 30ste op die ranglys. Gaan kyk maar self, by Global Obesity Levels
So, voor ons die baniere opneem en die vreugde vure brand vir die luiaards, sal ons plan moet maak. Want so kan dit nie aangaan nie! Ons het ‘n nasie om te red.
Hoe nou gemaak?
Soos die winter naderkom en die oggende nat, winderig, donker of die gras wit geryp is – gaan daai stemmetjie in jou kop sy uiterse bes doen om jou in daai bed te hou. Glo my vry, ek is een van daai “oefening verslaafdes” en ek moet soms hard met myself praat. Soos ‘n vriendin altyd sê: “Moet net nie met jouself begin onderhandel nie! Dis ‘n fatale fout!”
Die voorstel van Dr Lieberman is, span jou oerbrein in en moenie teen hom probeer veg nie.
- Onthou as daai stemmetjie opdaag – dis jou oer ouma of oupa, groet hulle ordentlik, want hulle probeer net help. En dan, dan ignoreer jy hulle en trek jou tekkies aan en sit jou voete by die deur uit. Dis die intensie wat tel. Natuurlik verkieslik nie net met ‘n velletjie om die middellyf nie!
- Selfs die grot bewoners het so bietjie die spiere gepomp as hulle iets sosiaal wou doen…soos dans en klippe rondrol. Dus vind vir jou ‘n groep – mense wat ook so mal is soos jy om kilometers ver te hardloop, of burpees te doen in die naam van fiksheid. Lag saam, kreun saam en swets saam. Ons is sosiale wesens – so buit dit uit.
- En mens het nie nodig om duisend ure op ‘n dag te oefen nie…die grot mense het slegs so 21 minute per dag geoefen. Hierdie is natuurlik ‘n bitter pil vir verslaafdes en perfeksioniste soos ek om te sluk – hoe meer, hoe langer, hoe harder is wat ek my wysgemaak het nodig is om die rolle onder beheer te hou.
Die kop dokter
Ek het in ‘n familie groot geword waar geestes gesondheid ‘n teenwoordigheid gehad het. Nie net hoe belangrik dit is en om openlik daaroor te praat nie, maar hoe dit ook mense vir wie jy lief is se lewens heeltemal kan verwoes.
Maar die een ding wat soos ‘n paal bo water staan is dit – oefening is ‘n ongelooflike teenvoeter vir die groot swart hond en die angs.
‘n Ene MICHAEL OTTO van Boston universiteit, is dit eens. Slegs 5 minute na gematigde oefening sal jou liggaam serotonien vrystel en jou gemoed sal lig. Daar is ook verskeie studies wat die langtermyn voordele van oefening vir depressie besing. En dit slaan sommer angstigheid ook hok, want al die spiere in jou liggaam begin ontspan en jou kop moet op iets anders as sy eentonig siklus fokus. Soos my kind moes erken na ‘n moordende sessie by die gym: “Vir die eerste vyf minute kon ek nie die malende gedagtes afskakel nie, maar toe k*&k ek behoorlik en kon nie nog daaraan dink nie.”
Oefening 10 – angs en depressie 0. Uitgeboul.
Mens raak ook ouer nè
En dan is daar twee mites wat natuurlik ook met hand en tand uitgeroei moet raak.
Mite een: Hierdie konsep van “aftrede” en “dinge stadiger” vat, is ‘n hedendaagse ding. Die oermense het gin afgetree nie. As hulle sou, was daar net nie kos vir hulle nie en dan is hulle vinnig onder die naaste klip ingerol. #themythbuster
So as die knieë of die rug begin oppak – hou op hardloop, maar stap om vadersnaam. Of strek of doen tuinwerk….oefening het nog niemand dood gemaak nie.
Mite twee: Al hierdie self opgelegde beperkings wat ons in die naam van gesondheid aanhang, is ‘n groot hoop bollie!
Jy mag dalk jouself forseer om ‘n smaaklose slaaiblaar, komkommer en tamatie slaai elke middag af te forseer. Gaan ‘n slag wild en gooi neute en olyf olie oor om die saak te verryk en op te kikker.
Of dalk eet jy stiptelik, weeg jouself elke dag, volg ‘n streng dieet plan en forseer jouself om gemoor te raak deur ‘n persoonlike afrigter. Klink dit enigsins gesond en gebalanseerd vir jou? #themythbuster
En nou, wat nou van my?
Man soos ek ouer raak, raak ek nou wragtig wyser.
Ek moet ook nou maar erken, vir jare der jare het ek gedink ek gaan van die aarde afval as ek nie 6 dae ‘n week oefen nie. Daar was die vrees van uit mis, die ou kompeterende streep wat my maar net nie wil los nie, die ewige geweeg en die haat van sagte rolletjies om die middel en die swak gestopte agterstewe.
En glo my vry, ek het al elke dieet plan op hierdie aarde probeer – behalwe om my dikderm te laat spoel – dit klink net te grillerig!
Maar nou is ek vry – ek het balans gevind en meer as enige iets weet ek dit. Ek doen dit omdat dit goed voel en vir my kop. Anders raak ek malle koppie en kan ek dalk binnekort nie opstaan uit ‘n stoel nie.
Wees goed vir jouself. Ek weet dit werk.
As jy wil praat oor hoe ek die skaal begrawe het, skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of los ‘n boodskap op @wynvliegoorit. Dit was morsig!😝