Vir jare der jare sloof ons ons af. Alles in die naam van ‘n suksesvolle loopbaan, die groter huis, die mooi kar, die goeie skole vir ons kinders en om genoegsame spaargeld by mekaar te maak vir eendag.
Want eendag gaan ons daai absolute geluk sone kan binnedring en lank en gelukkig kan lewe. Die spreekwoordelike goud pot aan die einde van die reënboog. #chasingrainbows
Net om al daardie goed in te ryg, op te stapel en dan te besef…dis toe nie hoe geluk lyk nie. Ons bly soekend na die volgende ding wat geluk kan bring, die volgende ding wat ons kan verander of koop….maar daardie geluk bly ons ontwyk. Vir ewig onvergenoegd.
Waarna soek ons so naarstigtelik?
Wat is dit dan met die mens dat ons so sukkel? Wat laat ons altyd na nog, meer en iets anders hunker? Dalk is dit omdat die dopamien skop van daai vars leer in die nuwe kar, ‘n groter huis of erfie by die see kortstondig is en dan soek ons meer en meer. Junkies. #chasingrainbows
Die ding waaraan ons wêreldlinge ly is Hedonic Adaptation. Hierdie hedoniese aanpassing kom basies daarop neer dat ons met groot drif nuwe en ander goed doen, koop, kry – aanhou hol op een plek, maar ons vlak van geluk skuif nie noemenswaardig op die lange duur nie. (Soos op ‘n trapmeul – jy hol en hol en hol, maar kom nêrens uit nie. Aldus Michael Eysenck die mens het ‘n geneigdheid om bitter vinnig, soos ‘n stywe rek terug te spring na ‘n relatief gelyke vlak van geluk(no big shakes), ongeag die intensiteit van gebeure.
Die een oomblik is jy op die wieke van die wind, die nuwe “lewe” wat jy geskep het is “just the shit”, net om nie honderd jaar later weer “right back to square one” te wees nie. Dit geld gelukkig vir aaklige, negatiewe ondervindinge ook.
Dit loop so
~ Sodra ons iets bereik het, verander ons verwagtinge…die bar word gelig, die doelpale word geskuif. (My F Marelize!😜)
~ En dan is ons reg terug by die begin – by ons geluk basislyn. Daai punt wat vasgestel was, so te sê met ons fabriek stelling. Die knoppie kan nie verder vorentoe of agter toe gedraai word nie. Hy loop steek net daar vas!
“One’s happiness set point is determined primarily by heredity and by personality traits ingrained in us early in life and as a result remains relatively constant throughout our lives. Our level of happiness may change transiently in response to life events, but then almost always returns to its baseline level as we habituate to those events and their consequences over time.” Alex Lickerman M.D.,
In plein eenvoudige taal, ons raak bloot gewoond aan die geluk of die hartseer en kort voor lank is ons weer terug by ons vorige, ingeprente vlakke van geluk. #chasingrainbows
Is ons gedoem?
Beteken dit dan dat party mense net met meer geluk in hulle “spaarvarkie” as ander gebore word? Of beteken dit net ons moet eenvoudig ons verwagtinge verlaag en tevrede wees met ‘n lewe van gemiddeldheid? Is hierdie ontwykende ewige geluk waar alles net saamwerk, almal met jou saamstem, jou wederhelf aan jou lippe hang en elke tree saam met jou stap in verwondering, net ‘n pyp droom?
Dit wil voorkom of geluk êrens tussen verwagtinge en realiteit sy lêplek kry. Dus òf jy moet jou verwagtinge van die lewe en ander drasties aanpas, of jy moet jou realiteit so effe verskuif. #chasingrainbows is ‘n moeilike ding
Makliker gesê as gedaan nè?
Want soos ons al in Vol 52: ‘N Gejaag Na Wind gesien het, is daar ‘n vreeslike, naarstigtelike gejaag na geluk in hierdie ou wêreldtjie van ons.
‘n Artikel in 12 Reasons You’re Not As Happy As You Should Be wys vinger. Dis duidelik daar is ‘n paar giftige slange in die gras. Ons kan maar sê verwagtinge wat ons oor die lewe en ander het – en dan kan die realiteit nie kers vas hou daarby nie.
Verwagting vs giftige realiteit 1
As jy in die kring van die klaers vasgevang word – en jy dink die wêreld se verwagting is dat ordentlike mense geduldig na die gekerm sal luister en ‘n simpatieke oor sal leen.
Nee man, sal jy in ‘n piepklein kamertjie bly sit waar die sigaret dampe van ander jou verswelg? Nee, jy sal opstaan en vars lug gaan soek. Kry nou ook koers – staan op en loop weg. Niemand verwag van jou om die geduld van Job te hê nie! Want net soos die realiteit van die beloftes in hierdie advertensie ‘n paar dekades later DUIDELIK nie waar is nie – so is dit ook nie ‘n realiteit dat jy ‘n goeie mens is as jy die bitter dampe van ander se negatiwiteit moet duld nie.

