Wie van ons was nie al in ‘n situasie waar iemand voorgetrek is nie? As jy ‘n kind in enige huishouding met meer as een telg was, dan het jy hom êrens aan jou bas gevoel.
As jy nooit op skool ‘n witbroodjie teëgekom het, wat so ‘n kort kop voorbly, omdat hy ‘n onregverdige voordeel gehad het nie – dan was jy seker besig met tuisonderrig. Om van die korporatiewe wêreld nie eers te praat nie. Goed met gat kruip, dan kon jy lere ook moeiteloos klim. #favouritismiseverywhere

Sê ons dan nie hoeka vir ons kinders – LIFE IS NOT FAIR, as daar gemor en gekla word oor die onregverdighede in die piepklein wêreldjie van ‘n kind nie? Wel dit het Vrydag onder my aandag gekom – of sal ons sê dit was een van daai oomblikke waar ek gedink het: “My magtag vrou, hoe het jy dit nog nooit raakgesien het nie? Dis so duidelik soos daglig!” En die man wat die skille van my oë laat afval het, is Guy Winch. Doen jouself ‘n guns, soek die man op! #favouritismiseverywhere
Witbroodjie uit die boonste gestoeltes
Daar bestaan een groot ongelykheid in hierdie wêreld en ons is almal skuldig daaraan.
Ons trek ons liggame voor, verkies hulle gesondheid bo die van ons breine.
Dink maar net hoeveel waarde heg ons aan ‘n gesonde, gespierde, fikse, soepel liggaam. Daar is derduisende tipes oefen programme, die mediese wêreld ontwikkel allerhande kure teen ‘n spoed van wit lig en dieet program op dieet program. Want ons besef hierdie “tempel” van ons moet ons nog lank veilig huisves.

Maar ons geestelik gesondheid, die skeep ons iets allervreesliks af. Hoeveel tyd spandeer ons daaraan om geestelike fiks te word? Om ons self geestelik gesond te hou? En as ons ‘n emosionele besering het soos eensaamheid, verwerping of mislukking – vat ons ons tyd om dit ook gesond te dokter – of dink ons net: “Ruk jouself reg!?” #favouritismiseverywhere
Ek het ‘n ses jaar oud kleindogter, wat ons, soos dit goeie groot ouers betaam, ook van allerhande persoonlike higiëne probeer leer. (Ouers het alle ondersteuning in die verband nodig, soos julle weet. Want mens herhaal menige maal nog tot op die rype ouderdom van 18 daai vraag oor die tande wat geborsel is, al dan nie!) As ek dink hoeveel keer ons haar vra na haar tande en of sy dit geborsel het, hoeveel klem ons plaas op nie tè veel suiker nie…dan wonder ek soms, hoeveel tyd neem ons regtig om ook vir haar die geestelike veerkragtigheid te leer om teleurstellings te hanteer en te leer die wêreld is maar onregverdig.
Dis ‘n besering soos enige ander!
Ek hoor so gereeld by mense van my ouderdoms groep: “Jy weet toe ons jonk was, was daar nie soveel depressiewe mense nie. Ons moes maar net aangaan met die lewe, niemand het omgegee nie. Vandag se kinders oordink alles!” Ja nè, g’n wonder daar is so baie mense in my einste ouderdoms groep wat geskei is, afhanklik is van drank of pille om hulle staande te hou en soms vreeslike ongesonde verhoudings met hulle familie en kinders het nie. Want raai wat, daai strategie het toe ook nie so goed uitgewerk nie. Om ‘n emosionele besering te hê, is net so goed as om ‘n fisiese een te hê. Ons sê so maklik vir iemand met depressie of enige angsversteuring: “Dis nie so erg nie, dis alles in jou kop. Kry net jou kop reg.” Sou jy vir daardie einste persoon dieselfde gesê het as hulle ‘n been gebreek het? “Nee wat dis net ‘n gebreekte been, stap hom sommer net reg!” #favouritismiseverywhere
Mind the gap, please mind the gap
Dis hoog tyd dat ons aandag gee aan emosionele beserings. En dat hulle saam op die podium staan as dit by die uitdeel van aandag en helende middels kom.
Eensaamheid is seker een van die grootse emosionele wonde wat ons kan opdoen. Dit het so ‘n ongelooflike impak op ons wil om te lewe. Dis hartseer om te hoor hoeveel ou mense weens afsondering gedurende grendel tyd net opgegee het op die lewe.
Want ons breine oortuig ons blitsvinnig dat die mense naaste aan ons nie genoegsaam vir ons omgee nie. Ek het vir jare ‘n wond van “eensaamheid” met my saamgedra. Ek was ses toe ek skool koshuis toe is en in my kop het ek myself wysgemaak my ouers gee nie genoeg vir my om nie. Want as hulle het, sou hulle my sekerlik kom haal het.
Daardie wond het nooit ordentlik genees nie, so vir jare der jare was ek te bang om kwesbaar te wees. Om mense regtig naby my toe te laat en het ek skanse om my gebou en menige goeie verhouding so laat skipbreuk lei.
Want sien “eensaamheid” hang 100% daarvan af of ‘n persoon voel hulle is sosiaal of emosioneel aanvaarbaar vir ander. Of hulle ‘n regte deel wêreld het.
Mislukking is ‘n ander emosionele wond waarmee ons almal al opgeskeep gesit het. Jou brein wil jou onmiddellik wysmaak dat sukses jou nie beskore is nie. Ons het almal ‘n default setting as dit by mislukkings kom…
Òf jy glo jy kan die saak baasraak òf jy is oortuig jy sal nooit, ooit in der ewigheid dit regkry nie. Dis hoekom so baie mense nooit hulle volle potensiaal bereik nie. As mens eers begin glo iets is buite jou bereik, raak jy soos ‘n waarsêer – want dan gaan jy wragtag nooit daai bult kan uit nie.
Ek vat nou maar byvoorbeeld my kwessies met wiskunde😝. Al het die wiskunde onderwyser sy bes probeer om ons te oortuig ALMAL kan wiskunde doen, het ek hom die teendeel probeer bewys!
Verwerping is seker een van die emosionele wonde waaroor daar die meeste geskryf, getop en gesing word. Hoe leeg sou die teaters nie gewees het as ons nie ‘n traan kon pik oor verlore liefde nie?

