Die lesse in die lewe is ontelbaar regtig. Van die dag wat ons daai eerste keer ons hand teen ‘n warm vlam hou en besef – nee hel bly weg! Tot die groot lewenslesse wat ons leer so langs die pad…oor die liefde, die lewe, sukses en terugslae. Sommige leer ons uit dure ondervinding en ander weer deur net die wêreld om ons dop te hou. #liveandlearn.
En natuurlik soos die skrywer in 10 Important Life Lessons We Are Often Taught Too Late tereg sê, is daar sommige wat ons effe te laat leer. Ek dog toe, (en julle weet wat met DOG gebeur het😜!) dalk kan ons ‘n paar lewenslesse met mekaar deel.
En omdat ek so ongelooflik mededeelsaam is en natuurlik ook al meer lesse geleer het as wat ek graag wou – sal ek die voortou neem. Voel natuurlik vry om vir my julle insigte te stuur na vryheid@wynvlieg.com of los ‘n boodskap op @wynvliegoorit blad op Facebook.
Kap jou eie paadjie oop
So baie mense is besig om hulle ouers of iemand anders se drome uit te leef. En gaan kyk maar mooi na die laerskool kinders se buitemuurse aktiwiteite – en dan vra jy vir mamma of pappa bietjie uit. Male sonder tal doen boetie of sussies wat die ouers gedoen het, of graag sou wou doen.
Ek het darem self my ene vir gimnastiek lesse gevat (die talent was daar, maar die wil nie regtig nie.) En hoekom het ek my Saterdae omgesukkel met ‘n kind wat in die kar skop en skree omdat hy dit nie WIL DOEN NIE? Wel, want dit was my droom. Hy is geneem vir perdry lesse, vir musieklesse – alles dinge wat hy wel kon doen en sommige beter as ek. Maar sy hart was nie daarin nie.
So ons kan onsself maar hoog heilig hou, baie keer is nie net ons nie, maar ook ons kinders die verlengstuk van iemand anders se drome.
Your time is limited, so don’t waste it living someone else’s life. Don’t be trapped by dogma — which is living with the results of other people’s thinking. Don’t let the noise of others’ opinions drown out your own inner voice. And most important, have the courage to follow your heart and intuition. They somehow already know what you truly want to become. Everything else is secondary.“ – Steve Jobs
So as jy besig is om iemand anders se lewe te lei – STOP! Gryp die geleentheid aan om jou lewe weer terug te vat. En elke keer wat jy jou kind iets aanbeveel of inskryf voor, wees maar bedag op die begeertes en onvervulde drome wat jy dalk koester. #liveandlearn
Moet nooit opgee nie
“A lot of people, they see you run and they say, “aaah it looks so easy, looks effortless”. But before it gets to that point, it’s hard; it’s hard work. It’s day-in, day-out sacrifice.” Usain Bolt
Ons ouers het dit vir ons gesê. En nou is ek doodseker ons herhaal dit woord-vir-woord aan ons kinders. NIKS IN DIE LEWE WAT DIE MOEITE WERD IS, kom maklik nie.
Want as alles net maklik was, sou ons sekerlik nooit die lekker in die lewe waardeer het nie. En niemand gaan jou lewe namens jou lewe nie. Party van ons probeer ons uiterse bes om dit wel vir ons kinders te doen, maar heel laas daai storie werk ook gewoonlik nie so lekker uit nie!
Val af, staan op, skud die stof af en probeer weer. Elke liewe dag, dis harde werk om die goed in die lewe te ervaar. Want soos die skrywer in hierdie blog Hard Work Pays Off sê, harde werk beteken nie jy gaan suksesvol wees nie. Maar om suksesvol te wees in ENIGE IETS, moet jy ongelukkig hard werk. #liveandlearn
Jy kan nie gesondheid koop nie
‘n Vreeslike gewilde self regverdigende opmerking wat ek al telke male by rokers of groot drinkers of eters of bankleërs al gehoor het:
“Jy weet, Oom Piet(wat nou al diep in die tagtigs trek) het elke liewe dag vandat hy jonk is, 20 sigarette gerook, ‘n bottel rooi wyn ‘n dag met sy broer uitgedrink en doen nie ‘n dag se oefening nie. En kyk hoe gesond is hy nog.”
Ja oom Piet is seker een uit ‘n miljoen. Net so is daar duisende voorbeelde van mense wat toe NIE so gelukkig is nie. Hulle sê mos Memory — New Research Reveals Cells Have It, Too en hulle onthou hoe jy hulle mishandel het.

So begin vroeg dag al na jou gesondheid kyk – want spyt kom mos maar gewoonlik te laat. #liveandlearn
Die lewe is kort
Ai as mens jonk is dink jy mos die lewe lê nog voor jou, jy is onaantasbaar en tyd is al wat jy het.
Maar nou kyk ek rond. Soveel mense wie se lewens paadjies eindig net hier duskant my huidige ouderdom. Mense wat siek raak, mense wat lewensmaats verloor. Of sommer net ‘n doel in die lewe. En die besef is nou meer as ooit – die lewe is kort. Mens moet elke dag bestek opname neem – elke dag herevalueer wat vir jou belangrik is, waaraan jy jou kosbare tyd moet bestee.
Ek sê nie ons moet elke dag sug en in ‘n depressie val omdat die jare so vinnig verbysnel nie. Of ons gesigte so vol goed pomp net om jonk te lyk nie…maar kom ons wees bewus en maak ‘n keuse om net versadig en geluksalig te probeer wees in elke ding wat ons doen.
En los maar die: “Kan jy glo dis alweer Mei? Waar het die tyd heen gegaan?” Ons almal weet dit, daar is niks wat mens daaraan kan doen behalwe LEWE nie. En wees dankbaar jy is een van die bevoorregtes om ‘n rype ouderdom te kan behaal en geliefdes rondom jou te hê! #liveandlearn

