#humblepie

Vol 53: Draai die ander wang

Geen idee waar ons aan die snert gekom het nie, maar êrens langs die pad het ons onsself wys gemaak dat dit goed is om so klein en onopsigtelik as moontlik te raak.

Seker die Britse invloed – want die grootbek Amerikaners they ain’t suffering from this y’all! #humblepie

#humblepie

En dan frons ons vreeslik met daai stiff upper Britse lip as iemand tog net waag om tè selfversekerd voor te kom. #humblepie

Waar kom ons aan die (wan)gedrag?

Ja dis heeltemal ‘n DING van alle tye af al reken ek, want hoeveel van ons het nie al hierdie woorde gehoor of selfs geuiter nie?

  • As iemand jou te na kom, is daar mos darem altyd die ding van “draai die ander wang.” #Humble pie in ‘n ander formaat
  • Of as jy voel jy het onregverdiglik aan die korste end getrek, is iemand naby jou gou om te troos: “Ag wees maar die minste jong.”
  • Lank geleë toe ons nog kinders was, breek daar ‘n bakleiery tussen die klompie van ons uit en kort voor lank is een in trane…Pa tree vinnig in en sê: “As julle nie nou ophou nie gee ek julle ‘n rede om te huil!”

  • As huweliksmaats terg ons so ‘n bietjie en verklein dan die ander se emosies of gevoelens met: “Ag moet tog nie so sensitief wees nie, ek terg net!”
  • ‘n Gewilde een onder die Afrikaner manne is om vir klein seuntjies te sê: “Kom aan moenie ‘n sissie wees nie, wees ‘n man!” Of nog ‘n gunsteling is om vir ‘n klein kindjie te sê: “ Jy is mos nou ‘n groot kind, nie meer ‘n baba nie.”
  • En vreesliker goed word kwytgeraak deur ouers – diè een het ek nou die dag gehoor. ‘n Pa met ‘n effe wankelrige verhouding met sy tienerdogter: “As dit nie vir jou was wat so moeilik was nie, was my en jou ma se verhouding ook beter!” 
  • En een wat menige laatlam al moes aanhoor: “Jy was so effe van ‘n glipsie!”

En dan die een wat my hele lewe gevorm het – “Jy weet, dis regtig nie so erg nie. Daar is mense met wie die erger gaan!”

Ek probeer net help!

Almal natuurlik in eie reg goed bedoel. Ons probeer ‘n ander perspektief gee, of ons probeer ons kinders meer bestand maak teen die wêreld se aanslae – of dalk, net dalk is ons as mensdom net nie heeltemal se goed met ander se rou emosies nie.

Elke keer wat ons iemand se gevoelens afmaak as onbenullig of hulle opinie VERKLEINEER, stuur ons ‘n duidelike boodskap: Jy het nie die reg om jou waarheid te deel of jou gevoelens te voel nie. 

En hier pleit ek skuldig vandag en moet ek kom bieg – ek is so gekondisioneer om al my emosies kleiner te maak, om tog net nie “swak” te wees nie en ‘n gemor en gekla steek my dwars in die krop. Maar ek is die laaste persoon wat wil bekend staan as iemand wat iemand anders KLEIN EN ONBELANGRIK laat voel het. 

So jammer aan elke liewe siel aan wie ek dit  al ooit gedoen het – ek het nie van beter geweet nie en weet net dit – EK IS MY EIE GROOTSTE kritikus en laat myself selde toe om ook net uitgelewer en rou van emosie te wees! So ek is jammer, uit my hart uit jammer.

My man voel soms ons is effe tè gepla met hierdie “mens en sy emosies” ding en almal wat in ag geneem moet word. Dan glimlag ek maar net want hy is die wêreld se grootste ou softie en hoor ek dan nie gereeld ek is “gevoelloos” nie. 

But first, it’s an inside job!

Maar soos met alles, begin die harde werk by onsself natuurlik. Ons moet ophou om onsself so gering te ag, om ons self so klein as moontlik te maak – want dis nie in die mode om nederig of beskeie te wees nie. Dis in die mode om goed te wees vir jouself, sonder om ‘n skaduwee oor ander te gooi. #humblepie doen nie dit nie

So kom ons hou op om: 

  • Vir komplimente te koes. Ek hoor daagliks hoe mense ‘n kompliment gegee word en die onmiddellike reaksie 99.9% van die tyd is om jouself kleiner, minderwaardig te maak. Dit klink so iets: “Sjoe jy lyk mooi vandag” – “Ag die ou rok?” Gryp daai kompliment en maak dit jou eie.  
  • Altyd “ja” te sê, as ons eintlik soms “nee” bedoel. Party van ons val hiervoor KEER OP KEER. Want ons dink dis die “Christelike” ding om te doen – wees maar die minste, bewaar die vrede. Nee suster, jy het ook die reg om “nee” te sê. Jy hoef nie in ‘n boosaard te ontaard en ongeskik te wees nie, maar soms is dit ok om net  “nee” te sê, bloot omdat jy wil.
  • Te sê “nee ek’s fine” as ons alles behalwe “piekfyn” is! Dit kom mos in so ‘n spesifieke stemtoon🤣. Praat jou praat, sê jou sê. As dit nie “fine” is nie, sê so. Die wêreld sal nie gaan staan nie en jy gaan definitief nie die erepenning kry vir jou onbaatsugtige opoffering nie.
#humblepie
#humblepie
  • In ‘n verhouding te bly wat jou uiters k*k laat voel nie. Nou hierdie is darem self een wat ons vrouens met vreeslike bravade aanspraak op maak. Ons sal maar die las dra vir die kinders se part, want hoe gaan ons finansieel oorleef. Ek sê altyd, dalk vrees ons meer dit wat ons dink ons moet opgee as dit wat ons gaan wen uit die situasie. 
  • Ons self alewig met ander mense te vergelyk. Daar is twee soorte van die spesifieke minimalisering – The Perils of Comparing Ourselves to Others – òf ons dink ons is beter as ander òf ons sien al ons swakhede. Die punt is, ons is uniek geskape…ons is ANDERS. Dis die hele punt dan nie? Vergelyking steel net jou geluk en dra geen waarde tot enige verhouding by nie!
  • Verskoning te maak vir ons gevoelens. “Ek is jammer my blaas sit mos agter my oë, weet nie hoekom ek so simpel is nie.” Dis alles ok om te ween soos een by die klaagmure van Jerusalem of om uit jou maag te lag sonder skroom. Volgens How Many Different Kinds of Emotion are There se studie het ons meer as 25 verskillende soorte emosies wat ons voel. Hoekom gebruik ons dan so min van hulle? 
  • Te lieg oor wie en wat ons nou eintlik is. Hier praat ek nie van die reeksmoordenaar of psigopaat nie. Ek praat van ons wat voorgee om iets of iemand anders te wees – net sodat ons meer “aanvaarbaar” of “geliefd” kan wees. En meer angswekkend is die feit dat ons baie keer vir onsself lieg. Mense, mense, mense – maak Pandora se boksie oop! En beitel so ‘n bietjie aan die ware jy. Jy sal dalk verbaas wees hoeveel mense tot jou uniekheid aangetrokke is.
  • Ons tyd te mors deur ure en dae se energie aan mense te spandeer wat nie ons waarde sien nie. Die liefde is natuurlik hier ‘n goeie voorbeeld – soveel van ons sal sterf aan die altaar van die ewige romantiese liefde. Soos ‘n waffers Romeo en Juliet…maar hulle is dood en wat was nou eintlik die punt daarvan? 

So laat ons ophou om ons so klein soos die kleinste sandkorreltjie te maak, ons is nie so gering nie. Ons hoef ander ook nie kleiner te maak, net sodat ons groter en meer magtig kan voel nie! #humblepie is nie wat ons nodig het nie

Kom ons leef groot – maak ons plek vol op hierdie aarde en gun elkeen sy plekkie in die son!

Skryf ‘n ou briefie aan my by vryheid@wynvlieg.com of los ‘n boodskap op @wynvliegoorit blad op Facebook

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *