Liewe Wynvlieg,
Ek het grootgeword in ‘n annerlike kerk. Kerk soos in drie keer per week. Nee, g’n kerkgebou of dominee nie. Ma-hulle het gesê innie Bybel in was daar nie ‘n kerk of ‘n dominee nie. Hulle glo dat, soos die dissipels twee-twee uitgegaan het om die evangelie te verkondig, so doen hulle kerk dit ook. Daai manne (en vrouens – nogal ge-emansipeerd!) word “werkers” geroep. #thetruth
Die Sondag-oggend diens word by ons gehou, pa is die ouderling. Hy lei die diens. Almal wat “ ’n begin gemaak het” (stelling vir “Jy’s okay”), neem deel. Hulle lees uit die Bybel en praat ‘n stuk, en bid. Niemand weet waar die “Weg” vandaan kom nie, en jy praat ook nie daaroor nie. Dit was glo nog maar altyd daar, vanuit die Bybel se tyd. Dit is NIE ‘n sekte nie, sê hulle, heel verdedigend. Yeah, right.
Die 60’s… mini-rokke. Ek het mooi bene, ek wil hulle wys. Norrif*k, ek mag nie mini’s dra nie, oki moulose rokke nie. Ek begeer ‘n jean, maar die Bybel sê ‘n vrou mag nie mansklere dra nie. Ek koop skelm ‘n jean. Vertel vir ma ek gaan puzzles bou by Helena se huis. Ek steek die jean weg in die puzzle box. Daai jare was crimpelene mode – niks makliker as om vinnig in die kar ‘n soom in te werk nie en dan met die terugkom, weer uit te pluk nie! #thetruth
Die evangelie-dienste was die ergste, want daar is gewoonlik twee “werkers” wat preek en bid vir ure. Dis vervelig en ons moet baie sing en ook al die versies. Pa sing alt, en ma sing sopraan, hulle stemme bewe en almal sê, o Bettie en Martin harmoniseer so mooi. Ek is skaam daarvoor, want hulle sing voor. Rita, my suster, speel die klavier in die diens, maar sy loop raak op die paal na sy begin werk het – nogal van Johan, wat nog in die skool is. Sy ma-hulle is ook in die “Weg”. Hulle moet trou. Ma huil haar dood, want dis ‘n skande. Maar in die mean time is daar heelwat girls van die “Weg” wat op die paal raak. Sarie en Lidia en Marieta. Daar word skelm van gepraat. En ma huil saam met almal se ma’s. Ook maar lus gewees, die spul.
En dan is daar die konferensies. Elke paasnaweek ruk die hele spul 2x2s op Osona toe, net buitekant Okahandja. Dis ‘n plot met groot sale op. Aparte sale waar die mans en jong seuns slaap, en een vir die vrouens en ons jong meisies. Drie dienste per dag. So sit en check ons niggies (ek het baie niggies) die jong outjies uit. Ek like vir Hendrik. Maar Hendrik het sy hart vir die Here gegee en hy word later ‘n “werker”. What a waste.
Sondag middag na die oggend diens, is dit doop. Dan word almal wat hulle harte aan die Here gegee het en “reg voel” in die sement dammetjie gedoop. Almal staan in ‘n sirkel om die dam en huil. Ou tannie Sannie Hanekom wat in elke diens huil, se snot hang so ‘n lang drel uit haar neus uit. Ons kinders wil ons vrek lag. En dan klim die werkers in die dam met hulle opgerolde moue en die nuweling bekeerdes word in reënjasse en stortkêpse onderdompel. En die mense huil van blydskap omdat daar nog mense gered is.
Na ons troue het ma-hulle gedink Frikkie sal darem ‘n goeie 2×2 uitmaak. Hy is so ‘n goeie man. En hulle wil hom betrek en nooi ons aanmekaar uit om weer evangelie-dienste by te woon. Ek sê nee, die kinders is nog te klein om so lank in ‘n blerrie diens te sit. Ma-hulle sȇ “hoeeeee, die Here gaan daardie verskonings wat julle gebruik om nie die dienste by te woon nie, wegvat”. Die Here gaan my m.a.w. op ‘n kol straf deur my verskonings weg te vat…. my kinders weg te vat. Liesel het al ‘n hart-aanval oorleef, en nou het sy kanker. En Leana en Philip was in ‘n aaklige motorfiets ongeluk en was amper dood. Praat die Here nou met my? Sȇ Hy vir my nou “ja jy wou mos nie luister nie. Kyk nou….”
Helena is ‘n happy clappy. Sy sê nee, die Here werk nie so nie, ek moenie worry nie. Sy het hoeveel keer saam met my na my ma-hulle se dienste toe gegaan. Sy weet wat “Die Weg” van ons geverg het. Sy weet van die vooroordeel, die judgement… #thetruth
Ek is gebrain wash, die 2x2s het my opgef*k. Ek voel wrokkig teenoor hulle en teenoor ma, want sy het my pa oortuig om ook een te word. Na al die jare van leef saam met 2×2’s, is my uitkyk op die wȇreld en van wat om wȇrelds te wees, deurmekaar. Hulle het nooit die nuwe vertaling van die Bybel aanvaar nie – lees en preek nou nog net uit die 1933 Bybel. Glo te veel veranderinge. Maar terselfdertyd sȇ hulle na Jesus se geboorte het die Ou Testament sort of weggeval – ons doen nou wat die Nuwe Testament sȇ. Ek wil vrae vra, maar nee, o nee, jy redeneer nóóit oor godsdiens of die Bybel nie. Dis nog ‘n groter sonde as om buite die huwelik gemeenskap te hȇ, smaak dit my. Jy glo blindelings, soos ‘n kind, sȇ hulle. Jy vra nie vrae nie, jy aanvaar net dit staan in die Bybel en dit is dit.
Pa lȇ op sterwe en die 2×2’s staan rye om te kom groet. My niggie en haar man het pas AGS gedraai. Hulle kom by Pa se kamer in, Leon vra of hy vir Pa kan bid. Ma sȇ agterna : “Reken ‘n bietjie, hier wil húlle vir Pá kom bid!!” So asof ander mense se kerke en gebede nie tel nie. Ek vra haar jare later: “Rita-hulle het die NG gejoin. Wil ma vir my sȇ die gebede wat hulle bid oor hulle f*cked up kinders, tel nie?” Nee, sȇ sy, sy het dít nie gesȇ nie.
Net voor haar dood vra Ma ek moet haar kom haal sodat ons kan gesels oor wat verkeerd is tussen ons. Ek sȇ okay, ek kom tel Ma op en dan gaan sit ons onder die bome en praat – Ma het glads ‘n kos-mandjie gepak. Ek vra vir haar: “Is ma seker Ma wil hoor wat ek te sȇ het, want ek gaan nie doekies omdraai nie?” Sy sȇ ja, ek kan maar laat lees. My eerste stelling aan haar is : “Die Bybel sȇ dis sonde om te oordeel.” Sy sȇ ja. Ek sȇ : “Nou maar dan sȇ ek vir Ma, ek het nog nooit ‘n klomp mense gesien wat so maklik ander mense oordeel soos die klomp 2×2’s nie.” Ma hyg na haar asem…. “Issie waarie! Hoe kan jy dit sȇ!” Ek begin voorbeelde opnoem. Sy ontken, sy keer, sy stik, sy wil nog sȇ: “Ja maar..,” maar ek praat. Ek spoeg vuur. “Ma se eie kind het op die paal geraak, hoeveel van die ander girls het op die paal geraak, maar Ma praat met oordeel van “die wȇreld se mense” wie se kinders wat so rondslaap.” Ma stry.
Ek noem van Leon wat vir Pa wou bid. Sy stry. Ek noem van Rinus, my broer, se eks-vrou wat rond geslaap het – hoer! Maar in die mean time het hy haar al op hulle honeymoon begin verneuk. Ma stry. Ek raak die kwessie aan dat sy gesȇ die Here sal mense wat verskonings om nie dienste by te woon nie, se “verskonings” sal kom weg vat. Ek vertel haar wat dit aan my gedoen het. Sy stry. Sy kan dit regtig nie onthou nie.
Ek besef ek is bitter, ek is opstandig en rebels. En dis hoekom ek is soos ek is. Maar nogtans like ek myself, want ek is ten minste f*kken eerlik. #thetruth
Groete
Gerda
Xxxx
Ps dankie vir die oor!
Gerda
Ongelooflike eerlike vertelling.
Well done!
Ek stem! Dis waarvoor hierdie platform bestaan. Dat ons eerlik kan wees!
I love that you have published this, Gerda, Straight, hard-hitting with no frills and bows. Every step of your life has made you the woman you are, the person I love stukkend. Well done!
I so agree with you. Growth in the journey!
True story. Luv dit!
Bly!!