Verwagting vs giftige realiteit 2
Na die afgelope Paasnaweek is sosiale media oortrek van almal se ON.GE.LOOF.LIKE naweek weg. Dis een mooier foto van glimlaggende gesinne – so bietjie van ‘n kompetisies oor wie se lewe lyk die lekkerste, beste en gelukkigste – woed hom uit.
Does Social Media Really Pose A Threat To Young People’s Well-Being het ‘n studie gedoen en gevind dat mense wat ‘n “wegkomkans” van sosiale media aangryp, 50% gelukkiger is as diegene wat die hele tyd toegang daartoe het.
Die giftige slang van realiteit is dat dit wat ons op sosiale media opgedis word, ver van die alledaagse realiteit is. Min gewone mense deel foto’s wat die skadu kant van hulle lewens wys op Facebook. Dis soos ‘n plakboek vir geluk!
Moet dus nie jou geluk meet aan ander se plakboeke nie.
Giftige slang realiteit 3
Die groot blaam kultuur wat so vrylik rondloop. Wanneer jou realiteit, hetsy goed of sleg, altyd voor iemand anders se deur gelê word.
Ons Locus of control bepaal so baie van ons realiteit. En as jy blaam gebruik om jou lewe te definieer, sal jy altyd voel of jy beheer afstaan. Ek ken vele wandelaars wat hierdie ou stokkie van blaam gedissiplineerd saamsleep. Maar glo my vry, ek het nog nie een gesien wat lyk of hulle huppel van geluk nie.
Giftige slang van verwagting 4
Wie van julle het al te doen gekry met dàài tipe wat voel dis hulle plig om ander se lewens te beheer. Eenvoudige voorbeeld – julle gaan weg vir ‘n naweek saam met ‘n groep vriende en daar is altyd, maar altyd een wat IN BEHEER MOET WEES? Een wat besluit wat gedoen moet word, wat geëet moet word, hoe laat almal op gereedheid grondslag moet staan vir die volgende aktiwiteit. O, en neem net ‘n bietjie van daai beheer weg en ta trippel soos ‘n kapok haan op een plek rond.
Die realiteit is, sulke mense straal duidelik ook nie van geluk nie. Die pes van stres of ekseem slaan later korse op hulle uit. Beheer is toe ook nie die brug na geluk nie.

So kom ons neem verwagtinge en realiteit in oënskou
Hier is ‘n paar waarhede vir jou – wat dalk die verwagtinge wat ons van ander en die lewe het so ‘n bietjie in perspektief plaas. Wat die realiteit so klein bietjie meer op die voorgrond skuif.
- Die meeste mense is nie Moeder Theresa nie. Ons is status behep, ydel en meestal maar geneig tot wreedheid van een of ander aard. Ons gun mekaar nie veel nie. En dit is die rede hoekom ons ook so effe skepties moet kyk na ons “drome.” Staan bankvas agter jou eie waardes, wees seker dit word gedryf uit ‘n plek van diepe begeerte en nie om ander ‘n ding of twee te wys of tog net BO uit te kom nie. Dink eerder aan groei as aan wen.
- Pynlike dinge gaan met jou gebeur – dis onafwendbaar, maar lyding is ‘n keuse. Want soos ons weet, al wen jy vandag die lotto, nie lank daarna nie sal jy verveeld wees met jou weelde en die gemak en weer opsoek wees na die volgende ding om jou gelukkig te maak. As ons kies dat die pyn van ‘n verlore verhouding of ‘n werk beteken ons is nie goed genoeg nie, sal ons ly. Maar as ons kies om te glo die ander persoon of daardie spesifieke werksgeleentheid was nie reg vir ons nie, dan is ons vry.
- Die lewe skuld ons niks. Ons wil graag glo dat harde werk sukses sal bring. Maar vra maar enige kind(en ouer) wat ure der ure insit om voor te berei vir ‘n toets, of rondry en duisende rande spandeer om daardie kind se sport talent te ontwikkel. En dan kom die toets en die kind struikel en die punte lyk beroerd, of daai proewe gebeur en die provinsiale span bly ‘n droom. Jy kan jou deel doen – soms werk dit goed uit, ander kere minder goed. Die geheim is om meer kere die goed te kies wat jy glo ‘n beter uitkoms en meer geluk vir jou sal bring. En dan DOEN jy daadwerklik iets daaromtrent. Tyd sal leer.
Die heilige waarheid
Jy kan niks saamvat graf toe nie. Elke liewe dag wat ons lewe is een dag nader aan die ewigheid. Dis ‘n feit soos ‘n koei.
Ons tyd is beperk. Dus wees wys met jou keuses.
Moenie weghardloop van verlies of hartseer nie, want dis jou keuse of jy wil ly of leer daaruit. Kies soms daardie ongelooflike, belaglike duur paar skoene bo ‘n aftrede(maar nie elke maand nie nê!) of staan ‘n uur af aan jou kind of te luister na die wind.

Geluk lê in die doodgewone keuses wat ons elke liewe dag maak. Wees kieskeurig. #chasingrainbows
Laat weet my hoe jou keuses jou geluk beïnvloed by vryheid@wynvlieg.com of los ‘n boodskap op @wynvliegoorit blad op Facebook.