Vol 49: Die klaagliedere

Aarde ons hou van kla! Kom my voor of die geklaery in frekwensie en duurte toeneem. Die onderwerpe is legio.

Dis van die patetiese regering wat ons het, tot die swak diens van Telkom en die suur kassiere wat skuil agter ‘n masker. Die onderwysers wat nou so lui geraak het 🤪 en taxi’s wat ry nes hulle wil! En weet julle hoe Simba en sy makkers ons besteel – daagliks raak die lug meer en die skyfies minder!? As die staatspresident dit net gaan waag om ons weer agter slot en grendel te sit, kry ons ‘n kleintjie! #flyintheointment

Dis ‘n ding van die jare toet

Maar toe herinner ek my aan die boek Klaagliedere en besef – kla is ‘n ou ding. Kom al lank aan!

Jeremiah het daai boek geskryf en hy was ‘n man wat ‘n droewige lewe gelei het. So toe al moes daar ‘n hele boek van poësie gewei raak aan die kuns van kla.

Hoekom kla ons so maklik?

In sy boek, A Complaint Free World is die skrywer, Will Bowen se definisie van KLA die volgende: Kla is as ons oor goed praat wat ons NIE WIL Hê nie ipv om oor goed te praat wat ONS WEL WIL Hê. En volgens Eckhart Tolle is daar ‘n reuse verskil tussen kla en konstruktiewe terugvoer.  #flyintheointment


Kom ek verduidelik:

Ter inligting – “Julle openings ure word as 9vm aangedui op julle webtuiste. Maar dit wil voorkom of julle eers om 10vm op vakansie dae oopmaak. Dit was ongerieflik vir ons, so asb pas die inligting aan!”

Kla – “Julle openings ure word as 9vm aangedui op julle webtuiste. Ons het 100km gery en was sterwend van die honger, net om uit te vind julle maak eers verdomp om 10vm oop. Dis patetiese diens – sal julle definitief nie aanbeveel nie.”

Ja, val maar in!

Alle mense het ‘n voorliefde vir kla, die uwe ingesluit. En die gekla kom sommer gereeld onder ‘n baie mooi dekmantel voor! 

Volgens die 5 Reasons Why People Complain is daar vyf hoofredes waarom ons tog so graag die klaagliedere aanhaal.

  • Ons kry aandag. Mense het ‘n ingebore behoefte aan aandag en erkenning. En party sal uit hulle pad gaan om met ‘n gekla aandag te kry. “Ek is die enigste een wat iets doen by die kantoor!”
  • Om verantwoordelikheid te systap. “ Ek weet nie hoe my baas verwag ek nog hooi op my vurk moet laai nie, dink hy ek is ‘n robot?” Hierdie gebeur gewoonlik as iemand oorweldig voel, so hulle verwyder hulleself van die verantwoordelikheid.
  • Of om so bietjie sleg te “brag” – “Jy weet ek is nou nie die baas nie, maar ek kon darem daai netelige situasie beter hanteer. Mense hou meer van my manier van doen.”
  • ‘n Bietjie van ‘n magsvertoning – “Ek sal jou nooit so sleg behandel as wat Y jou behandel het nie. Dis skandelik, skaar jy jou maar net by my.” 
  • Verskonings maak – “Ek kon net nie daai bal raak vang nie, die son het reg in my oë geskyn!”

Hmmm….klink een of twee van daai dalk bekend?

Maar kla is so lekker soos ‘n cracker! 

Nie een van ons bly in ‘n grot of onder ‘n klip nie – ons het al tot vervelens gehoor van die reuse voordele aan ‘n How Positive Thinking Impacts Your Stress Level  uitkyk op die lewe. ‘n Negatiewe blik kan ‘n dood goeie dag in ‘n nagmerrie laat ontaard. Die hele donnerse wêreld kan in ‘n japtrap in ‘n malhuis ontaard. Alles val, al die verkeersligte is rooi, elke mens wat iets te smous het, bel jou uit Indië, Eskom skop weer beurt krag in werking en die kits bank sluk jou kaart in. ‘n Royal f%#@k op! #flyintheointment

Dit bring heling…heel laas vir die klaer en nie die aanhoorder nie😄

Maar kla het darem ook sy voordele! Dit bring verligting en heling…maar natuurlik moet 

die klaery dan kortstondig van aard wees – sulke kort poef-poef sessies is glo net die ding! 

  • Stoom afblaas soos ‘n ou lokomotief

G’n wonder ‘n goeie skinder sessie laat mens so effe lighoofdig, met ‘n gevoel van verligting nie. Daar is niks so lekker soos my daaglikse oproep na my suster om net my innerlike frustrasies af te pak nie, die stoom af te blaas nie. En dan is ek weer reg soos ‘n roer. 

