Soos julle weet, of dalk nie het ek @wynvlieg en sy trawante meer as 300 dae gelede gegroet. Ons sien mekaar soms in die verbygaan, maar ons knik net ordentlik in mekaar se rigting en dan wandel ons weer op ons eis.
Maar waar ek hulle wel in volle glorie aanskou is by ‘n “gesellige” braai saam met vriende of familie, ‘n verjaarsdagete of sommer net ‘n lekker kuier of ‘n “drinks by ons.” Nou ek het lank gewik en geweeg of ek hierdie moet neerpen, want prekerig of veroordelende wil ek verseker nie wees nie. Dis regtig elkeen vir homself – maar toe dog ek dalk is ek dit verskuldig aan die wêreld😆 om ‘n bietjie van ‘n spieël voor hulle te skuif. Want as die span eers begin trek, dan is daar geen keer nie en as jy gelukkig is neem niemand iets af wat die volgende dag die kuberruimte in gestuur kan word nie.
So hier gaat ons – en as jy van die liggeraakte soort is of nie in die spieël wil kyk nie, asb hou onmiddellik op met lees! #lettheshenanigansbegin
Sien die ding is mense voer verskillende redes aan hoekom die glase vol gehou moet word, of die bier botteltjies se doppies moet vlieg…knak ‘n bier, skink ‘n glasie, skiet ‘n prop…aksie op elke vlak. 9 Reasons People Drink
Dit laat my ontspan
Dit laat mense verseker ontspan, glo my vry. So ‘n paar ure in is menige se tonge heel ontspanne, so ontspanne dat dit effe sleep. Tong kan nie meer lekker voete optel nie.
Ander se ogies begin so klein trek en die stories raak vreeslik lank en onsamehangend. Soveel so dat die wat nog nugter is effe sukkel om agter die kap van die byl te kom! #lettheshenanigansbegin
Dit haal die “edge” af
O, dit gebeur so waar as wat padda manel dra. Die vernis kom heel af en diegene wat al lank ‘n effense wrok koester is dan sommer braaf verby. Die waarhede, of dit nou seermaak of nie, word soos bliksemstrale rond gepiets. Gelukkig vir hulle is die meeste partydjiegangers ook goed getrek teen daai tyd en die geheues die volgende oggend effe vaag! #lettheshenanigansbegin
En êrens langs die pad breek die volume knoppie ook! En almal raak meesters in die veld van redenasies. Of daai gif appeltjie kom uit en hy byt!
Maar die vernis kom sommer heel af. En van ‘n wag voor die mond is daar geen sprake nie.
Ek kry nie ‘n babelas nie
Seker laas toe jy 20 was ja meneer, maar daai stront glo ek nie. Het jy al ooit vir langer as ‘n maand geen alkohol ingeneem nie?? Wel indien jy het sou jy weet twee bottels rooiwyn ‘n aand, voorafgegaan met ‘n koue bier of twee HET ‘N EFFEK. Dalk was jy net nog nooit lank genoeg sonder die effekte van alkohol in jou bloedstroom nie. So vertel my: “hoe is jy in elk geval so seker jy het ‘geen babelas’…as jy dan kwansuis nog nooit een gehad het nie?”
Dis pret! #lettheshenanigansbegin
Vir bleddie seker is dit pret! Want die etanol gee vir jou ‘n genoegsame skop elke 20 minute as jy onverpoos bly volmaak. Maar weet jy hoeveel pret is dit vir die ander mense om te sien hoe jy al meer en meer soos ‘n nar raak? Of later effe rondval en glase breek teen die spoed van wit lig.
Hierdie was ‘n juweel – ek word nou die dag gevra: “As jy nie drink nie, hoekom begin jy nie ten minste dagga gebruik nie.” Nou ja, daai is nou ‘n goeie vraag. Die persoon was erg besorg oor my saai lewe duidelik! En dit terwyl ek wonder hoe op aarde persoon X dit tot by die huis gaan maak.
Dit smaak lekker
Kyk dit doen, ek kan nou nog liries raak oor ‘n uitmuntende glas wyn. Gelukkig kan ek mos proe en spoeg, so ek kan dit regtig waardeer. En ‘n koue bier op ‘n warm dag of na ‘n lang, uitputtend wedloop is ‘n wenner.
Maar as ek die soveelste glas soos water in mense se kele sien afgaan of om elke hoek en draai moet daar iets geskink word(en hier praat ek nie van mense wat klinies afhanklik is nie, ek praat van sovele huishoudings en vriendekringe waarvan ons deel is.) As ek die soveelste glas Sauvignon Blanc in iemand se keelgat af sien verdwyn…weet ek uit goeie ondervinding – proe niemand meer die groen of tropiese karakter nie.
Ek word nou die dag gevra – “hoekom drink jy nie net een of twee glase nie?” En my antwoord: “Hoeveel mense ken jy wat stop by een of twee glase?”
Die druk
Probeer om vir ‘n rukkie sonder die voggies te gaan – dis net eenvoudig ongelooflik hoeveel mense jou probeer oorreed om tog wel te drink. Dis asof dit ‘n lewensaar geraak het vir ons samelewing en ongeag die legio gesondheidsvoordele van iets soos ‘n maand sonder die bottel, Here’s What Happens to Your Body When You Cut Out Alcohol for 30 Days, sal mense dit as hulle plig beskou om jou te red van ‘n lewe “sonder fut.” ! #lettheshenanigansbegin
Vermoedelik is dit omdat die “nie-drinkers” ‘n lig skyn op hulle gewoontes en iets wat hulle dalk so effe bekommer. Maar heelaas, los maar elkeen om sy eie keuses in die lewe te maak…dit klink effe desperaat as jy iemand anders so hard moet probeer oortuig om iets te drink wat dalk hulle lewer ‘n knou kan gee, hulle bloeddruk deur die dak kan jaag, sewe soorte kankers kan aanwakker, daai knaende rolletjies kan laat vasklou soos k*&k aan ‘n wolkombers en hulle breine soos ‘n sif laat lyk.
So as jy dalk net dalk, al lank wonder hoe gaan jy enigsins een maand, of dalk langer sonder jou geliefde glas Sauvignon Blanc dit maak – hier is ‘n paar wenke Sober Fun – 10 ways to make it work…
Want glo my soms kan ‘n aand laaaaaaank raak as jy in die geselskap van ‘n klompie aangeklamde makkers is. Maar dis ook groot pret om te sien hoe dinge afdraand gaan!
Drink verantwoordelik. Skink ‘n glas van jou gunsteling wyn, brandewyn, sider of ‘n koue bier. Geniet hom as dit jou ding is. Maar oorweeg dalk om bietjie vroeër te stop? Annie Grace doen as deel van haar The Alcohol Experiment: Expanded Edition: A 30-Day, Alcohol-Free Challenge To Interrupt Your Habits and Help You Take Control Annie Grace program, presies dit – ‘n eksperiment. Sy sit in ‘n kamer, voor ‘n kamera wat rol en drink ‘n bottel wyn op haar eis uit. Dan hou sy haarself dop…dis nie ‘n mooi prentjie nie, glo my.
Ek hoop dit was darem ‘n bietjie pret ook om hierdie te lees. En dat jy die nektar van die gode sal teug.
Cheers!
As jy dalk bietjie meer wil weet oor ‘n gier wat soos ‘n veldbrand versprei skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of los ‘n boodskap op @wynvliegoorit blad op Facebook.