Twee kar perde is beter as een
Vroeg in my lewe het ek geleer – dis elkeen vir homself. Dit het my vreesloos gemaak in my strewe om onafhanklik te wees. Ek het besef dat net ek alleen ‘n verskil aan my lewe kan maak. Maar die snykant hiervan is natuurlik dat mens uit mis op al die wonderlike gedeelde ervarings.
Eintlik hou ek van span dinge – van gedeelte sukses en gedeelte doelwitte wat bereik raak. Daar is soveel meer vreugde daarin om dinge saam met mense te doen, hetsy nou by die werk of in mens se verhoudings. Dit skep ‘n gevoel van behoort, dit maak die geluk en die terugslae soveel makliker om te hanteer of uitbundig te vier. #liveandlearn
Trek gerus daai mense laer om jou, dis warmer in die winter so!
Geluk bestaan uit 10% kanse en 90% gryp
Die geluksgodin glimlag vir almal van ons op een of ander stadium in ons lewens. Alhoewel dit vir party van ons voel of sy van ons vergeet het.
Ek was een van daardie “gelukkiges” in my loopbaan. Ek het twee of drie wonderlike base gehad, wat in my geglo het, my kanse gegun het en eintlik deure vir my oopgemaak het. So in daardie opsig was dit pure geluk – MAAR wat ek met hierdie geleenthede gedoen het, is waar die verskil ingekom het(wel dis ieg wat ek myself wysmaak.) Ek was entoesiasties, lojaal, hardwerkend en altyd gereed om uit te help. So ek het die kans met albei hande aangegryp. (Dis nou die preek wat ek my kind afsteek as daar gekerm raak oor die toekoms😄)
Nou ja, you win some, you loose some – want op ander gebiede van my lewe het die geluksgodin dalk ook klomp geluk in my rigting gegooi, maar ek was dalk net te behep met die leegtes binne my om die kanse aan te gryp.
Wees wakker suster en broer, wees wakker! #liveandlearn
SHTTSP (Sh*t happens, this too shall pass)
Hierdie is my lewens motto – bollie gaan gebeur in die lewe, maar alles het ‘n rak leeftyd. Of dit nou goed of sleg is, dinge gaan gebeur – maar niks hou vir ewig nie. #liveandlearn
Hierdie lewensles het my al deur soveel swaar tye in my lewe gedra. Dit het my die versekering gegee dat tyd regtig alles heelmaak, dat wat ook al soos ‘n swaar las op mens se skouers rus, êrens weer sal verbygaan. Dat voor jy jou oë uitvee is dit verby. Dit het so gewerk met my kind wat koliek gehad het, met ‘n egskeiding, teleurstellings, beserings…alles het weer verander…die son het altyd weer geskyn. Maar net so herinner ek myself in die oomblikke wat dit goed gaan – slurp hierdie op, want geluk gaan ook nie vir altyd hou nie. Alles is vlietend in die lewe, maak die beste van alles wat soos vuilis teen jou vaswaai.
Jou persoonlike geskiedenis
As daar nie geraamtes in jou kas is waarvoor jy jou dood skaam nie – hetsy groot en skrikwekkend of net een van daai wat jou van verleentheid agter die naaste bos of kas wil laat inspring – dan het jy nog nie gelewe nie.

Want as jy nie iets het om van te leer nie, foute, blapse en net vreeslike dom besluite, dan het jy êrens vasgehaak! En dit is nooit, ooit ‘n goeie ding nie! #liveandlearn
Gun elkeen ‘n plekkie in die son
Weet glad nie waar ek hieraan kom nie, maar ek het ‘n self opgelegde joppie. Ek het mos die ding waar ek almal wil reghelp, tog net op die regte pad kry jy weet. Deel soms my raad heeltemal ongevraagd uit – maar ek kan myself net nie help nie.
So toe het ek nou ‘n nuwe rigting ingeslaan – mind you, ek probeer! Die idee is nou om die wat regtig my raad wil hê, die geleentheid te gun om uit vrye wil na my te kom en daarvoor te vra. Want jy weet, dit spaar my die frustrasie van mense wat NET NIE WIL HOOR NIE🤣 en dan natuurlik ook die irritasie van diè wat regtig nie belangstel in my wyshede nie.
So as jy ook hiermee sukkel – probeer maar die frase: “Wil jy graag my raad hê?” As die antwoord nee is, los hulle uit! #liveandlearn
Alle dade het gevolge
Ek weet nie, maar dit wil my voorkom asof ons al meer dink ons is een of ander almagtige. En seker ook te verstane in die land waar wet en orde net relevant is in die wetboeke en nie so lekker toegepas raak nie. Plak bo-op dit ‘n hele wêreld gemeenskap wat hulle opinies vrylik en meestal ongegrond en oningelig kan deel met alles wat leef en beef.
En ons sit met die gebakte pere – mense dink daar is geen gevolge vir hulle dade of woorde nie. Dom is ons darem ook nie – want ons weet hoe swaartekrag werk, wat opgaan sal weer vinnig afkom!
So kies jou woorde noukeurig, dink voor jy doen – want woorde kan seermaak en ‘n ondeurdagte plan kan soms op ‘n ongewensde plek uitkom! #live and learn
Onthou om my te laat weet watter lesse jy al geleer het!