  • Dis soos manna vir die siel

Ek kies haar natuurlik, omdat ek weet sy ‘n gewillig oor het, sal saamstem met meeste van wat ek te sê het oor die persoon wat my ingedoen het.  Niks so goed as om by ‘n gewillige oor af te pak en nog boonop ‘n instemmende paar geluide te hoor nie. Mens soek mos net soms iemand wat saamstem, al is jy ooglopend HELETEMAL TE emosioneel oor ‘n saak.

Twee is beter as een

Dan is daar die goeie koffie sessies saam met al jou vriendinne wat jy langs die “skool pad”gemaak het. Jy weet dies wat jy ge-erf het toe jou kind, hulle kind bevrind het. ‘n Veilige hawe vol vrouens wat ewe betrokke is by hulle kinders en raad kan uitdeel oor die nuutste poeier of pil wat Sannie sal laat stilsit, of die tiener aknee onder beheer kan bring. Jy kan net al jou probleme daar bekla en in ‘n japtrap is daar oplossings. 

  • ‘n Ander invalshoek

Soms raak mens so vasgevang in jou eie web van bekommernis en gegriefdheid, dat jy net nie meer ‘n uitweg kan sien nie. Dis dan wanneer ‘n klag of twee by mense met ‘n ander perspektief net die ding doen. Ek het so ‘n vriendin, sy skroom nie om vir jou die ander kant van ‘n saak te laat sien nie. Soms nie wonderlik om te hoor nie, maar ‘n ander perspektief laat weer die lig in!

  • Alles in die naam van beter diens!

Net omdat ek nie meer #wynvlieg en sy trawante nader hark nie, beteken nie ek waardeer nie ‘n lekker yskoue, alkoholvrye bier as ons uiteet nie. Net nou die dag sal die bestuurder by ‘n baie gewilde eetplek hier in ons omgewing wragtag vir my te vertelle het dat die EEN ALKOHOLVRYE bier wat hulle op die spyskaart het, vir die 4de week agtereenvolgens uit voorraad is. Amper verloor ek toe kop, maar het in my mees beskaafde stemtoon aan hom probeer verduidelik dis dalk beter vir sy besigheid as hy alternatiewe aanbied…WANT MENSE SOOS EK SOEK NIE COKE NIE! Dink hy het die boodskap gekry🤣…yskoue alternatief is opgetower soos niks. Wen-wen reken ek, hy het wins gemaak en ek sal weer ‘n yskoue een daar gaan geniet.

MAAR, AS KLA IN ‘N GEKERM ONTAARD…dan my vriend en vriendin, reken ek moet daar  ‘n spesiale soort naweek straf kamp vir diesulkes gereël te word!

Maar daar is hoop natuurlik! 

  • ‘n Pad uit, is om eerder op die oplossing as die probleem te fokus. Dan beweeg mens darem vorentoe ipv klei trap die hele liewe tyd.
  • ‘n Pessimis is soos mis. Niemand hou van die reuk van so iemand nie. As jy vriende wil behou, stel ek voor jy staan eerder oppi(ti)mis!
  • As jy permanent op iets negatiefs fokus (soos die munisipaliteit se onvermoë om slag gate reg te maak) raak jy later woedend elke keer as jy een sien. En woede, is soos om ‘n dodelik slang in jou kamer aan te hou…as hy daar uitkom is hy nie meer ‘n troeteldier nie!
  • ‘n Gekla is aansteeklik…binne-kort is jy deel van die groep van klaers en nie die spotters nie. Al by ‘n aftree-oorde gehoor hoe kan die oues van dae kla oor “suster” so-en-so gedoen of gesê het? Dis net tragies verby
  • En laastes – ‘n permanente gekla kan die mense naaste aan jou heeltemal verlam. Dit suig elke liewe greintjie energie uit hulle uit. En laat hulle vir die dood…sielsmoeg en uitgemergel langs die pad.

Dus, kies by wie en waaroor jy wil kla! Beperk jou sessies tot die minimum en moet om vadersnaam nie ‘n kroniese klaer raak nie. 

#flyintheointment
#flyintheointment

Ter nagedagtenis

Ek is so trots op soveel burgerlikes in die land, wat nou sake in hulle eie hande neem. Oral word middelmannetjies deur gewone mense in lushowe omskep, dorpsmense uit alle oorde ruk op en maak slaggate reg. Ja, ja ek weet dis waarvoor ons belasting betaal en die geld verdwyn elke keer soos mis voor die son…MAAR hier is nou mense wat op die oplossing fokus en nie die probleem nie! #flyintheointment

#flyintheointment
#flyintheointment

As jy wil kla, skryf eerder vir my by vryheid@wynvlieg.com of los ‘n boodskap op @wynvliegoorit!😝

2 thoughts on “Vol 49: Die klaagliedere”

  1. Ek wens daar is n moontlikheid om meer as 100% met jou saam te stem. Optimiste en glas-half-vol mense is deesdae so skaars. En elkeen dink sy klagtes is erger/groter as die ander…en nóg erger, almal het maar daai streep in hulle.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *