“It’s the first time I see that we have a choice: to pay attention to what we’ve lost or to pay attention to what we still have.”
‘n Uittreksel uit die boek La bailarina de Auschwitz deur Edith Egar. Sy het die uitwissing van die Jode gedurende die 2de wêreld oorlog oorleef. (Hierdie is ‘n boek wat jy MOET lees.)
In kort handel haar boek oor die keuses wat ons in die lewe het. Die eenvoudige keuse om ons lewens as slagoffers of oorwinnaars te leef. #amiavictim?
Slagoffer of selfbejammering
Ieder en ‘n elk van ons het ons skeut pyn agter die rug. Jy kom nie deur hierdie lewe sonder dat jy êrens jouself bitter jammer gekry het nie. Daar is natuurlik diegene onder ons wat ongelooflike trauma beleef het, soos Edith. Jy bly nie in hierdie land (Traumatic Stress in South Africa) en het nog nie met een of ander traumatiese ervaring te doen gehad nie. Dis al so deel van ons psige.
Ons koerante, Media24 berigte en TV nuus-kanale loop oor van ondenkbaar, onmenslike dinge wat met ons nasie gebeur. Slegte dinge gebeur met mense, daar is dinge waaroor slagoffers van geweld geen beheer gehad het nie. En dis net eenvoudig ondenkbaar dat mense sulke dinge aan mekaar kan doen.
En dan is dit natuurlik ook heel normaal om soms te voel of jy beheer verloor het – soos tydens ‘n egskeiding of as jy jou werk verloor tydens Covid. Dan kry ons, onsself jammer…want daar is rede genoeg. #amiavictim?
En dan is daar die wat kies om soos ‘n slagoffer te voel.

Weet jy wat jy doen?
Ons maak daagliks duisende der duisende besluite….sommige is ons deeglik bewus van. Ons oorweeg, wik-en-weeg en dan maak ons daardie besluit. Ander gebeur sonder dat ons eers bewus is daarvan – soos byvoorbeeld om van punt A na B te bestuur(al ooit gewonder, hoe de hel het ek van die huis tot hier gekom? Die onderbewussyn het oorgeneem.)
En om ‘n besluit te maak, beteken natuurlik ons het nog keuses. En volgens The Bottom Line – What Drives Our Decisions word ons keuses ten diepste beïnvloed deur ons waarde sisteem. En die geneuk is natuurlik dat ons waardes nie altyd so suiwer is nie. Daar is ook maar baie vrot kolle daar.
Sielsgesonde mense besef dat meeste dinge in ons lewens toegeskryf kan word aan hierdie keuses wat ons maak. En dat ons dus ook die mag in eie hande kan neem en die bootjie in ‘n ander rigting stuur – sou ons wou.
Dis waar die uitdrukking – die lewe skuld jou niks – sekerlik sy oorsprong gekry het, dan nie?

Die ewige slagoffer #amiavictim?
Al ooit diegene teëgekom wat die ewige slagoffer is? Daar is altyd iemand anders te blameer vir hulle omstandighede, daar is altyd iets buite hulle beheer, daar is altyd iets…net iets wat verhoed dat hulle gelukkig kan wees, dat hulle kan LEEF?
Hoekom – want om ‘n slagoffer te wees het vele, vele voordele natuurlik. Soos die Ingelse sê: It has its perks!
Die ewige slagoffer ~
- Hoef nooit verantwoordelikheid vir hulleself te neem nie
- Het die “reg” om te kla en blameer (guilt trip gewoonlik iemand anders op ‘n skouspelagtige wyse!)
- Ander mense voel jammer vir hulle en hulle kry aandag
- Mense is geneig om hulle eerder nie te kritiseer nie, want dalk val hulle uitmekaar
- Ander sal voel hulle MOET net help of sal doen net wat die slagoffers se harte begeer
- Hulle kan al die “kattestrofiese” stories oorvertel en mense hang aan hulle lippe
- Dit skep ‘n majestueuse hoeveelheid drama in hulle lewens
- Hulle kan woede heel vryspring, want hulle is te besig om heeldag en aldag hartseer en “af” te voel
(Dis seker nou reeds duidelik dat ek nie goed doen met ‘n slagoffer mentaliteit nie – maar nou is ek darem ook nie Moeder Theresa nie….ek is darem ook soms vreeslik baie van ‘n slagoffer! Jannie-jammerkak noem ek dit sommer!)
Wat my dwars in die krop steek
Is dat die ewige slagoffer, op ‘n vreeslike verwoestende en negatiewe manier, eintlik maar net aandag soek, gewaardeer en magtig wil voel. Dis menslik natuurlik, maar waarom tog so agterbaks wees? #amiavictim?

Maar voor ek nou myself in een ou kampie sit en die ewige slagoffer uitlewer, kom ons vee gou voor ons eie deure. Die Unraveling the Mindset of Victimhood het vyf vrae opgestel om vas te stel of daar ‘n “slagoffer mentaliteit” êrens skuil. Dus op ‘n skaal van 1 – 5 gradeer gou hoe jy oor die stellings voel. 1(dis nou soos in glad nie ek nie) en 5(o la, dis nou net ek daai!)
- Dis vir my belangrik dat iemand wat my seergemaak het, erken hulle het my te na gekom.
- Ek dink ek is baie meer sensitief vir ander se gevoelens en wandel op goeie morele grond, as wat hulle doen.
- As mense na aan my te na gekom voel oor iets wat ek gesê of gedoen het, is dit belangrik vir my om te verduidelik dat my optrede eintlik geregverdig kan word.
- Dis moeilik vir my om ou koeie in die sloot te los – as ander my ingedoen het bly dit my by.
O aarde en daar begin ek toe lelik uit die bus val. Ook maar taamlik kakkerig as die waarheid hom so aan jou kom ontbloot nè! Hoe het jy gevaar? As jy ‘n 4 uit 5 vir meeste van hierdie stellings op die skaal gehaal het(onthou eerlikheid is die pad na die groot waarheid!) – dan my vriend en vriendin, lei jy dalk aan ‘n “neiging om ‘n interpersoonlike slagoffer” te speel. Lees die volle tesis hier by : The Tendency for Interpersonal Victimhood: The Personality Construct and its Consequences
Dis ‘n super power
Om die ewige slagoffer te wees, beteken jy kan met ‘n lang gesig en hangende skouers mense om jou manipuleer om te doen PRESIES WAT JY WIL HÊ. Sonder dat jy ‘n vinger hoef te lig, dans hulle na jou pype.
Maar die meer donker kant hiervan kan ook gestalte vind in die What is Codependency? Are We ALL Codependent Sometimes verhoudings waar die lewensmaat van ‘n verslaafde soos die slagoffer voel en optree, in plaas daarvan om weg te stap en hulle eie positiewe keuses te maak. En dan natuurlik die klassieke aanrander – vele kere sal die boelie hulle slagoffer oorreed dat hulle eintlik die werklike slagoffer is, die arme een wat net knak en houe uitdeel omdat die “werklike slagoffer” iets verkeerds gedoen het. #amiavictim?
Maar hoekom?
Soos met alles in die lewe doen mense iets omdat daar ‘n beloning van een of ander aard aan die einde wag. So hoekom wil mense “slagoffers” wees? Want inherent behoort dit iets te wees wat ons soos die pes vermy!
Dis ‘n mentaliteit en nie ‘n werklikheid nie. Edith Egar en soveel ander mense in hierdie wêreld is regte slagoffers, van die allervreeslikste dinge wat aan hulle gedoen is. Soos Dr Emmanuel Taban in sy boek The Boy Who Never Gave Up: A Refugee’s Epic Journey to Triumph Emmanuel Taban dit so goed stel ~ hy was nooit bang vir die wilde diere op sy tog van Sudan na Suid-Afrika nie. Hy was bang vir die verskriklike goed wat een mens aan ‘n ander kan doen.
“Like most behavioural patterns, a victim mentality is a learned behaviour that can be traced back to childhood.” Sheri Jackson, 26 April 2016. The Harley Theraphy Counselling Blog
En hier is hoe dit alles gebeur – kies een wat jou pas!
- Jy doen net wat die grootmense rondom jou gedoen het – monkey see, monkey do!
As jou ouers altyd iemand anders blameer het vir hulle omstandighede – of mekaar, dan sou jy as klein ou sponsie gesien het hoe effektief hierdie metode is om ‘n mate van “beheer en mag” te hê en natuurlik aandag te kry.
- Jy het dalk ‘n “interafhanklike verhouding” met een van jou ouers gehad.
Dalk het jy van ‘n jong ouderdom al verantwoordelik gevoel vir een van jou ouers se welstand. Hetsy omdat hulle fisies of geestelik siek was, of sommer net omdat hulle jou verantwoordelik laat voel het vir hulle geluk. Jy is belaai met verantwoordelikhede wat jou glad nie op so ‘n jong ouderdom moes toegekom het nie. Of die een ouer het hulle lot oor hulle verhouding met die ander by jou bekla.
- Dit was die enigste manier om jou kinderjare te “oorleef”
Dalk is liefde nie mildelik en sonder voorbehoud uitgedeel nie. En gou-gou het jy agtergekom om altyd siek te wees, of as die swakkeling gesien te word, kon vir jou aandag verseker.
- Jy is mishandel
Die tragiese waarheid is dat daar ook mense is wat een of ander vorm van mishandeling beleef het. Hetsy seksueel of geestelik. Die wêreld raak ‘n gevaarlike plek en almal moet as die “vyand” beskou word…vir die res van jou lewe.
Die goeie nuus
Die goeie nuus is dat hierdie aangeleerde gedrag is. Met ander woorde dit kan weer AFGELEER word as ‘n mens graag wou.
Maar dan moet jy natuurlik bereid wees om al die kwaad, skuldgevoelens, skande en hartseer te gaan uitgrawe, ophang om uit te droog en besluit om ‘n oorwinnaar te wees.
Ek sluit af met Edith Egar ~
Maybe every life is a study of the things we don’t have but wish we did, and the things we have but wish we didn’t. It took me many decades to discover that I could come at my life with a different question: Not: Why did I live? But: What is mine to do with the life I’ve been given?

Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of los ‘n boodskap op @wynvliegoorit blad op Facebook.
Pingback: #canyouhearmemajortom | Vol 70: Hoor jy my? | Wynvlieg