Dis een van die pynlikste wonde wat ‘n mense seker kan opdoen. Die verskriklike pyn kan mens selfs aanvoel…gaan kyk maar net The Final Scene. As jy nie voel om hartstogtelik te snik nie, dan is jy nie ‘n mens nie!
Want sodra die dolk van verwerping in jou hart gesteek is, hetsy ‘n liefdes verhouding wat op die rotse geloop het, of ‘n potensiële werk wat jy nie gekry het nie, of dat jy nie as die brei klub se voorsitter verkies is nie – as daai dolk eers in is, dan draai ons hom.
Die goed wat ons vir onsself kwytraak is om van te huil. Dit neem die trant aan van: “Jy is eenvoudig nie goed genoeg om lief gehê te word nie” of “jy het die simpelste goed kwytgeraak in die onderhoud, g’n wonder, niemand sal so ‘n idioot wil aanstel nie.” En so draai ons daai dolk tot daar goeie skade aangerig is.
En met elke mislukking, verwerping of as die eensaamheid kom lêplek kry, herkou ons elke negatiewe aspek daarvan. Selfs die beste koei sou jaloers wees op ons talente!
SOU JY?
Die vraag is – sou jy jou vinger in ‘n snywond indwing en die gat net nog groter en dieper karring?
Die antwoord is natuurlik, nee. Jy sou ‘n salfie smeer, steke kry en ‘n pleister opplak. #favouritismiseverywhere
So hoekom op aarde wil ons onsself altyd so martel as ons ‘n emosionele wond het? Hoekom wil ons die gat nog dieper grawe – jy weet, dis hoekom mense begin drink, baklei en hulleself kasty. Want ten minste is daar dan ‘n ontvlugting – net om môre oggend met nog ‘n groter wond op te staan.
So hoe nou gemaak?
The Final Scene praat van “spiraling up.” Maw elke keer wat jy iets positief doen om van die emosionele wond weg te stap, sit jy as’t ware salf op die wond.
En hoe meer gereeld jy dit doen, hoe gesonder sal jy raak.
- Want elke keer as jy eensaam is, kontak iemand – gaan doen iets nuuts, sit net een voet voor die ander.
- Elke keer wat jy verwerping ervaar, staan op en onthou jy is uniek en goed genoeg.
- As jy soos ‘n teleurstelling voel, verander jou “default setting. ” Glo jy kan.
- En elke negatiewe gedagte wat opkom, skop hom pale toe.
Stof tot nadenke
Vir interessantheidshalwe – in Amerika is daar ‘n studie gedoen wat bewys die hoeveelheid gesonde tande wat jy in jou mond oor het op 70, sal jou kans op die dood met 4% verminder(vir elke vyf jaar wat jy nog daarna lewe.) Gaan lees gerus….Want to Live Longer? Take Care of Your Teeth.
So STEL JOU VOOR, hoeveel langer en gelukkiger kan ons leef as ons net ons emosionele gesondheid ook so gehoorsaam oppas.
Hoe voel jy oor jou emosionele gesondheid? Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of los ‘n boodskap by @wynvliegoorit
Wynvlieg, smaak my ons deel n brein. Jy verwoord dit net beter as ek. Het jare gebuk gegaan onder al hierdie verwerping besigheid. Rooikoppe is lelik (self so besluit), rooikoppe kry nooit mans nie (self so besluit), ek is “anders” want my ouers was in ‘n weird kerk en dis hoekom niemand in my belangstel nie. Nou, 52 jaar sedert ek matriek geskryf het, is ek besig om ‘n reünie te reël. Nóú hoor ek hoe mooi my rooi hare vir almal was, nóú hoor ek hoeveel seuns het my gelike het. Al die jare het ek myself verwerp met my eie stupid aannames…
Pingback: #wolfinsheepsclothes | Vol 52: ‘N Gejaag Na Wind | Wynvlieg