#livingyourbestlife

Vol 51: Die krisis van die middeljare!

Die eendag is jy nog op die wieke van die wind, jy is jonk, suksesvol, jy bestuur die kinders en huishouding soos ‘n top uitvoerende beampte. #livingyourbestlife.

Net om ‘n paar dae later wakker te skrik en met ‘n loodswaar gemoed te wonder – wie is ek, en waarheen is ek oppad?

Jy is êrens tussen 40 en 60 – waarskynlik meer hier nader aan die 50’s en jou lewe is in ‘n krisis gedompel. En laat ons nou maar eerlik wees, die middeljare krisis was eintlik altyd net eksklusief vir die manne geoormerk. Kenmerkend is natuurlik die clichè van die bestaande vrou wat vir ‘n jonger model ingeruil word, of die vinnige kar wat aangeskaf raak of die beheptheid met die gym en ‘n goeie lyf. Vrouens aan die ander kant het die minder glansryke weergawe ge-erf – die menopouse. Gekenmerk deur ‘n vaal, humeurige gewigoptellery – goed ondersteun deur ‘n gesweet wat jou soos ‘n Muhammad Ali in die kryt laat lyk. 

#livingthegoodlife

Hoe dit ook al sy – man of vrou, waar jy jou ookal in die wêreld mag bevind – jy gaat vir hom slaan! Searching for happiness around the bend in Amerika en verskeie Europese lande het bevind dat “lewens geluk” so bietjie van ‘n U-vorm oor ‘n mens se leeftyd aanneem. Die bewyse is daar – ons is geskroef hier rondom 40 – 50!

#livingthegoodlife
#livingthegoodlife

Watter gedaantes neem die storie aan?

Die krisis daag op as jy jou kind gaan aflaai by die kollege of universiteit en jy huil snot en trane oppad huis toe. Dis ‘n geliefde ouer wat afsterf en jou eie sterftelikheid staar jou oop en bloot in die gesig. Of dis ‘n aftrede en skielik is jy niks. Dis ‘n 25 jaar huweliksherdenking wat in plaas van op ‘n plesierboot in die hof met ‘n egskeiding gevier word. Dis die wrewel wat intree omdat jy nog na ‘n ouer moet kyk, terwyl al jou vriende sogenaamd #livingthegoodlife besig is om te lewe. 

So waar het myne begin – ek was nog maar altyd so effe voor die kurwe🤪 – letterlik en figuurlik! Ek dink myne het begin die dag toe my ma ‘n beroerte gehad het, ek was 35 jaar oud. Eensklaps was haar geheue aangetas en ek het my ma, my rots begin verloor. Twee jaar later is my pa oorlede. Ek was nou deel van die volgende generasie – teoreties volgende in die ry om die poorte van Jerusalem te nader. Toe verlaat ek ‘n korporatiewe loopbaan. En vroeë menopouse skop in! My kind, waarom soveel van my sosiale lewe en ure in ‘n dag gewentel het, verlaat skool en het my minder nodig. My man tree af en hy begin sy lewe herdefinieer en ek moet myne(dit voel te vroeg!) ook begin herdefinieer. ‘n Leeftyd van stry met gewig en die alewige gepratery in my kop oor diëte en kalorieë het my ook lamgelê.  Die paniek het op alle vlakke begin inskop en ek was moeg en moerig! #notlivingthegoodlife

Ek en my mense

So ek en my mense is nou in hierdie fase. Dis ‘n plek van selfondersoek en jouself weer vind. Dis ‘n tyd van dinge en identiteite agterlaat. Daar is ‘n rou proses, ‘n gatvolgeit en ook so ‘n bietjie banggatgeit! Maar as ons na die U-vorm kyk, is daar darem hoop doer op die horison! 

“The words ‘midlife crisis’ can put a negative spin on this period. But it doesn’t have to be bad. It can be an opportunity to reevaluate your life,” says psychologist Susan Albers, PsyD. “It’s the chance to pause and spend time and energy figuring out what’s meaningful to you.”

Hoe nou gemaak? HELP!

Ek is ‘n bemarking strateeg. Maw my werk is om mense se handelsmerk van nader te bekyk, goed ondersoek in te stel na die èèn ding waarvoor hulle nou eintlik staan. My taak is dan om òf ‘n relevante identiteit te ontwikkel, of weer die ou een in oënskou te neem. Ek word dus meestal ingeroep as ‘n handelsmerk ‘n identiteitskrisis het of om ‘n vars nuwe een te skep (amper soos ‘n nuwe ou babatjie!)

So wat van ‘n vars perspektief? Wat as hierdie nie ‘n tydperk van KRISIS is nie, maar eerder een van groot GELEENTHEDE?  Om ons eie HANDELSMERK as’t ware te herontdek. Now there’s a thought! #livingthegoodlife

So waar begin ons?

Definition: Rebranding is the process of changing the corporate image of an organisation. It is a market strategy of giving a new name, symbol, or change in design for an already-established brand. The idea behind rebranding is to create a different identity for a brand, from its competitors, in the market. Definition of ‘Rebranding

En die drie belangrikste vrae om altyd te vra is: 

  1. Wie is ons en waarvoor staan ons nou eintlik?
  2. Wat maak ons uniek – enig in ons soort?
  3. Met wie praat ons en wat wil ons nou eintlik vir hulle sê?

Laat ons nou maar eerlik wees, alle mense op aarde vang êrens ‘n moerse dip. Jy hoef nie oud, afgeleef en in die vyftigs te wees nie. My 20-jaar oue seunskind wonder nou oor liefdesverhoudings– moerse dip, want die liefdesverhouding is op die rotse en dit bring ‘n identiteit krisis en gewonder oor begeerlikheid mee. My 22-jarige susterskind is afgestudeer, ‘n werkende jong vrou en wonder of hierdie eentonigheid van opstaan-werktoegaan-eet-spaarvir’nhuis-trou nou DIT IS? ‘n 38-jarige vriendin se huwelik is op die rotse en haar drome van die een man-twee kinders gesin is pad af. Ons kan maar sê hulle lewensvreugde is effe op ‘n laagte punt en so ook die selfbeeld op die vloer.

Die lewe is soos die oseaan – daar is branders, stormsee, daar is rustige geklots – maar daar is baie op-en-af.

Nou vir die goeie nuus!

Al wat ek het om jou te bied – is die re-branding wat ek op my eie lewe gedoen het.  Dalk is daar iets waarmee jy jou kan vereenselwig. Dalk is daar ‘n bietjie hoop of dalk sommer net ‘n “ag fok, is this as good as it’s going to get?” 

1. Wie is ek en waarvoor staan ek?

‘n Bestekopname van wie ek is en waarvoor ek nou eintlik staan moes geneem word hier gedurende die grendel tyd. 

Sterkpunte: My werk – dit bring my geluk en ‘n gevoel van waarde; my verhouding met my kind; my aanvoeling vir mense en my soeke na oplossings vir emosionele probleme; oefening en hoe dit my laat voel; my strewe na beter; my vermoë om die silwer randjie te sien. 

Swakpunte: My onwrikbare onafhanklikheid(dit het my net alleen en weerloos gemaak); my vrees vir kwesbaarheid; my alewige vrees dat ek gaan uit mis, te min wees. My jarelange toksiese verhouding met kos en my vriend die #wynvlieg wat ek so graag nader gehark het om die lewe mee te verdoof; my kreatiwiteit is onder ‘n maatemmer gebêre.

Bedreigings(goed waaraan jy niks kan doen nie): Kind wat grootmens raak; man wat aftree en ‘n nuwe fase betree; werksgeleenthede wat minder raak; mense na aan my wat sterf; COVID19; skete en pyne.

Geleenthede: Skop die wynvlieg onder sy hol; vergeet van dieet; fokus op oefen; staan op vir jouself; maak aanpassings; omarm jou geliefdes, aanvaar die liefde van ‘n wonderlike man en maak tyd vir jouself.

#livingthegoodlife
So – Caution Work In Progress – maar hier is wie ek nou is, en die pad waarop ek wil wandel. Ek dink my geluk kurwe is oppad boontoe!

2. Wie is ek en waarvoor staan ek?

Ek is eerlik, reguit en moerse nuuskierig en weetgierig. Ek hou van mense help – maar net die wat gehelp WIL WEES. Ek het geleer om my mond dig toe te hou en diegene wat op ‘n ander dwaalweg is net daar te los! Ek is kreatief en sal nie ophou skryf nie – ek kan dalk net iemand help. Ek is ‘n rebel – ek het die wynvlieg en sy trawante pad af gestuur en my lewe is ONEINDIGLIK beter. Ek is nou eerlik oor my behoeftes en kan so wees, want ek het ou spite full ook die trekpas gegee. Ek is oneindig dankbaar vir my verhoudings en ek maak my kwesbaar in elke opsig.

Ek is wie ek is, so regtig ek voel ‘n hele groot FOKOL vir jou as jy nie van my hou of my opinies nie. Dis maar nou soos dit is.

3. Met wie praat ek en wat wil ek vir hulle sê?

Ek wil so graag vir elke vrou daarbuite sê – HEL ek verstaan. Ek verstaan hoe onseker ons soms is, ek verstaan hoe ons opoffer en dink dis liefde, ek verstaan hoe ons vasbyt en ‘n duisend balle in die lug probeer hou, ek verstaan hoe ons vir almal se geluk verantwoordelikheid vat. Ek verstaan hoe ons menigmaal in die spieël kyk en onsself haat. Ek verstaan hoe ons selde goed genoeg voel. Ek verstaan hoe ons die verliese in die lewe aan ons hele lyf voel. Ek verstaan hoe ons ons identiteit heeltemal verloor. En ek verstaan hoekom ons opstandig daaroor is.

So ek sal aanhou skryf, ‘n platform bied waar ons regtig hieroor kan praat en sommer net eerlik kan wees. 

Ek wil eendag graag op my begrafnis hoor: (dankie vir die bydraes vrinne – diè is opregte boodskappe wat ek op my 48ste verjaarsdag gekry het! Die mense is reeds bespreek vir die begrafnisbriefie🤣! Ps ek het dit aangepas vir die verlede )

“Wat ‘n besonderse mens was jy nie! Geseënd met ‘n fantastiese karakter en persoonlikheid en ‘n vlymskerp humorsin. En altyd positief.“ 

“Jy was ‘n besonderse mens met besondere verhoudings oor ‘n wye spektrum.”

“Jy was seker die grootste lewens geskenk wat die Liewe Vader my kon gee” 

“So bly jy was ook myne! Jy was so ‘n inspirasie en net wonderlik. Jy het my geleer – stop making excuses, live your life!”

My beroep vandag

Moet nie in sak en as gaan sit nie, hierdie is nie die einde van die pad nie. Die son sal altyd weer skyn en as ons die wetenskaplikes kan glo, dan is ons oppad boontoe! 

Gaan maak jou lysies, en stamp almal uit die pad om te wees wie jy wil wees. Hel is dit nie ‘n lekker, opwindende vooruitsig nie!?

Ek vra nie weer nie, dêmmit, skryf ‘n slag vir my iets! Skryf by my by vryheid@wynvlieg.com of los ‘n boodskap by @wynvliegoorit

2 thoughts on “Vol 51: Die krisis van die middeljare!”

  1. Shoe! Dis in die kol! Jy kan maar life coach by al jou baie talente bylas! Dankie tog ons kan almal saam praat!

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *